hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9 Bybel vir Almal (ABA)

Die vyfde trompet

1. Die vyfde engel het sy trompet geblaas. Toe sien ek ’n ster wat uit die lug op die aarde geval het. God het vir die ster die sleutel gegee wat die diep gat kan oopsluit wat na die onderwêreld gaan.

2. Die ster het die diep gat oopgemaak wat na die onderwêreld gaan. Toe kom daar rook uit die gat, baie rook, soos die rook van ’n groot vuur. En die son en die lug het donker geword van die rook wat uit die gat kom.

3. Uit die rook het daar sprinkane gekom. God het vir die sprinkane gesê hulle mag doen wat skerpioene op die aarde doen.

4. God het vir hulle gesê hulle mag nie die gras op die aarde vreet nie, ook nie enige iets wat groen is nie, ook nie die bome nie. Hulle mag net die mense seermaak wat nie God se merk op hulle voorkoppe het nie.

5. God het gesê hulle mag daardie mense vyf maande lank seermaak, maar hulle mag nie daardie mense doodmaak nie. Wanneer hulle die mense seermaak, dan is dit so seer soos wanneer ’n skerpioen ’n mens steek.

6. Wanneer dit gebeur, dan sal die mense wens dat hulle sterf, maar hulle sal nie sterf nie. Hulle sal wens dat hulle gou doodgaan, maar die dood sal nie kom nie.

7. Die sprinkane lyk soos perde wat gereed is om oorlog te maak. Op elke sprinkaan se kop is iets wat lyk soos ’n goue kroon. Hulle gesigte lyk soos mense se gesigte.

8. Die sprinkane se hare lyk soos vroue se hare, en hulle tande lyk soos leeus se tande.

9. Die sprinkane dra harnasse wat lyk soos harnasse van yster. Hulle vlerke raas baie, soos baie oorlogkarre en perde wat oorlog gaan maak.

10. Hulle sterte is soos skerpioene se sterte en hulle het ook angels waarmee hulle die mense steek. Die skerpioene kan hulle sterte vyf maande lank gebruik om die mense seer te maak.

11. Die sprinkane se koning is die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam is Abaddon en sy Griekse naam is Apollion.

12. Die eerste swaarkry is verby, maar daar kom nóg twee tye wanneer mense sal swaarkry!

Die sesde trompet

13. Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan.

14. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!”

15. Die sesde engel het die vier engele losgemaak. God het hierdie engele gereedgehou tot op hierdie tyd, tot op hierdie dag, hierdie maand, en hierdie jaar, sodat hulle een derde van die mense moet doodmaak.

16. Die soldate op perde was baie miljoene, ek het gehoor hoe baie hulle is.

17. Ek het die perde en die soldate gesien, hulle het só gelyk: Die soldate het harnasse gedra. Die harnasse was baie rooi en baie blou en baie geel. Die perde se koppe was soos leeus se koppe. Daar het vuur en rook en swael uit die perde se bekke gekom.

18. Ja, God het die mense gestraf. Die vuur en die rook en die swael wat uit die perde se bekke gekom het, was die drie strawwe van God, dit het een derde van die mense doodgemaak.

19. Die perde het hulle bekke en hulle sterte gebruik om mense seer te maak. Hulle sterte was soos slange, hulle sterte het koppe gehad en dit het die mense seergemaak.

20. Maar die mense wat nie gesterf het van die vuur en die rook en die swael nie, het nie begin lewe soos God wil hê hulle moet lewe nie. Hulle het die duiwels en die afgode aanbid, afgode van goud en silwer en brons en klip en hout, afgode wat nie kan sien of hoor of loop nie!

21. Die mense wat nog lewe, het aangehou om ander mense te vermoor of om te toor of om onsedelik te lewe of om te steel.