hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7 Die Boodskap (DB)

1. Elisa het hom geantwoord: “Luister ’n bietjie wat sê die Here: ‘Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.’”

2. “Jy is verspot, man!” het die offisier wat saam met die koning was, vir Elisa gesê. “Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!”Elisa het hom geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.”

Die oorlog eindig skielik

3. Vier melaatse mans, mense met ’n ernstige velsiekte, het buite die poort van Samaria gebly. Hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons nou hier bly sit om dood te gaan?

4. In die stad is daar nie redding nie, die hongersnood is te erg en ons sal daar doodgaan. As ons net hier bly, sal ons ook sterf! Dus, kom ons loop oor na die Arameërs toe. As hulle ons lewe spaar, dan leef ons ten minste. As hulle ons doodmaak, is dit tog maar net wat hier ook met ons sou gebeur het.”

5. Hulle het toe teen die aand oorgeloop na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle daar aankom, was daar nie ’n mens nie.

6. Dit is wat gebeur het: Die Here het die Aramese soldate ’n geluid laat hoor wat geklink het soos ’n groot leërmag wat hulle aanval. Dit het geklink soos ’n geweldige klomp strydwaens en perde. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Israel se koning het die Hetiete en die Egiptiese leërs gehuur om teen ons te kom veg.”

7. Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan.

8. Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen.

9. Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.”

10. Hulle is toe terug stad toe. Hulle het die stad se poortwagters geroep en vertel wat in die vyand se kamp gebeur het. Hulle het gesê: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, was daar geen mens in sig nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente wat daar staan.”

11. Die poortwagters het die boodskap oorgedra tot by die koning in sy paleis.

12. Toe die koning die nuus kry, het hy in die middel van die nag opgestaan. Hy het vir sy offisiere gesê: “Laat ek julle vertel wat die Arameërs se plan is. Hulle weet tog dat ons hier in die stad van die honger vergaan. Nou het hulle hulle kamp ontruim en in die veld gaan wegkruip. Hulle probeer ons uit die stad uitlok om ons gevange te neem en die stad dan in te neem.”

13. Een van die offisiere het gevra: “Moet ons nie tog maar verkenners uitstuur om te gaan kyk wat gebeur het nie? Laat hulle vyf van die perde wat oor is, vat en gaan kyk. As hulle iets oorkom, is dit nie veel erger as wanneer hulle hier bly en saam met ons doodgaan nie.”

14. Die koning het toe twee strydwaens laat inspan. Hy het ’n paar verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk wat aangaan.”

15. Hulle is toe daar weg en het die spoor van die Aramese leër gevolg tot by die Jordaanrivier. Die pad waarlangs hulle gevlug het, was besaai met klere en goed wat die Aramese soldate neergegooi het om vinniger te kan vlug. Die verkenners het teruggekom en vir die koning vertel wat hulle gesien het.

Elisa se voorspellings word waar

16. Die mense van Samaria het uit die stad uitgestorm om die Aramese kamp te gaan plunder. Só het dit waar geword dat ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel net ’n paar gram silwer gekos het.

17. In die chaos het die koning die offisier wat saam met hom was, aangestel om orde in die poortgebied van die stad te handhaaf. Die skare het hom egter daar op die plein by die poort doodgetrap.So het alles gebeur soos Elisa voorspel het toe die koning die vorige dag na sy huis toe gekom het.

18. Die man van God het toe vir die koning gesê: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.”

19. Die offisier wat saam met die koning was, het toe vir Elisa gesê: “Jy is verspot, man! Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom toe geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.”

20. Dit het net so gebeur. Die mense het hom op die plein by die poort doodgetrap.