hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6 Bybel vir Almal (ABA)

Die Lam breek die eerste vier seëls

1. Ek het gesien die Lam breek een van die sewe seëls van die boekrol. Toe hoor ek een van die vier diere skree, hy het so hard soos donderweer geskree. Hy het gesê: “Jy moet kom!”

2. En toe ek kyk, sien ek daar kom ’n wit perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het ’n pyl en boog gehad, en God het vir hom ’n lourier-krans gegee. Die persoon op die perd het altyd sy vyande oorwin, en hy het gekom om te oorwin.

3. Toe die Lam die tweede seël breek, het ek gehoor die tweede dier skree: “Jy moet kom!”

4. En toe kom daar ’n ander perd, ’n bloedrooi perd! Iemand het op die perd gesit. God het vir hom gesê hy mag die vrede van die mense op die aarde wegneem sodat hulle mekaar sal doodmaak. God het vir hom ’n groot swaard gegee.

5. Toe die Lam die derde seël breek, het ek gehoor die derde dier skree: “Jy moet kom!”Ek het gekyk en toe sien ek daar kom ’n swart perd! Iemand het op die perd gesit. Hy het ’n weegskaal in sy hand gehad.

6. Ek het gehoor Iemand praat. Hy was tussen die vier diere. Hy het gesê: “Iemand sal vir een goiniks koring of vir drie goiniks gars een silwer geldstuk moet betaal. En julle moet versigtig wees, moenie die olyf-olie en die wyn mors nie.”

7. En toe die Lam die vierde seël oopmaak, het ek gehoor die vierde dier skree: “Jy moet kom!”

8. Ek het gekyk en toe sien ek ’n vaal-groen perd kom! Iemand het op die perd gesit. Sy naam was Dood. Die doderyk het saam met hom gegaan. God het vir Dood en vir die doderyk gesê hulle mag ’n kwart van al die mense op die aarde doodmaak met oorloë en honger en pes en wilde diere.

Die Lam maak die vyfde seël oop

9. Toe die Lam die vyfde seël van die boekrol breek, het ek die gelowiges gesien wat dood is, hulle was onder die altaar in die hemel. Die mense het daardie gelowiges doodgemaak omdat hulle geglo het wat God sê en omdat hulle vir ander mense vertel het wat hulle glo.

10. Die gelowiges het hard geskree en gevra: “Here, U wat heilig is en wat altyd dieselfde bly, hoe lank sal dit nog wees voordat U die mense op die aarde sal oordeel en hulle sal straf omdat hulle ons doodgemaak het?”

11. Toe het God vir hulle elkeen wit klere gegee. En Hy het vir hulle gesê hulle moet ’n kort tydjie wag, want die mense sal nog ander dienaars van God ook doodmaak. Hulle moet wag totdat daardie ander gelowiges ook almal dood is.

Die Lam maak die sesde seël oop

12. Toe die Lam die sesde seël van die boekrol breek, sien ek daar is ’n groot aardbewing. Die son het donker geword, soos swart rouklere, en die maan het rooi geword soos bloed.

13. Die sterre in die lug het op die aarde geval. Dit het gelyk soos wanneer ’n sterk wind ’n vyeboom skud en die vye wat nog nie ryp is nie, op die grond val.

14. Die lug het verdwyn, soos wanneer iemand ’n boekrol toerol. Elke berg en eiland het verdwyn, hulle was weg.

15. Die konings van die aarde, die belangrike mense, die generaals, die ryk mense, die mense wat oor ander mense regeer, die slawe en die mense wat nie slawe is nie, hulle almal het gaan wegkruip in grotte en tussen die rotse op die berge.

16. Hulle het vir die berge en rotse gesê: “Julle moet op ons val, julle moet ons toemaak! Ons wil nie hê dat God ons moet sien nie, God wat op die troon sit. Ons wil nie hê dat die Lam ons moet straf nie!

17. Want die tyd is nou hier wanneer Hulle ons sal straf, en ons sal nie aanhou lewe nie!”