hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 21 Bybel vir Almal (ABA)

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

1. Toe sien ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Want die eerste hemel en die eerste aarde was nie meer daar nie. Die see was ook nie meer daar nie.

2. Toe sien ek die gewyde stad, die Nuwe Jerusalem, kom af uit die hemel, van God af. Die stad was gereed, soos ’n bruid wat haarself mooi gemaak het vir haar man.

3. Toe hoor ek iemand praat by God se troon. Hy het hard gesê:“Kyk, God woon nouby die mense!Ja, Hy sal by hulle woon!En hulle sal sy volke wees!God sal self by hulle wees!

4. God sal al die tranevan hulle oë afvee!Hulle sal nooit sterf nie!Hulle sal nooit huil en kla nie!Hulle sal nooit seerkry nie!Want die ou dingehet verbygegaan!”

5. En God wat op die troon sit, het gesê: “Kyk! Ek verander alles! Ja, Ek maak alles nuut!”God het ook gesê: “Jy moet skryf wat Ek sê, want Ek doen altyd wat Ek sê, Ek praat altyd die waarheid.”

6. God het vir my gesê: “Alles is verby! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. As iemand geestelik dors is, dan sal Ek vir hom water gee wat hom altyd laat lewe, water wat verniet is.

7. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou baie goeie dinge gee. Ek sal jou God wees en jy sal my kind wees.

8. Maar al die mense wat bang is en die mense wat nie glo nie, sal in die see van vuur en swael kom, en ook die mense wat baie verkeerde dinge doen en die mense wat ander mense doodmaak en die mense wat onsedelik lewe en die mense wat toor en die mense wat afgode dien en die mense wat lieg. Die see van vuur en swael is die tweede dood.”

Die Nuwe Jerusalem

9. Een van die sewe engele het na my toe gekom. Dit was een van die sewe engele wat God se straf gebring het, God se sewe laaste strawwe in sewe bakke. Die engel het vir my gesê: “Jy moet saam met my kom! Ek sal vir jou die bruid wys, die vrou van die Lam!”

10. Die Gees het in my gekom, en die engel het my na ’n groot, hoë berg geneem. Toe het hy vir my die gewyde stad, Jerusalem, gewys. Die stad het afgekom uit die hemel, van God af.

11. Die stad was vol lig, die lig wat om God, die Koning, is. Die stad het geblink soos ’n baie duur edelsteen, soos jaspis wat baie blink is.

12. Die stad het ’n groot, hoë muur gehad. In die muur was twaalf poorte. By die twaalf poorte was twaalf engele, en op die poorte was die name van die twaalf stamme van die Israeliete geskryf.

13. Daar was drie poorte in die muur oos van die stad, drie poorte in die muur noord van die stad, drie poorte in die muur suid van die stad en drie poorte in die muur wes van die stad.

14. Die muur van die stad het twaalf fondamente gehad. Op die fondamente was die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf.

15. Die engel wat met my gepraat het, het ’n goue meet-stok gehad om die stad en die poorte en die muur te meet.

16. Die stad was vierkantig: dit was so lank soos dit breed was. Die engel het die stad gemeet: dit was 12 000 stadioi lank en 12 000 stadioi breed en 12 000 stadioi hoog.

17. Hy het die muur ook gemeet. Dit was 144 el hoog. Die engel het gemeet hoeveel el dit was, soos mense altyd ’n el meet.

18. Die muur was van jaspis. Die stad was van die beste goud, dit het geblink soos die mooiste glas.

19. Op die fondamente van die muur was daar baie mooi edelstene. Op die eerste fondament was jaspis. Op die tweede fondament was saffier. Op die derde fondament was agaat. Op die vierde fondament was smarag.

20. Op die vyfde fondament was oniks. Op die sesde fondament was karneool. Op die sewende fondament was chrisoliet. Op die agste fondament was beril. Op die negende fondament was topaas. Op die tiende fondament was chrisopraas. Op die elfde fondament was hiasint. Op die twaalfde fondament was ametis.

21. Die twaalf poorte was twaalf pêrels. Ja, elke poort was gemaak van een pêrel. Die straat van die stad was van die beste goud, dit het gelyk soos glas, ’n mens kon daardeur sien.

22. Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God wat alles kan doen, en die Lam, was die stad se tempel.

23. Daar was nie ’n son of ’n maan om vir die stad lig te gee nie. Dit was nie nodig nie, want die lig wat om God die Koning is, het daar lig gegee. En die Lam was die lamp vir die stad.

24. Die volke sal lewe in die stad se lig, en die konings van die aarde sal na die stad kom, en dit sal wys hoe belangrik die stad is.

25. Die stad se poorte sal nooit toe wees in die dag nie. En daar is nooit nag nie.

26. Die konings van die aarde sal presente van die volke na die stad bring. Hulle sal die stad prys en sê hoe belangrik dit is.

27. Maar mense en dinge wat onrein is, sal nooit in die stad ingaan nie, ook nie mense wat dinge doen wat baie lelik is en mense wat lieg nie. Maar party mense sal in die stad ingaan. Hulle name is geskryf in die boek van die lewe, die boek van die Lam.