hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 17 Bybel vir Almal (ABA)

Die groot prostituut

1. Een van die sewe engele het na my toe gekom. Dit was een van die sewe engele wat die straf van God in die sewe bakke gebring het. Die engel het vir my gesê: “Jy moet saam met my kom! Ek sal vir jou wys hoe God die groot prostituut sal oordeel, die prostituut wat sit by die plek waar daar baie water is.

2. Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met haar. Ja, die mense van die aarde het onsedelik gelewe met haar. Dit was baie lekker vir hulle, sy was soos wyn wat mense dronk maak.”

3. Die Gees het in my gekom en die engel het my na die woestyn geneem. En ek het ’n vrou gesien wat sit op ’n dier wat baie rooi was. Daar was name geskryf op die dier, name wat vir God gelaster het. Die dier het sewe koppe en tien horings gehad.

4. Die vrou het klere gehad wat pers en baie rooi was. Sy het baie goud en juwele en pêrels gedra. In haar hand was ’n goue beker. Die goue beker was vol slegte en onrein dinge, dit was vol onsedelike dinge.

5. Op haar voorkop was daar ’n naam geskryf wat niemand verstaan het nie. Daar was geskryf: “Groot Babilon, die ma van al die prostitute, die ma van al die slegte dinge wat op die aarde is.”

6. Ek het gesien dat die vrou dronk is, want sy het die bloed gedrink van die mense wat aan God behoort, die mense wat gesterf het omdat hulle in Jesus glo. Ek was baie verbaas toe ek die vrou sien.

7. Maar die engel het vir my gesê: “Hoekom is jy verbaas? Ek sal vir jou vertel wat beteken die vrou en die dier wat haar dra, die dier wat sewe koppe en tien horings het.

8. Jy het ’n dier gesien. Hy het voorheen gelewe en hy lewe nie nou nie, maar hy sal uitkom uit die onderwêreld, en dan sal God hom doodmaak. Al die mense op die aarde sal baie verbaas wees wanneer hulle die dier sien, want die dier het voorheen gelewe, hy lewe nie nou nie, maar hy sal weer lewe. Wie sal verbaas wees oor die dier? Dit is die mense wie se name nie geskryf is in die boek van die lewe nie. God het party mense se name in die boek van die lewe geskryf voordat Hy die wêreld gemaak het.

9. “Nou moet ’n mens goed dink en slim wees: Die sewe koppe is die sewe berge waar die vrou sit. Hulle is ook sewe konings.

10. Vyf konings is klaar dood. Die sesde koning regeer nou. Die sewende koning sal nog kom, maar hy moet net ’n kort tydjie regeer.

11. Die dier wat voorheen gelewe het en wat nie nou lewe nie, is die agste koning, maar hy is ook een van die eerste sewe konings. God sal hom doodmaak.

12. “Jy het tien horings gesien. Dit is tien konings. Hulle het nog nie begin regeer nie. Hulle sal mense kry om oor te regeer, maar hulle sal net een uur lank regeer. Hulle sal saam met die dier regeer.

13. Hulle dink almal dieselfde en hulle doen alles wat hulle kan om die dier te help.

14. Hulle sal oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle oorwin, want die Lam is die Here van almal wat regeer en Hy is die Koning van al die konings. Hy het mense gekies om aan Hom te behoort, en daardie mense sal altyd in Hom glo.”

15. Die engel het vir my gesê: “Jy het gesien die prostituut sit by baie water. Die water is die mense van baie volke en stamme en lande en tale.

16. “Jy het tien horings gesien. Die tien horings en die dier sal die prostituut haat. Hulle sal sê dat almal haar moet los. Hulle sal haar kaal maak en hulle sal haar eet en haar verbrand.

17. Want God sal hulle laat doen wat Hy wil hê. Hulle sal almal dieselfde dink en doen, en hulle sal regeer om die dier te help. Dit sal so wees totdat alles gebeur soos God gesê het dit moet gebeur.

18. “Jy het ’n vrou gesien. Dit is die Groot Stad wat regeer oor al die konings van die aarde.”