hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hiskia regeer in Juda

1. Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abia, dogter van Sagaria.

2. Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het.

Hiskia heropen die tempel

3. In die eerste maand van die eerste jaar van sy regering het Hiskia die deure van die tempel van die Here heropen en dit herstel.

4. Hy het die priesters en Leviete ontbied om hom in die binnehof oos van die tempel te ontmoet.

5. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Reinig julleself en reinig die tempel van die Here, die God van julle voorouers. Verwyder alles wat besoedel is uit die tempel.

6. Ons voorouers was ontrou en het dinge gedoen wat vir die Here ons God boos was. Hulle het die Here verlaat. Hulle het weggegaan en die rug op sy tempel gedraai.

7. Hulle het ook die deure na die voorportaal gesluit en die lampe doodgemaak. Hulle het opgehou om wierook te brand en om brandoffers in die heiligdom van die God van Israel te bring.

8. Dit is waarom die Here se toorn oor Juda en Jerusalem toegesak het. Hy het hulle ’n voorwerp van vrees, afsku en bespotting gemaak soos wat julle so duidelik kan sien.

9. Ons voorvaders is in die oorlog doodgemaak, en ons seuns, dogters en vroue is hieroor in gevangenskap.

10. Maar nou wil ek ’n verbond met die Here, die God van Israel, sluit sodat die felheid van sy woede van ons af weggekeer kan word.

11. My seuns, moenie julle pligte nalaat nie. Die Here het julle gekies om in sy teenwoordigheid te staan, om diens aan Hom te verrig, om die volk te lei in aanbidding en offers aan Hom te bring.”

12. Die Leviete het toe dadelik aan die werk gespring. Uit die familiegroep Kehat: Magat seun van Amasai, en Joël seun van Asarja. Uit die familiegroep Merari: Kis seun van Abdi, en Asarja seun van Jehallelel. Uit die familiegroep Gerson: Joag seun van Simma, en Eden seun van Joag.

13. Uit die familiegroep Elisafan: Simri en Jeïel. Uit die familiegroep Asaf: Sagaria en Mattanja.

14. Uit die familiegroep Heman: Jegiël en Simi. Uit die familiegroep Jedutun: Semaja en Ussiël.

15. Hierdie manne het hulle broers bymekaargeroep en hulleself gereinig. Toe het hulle begin om die tempel van die Here te reinig soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

16. Die priesters het die tempel van die Here binne gaan reinig. Hulle het alles verwyder wat onrein was in die tempel van die Here en dit na die voorhof toe gebring. Die Leviete het dit daarvandaan na die Kedronvallei geneem.

17. Hulle het die werk op die eerste dag van die eerste maand begin en teen die agtste dag gevorder tot by die voorportaal van die Here se tempel. Daarna het dit nog agt dae geneem om die tempel te reinig. Die hele reiniging het dus veertien dae geduur.

Die hertoewyding van die

tempel

18. Toe het die Leviete na koning Hiskia gegaan en aan hom verslag gedoen: “Ons het die hele tempel van die Here, die altaar vir brandoffers met al die toebehore, en die tafel vir die offerbrood met al die toebehore gereinig.

19. Ons het ook al die voorwerpe wat koning Agas weggeneem het toe hy ontrou was tydens sy regering, teruggekry. Dit is nou voor die altaar van die Here, gereinig en gereed vir gebruik.”

20. Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stadsamptenare bymekaargeroep en na die tempel van die Here gegaan.

21. Hulle het sewe beeste, sewe ramme, sewe lammers en sewe bokramme as sonde-offer vir die koninkryk, vir die tempel en vir Juda gebring. Die koning het die priesters wat uit die geslag van Aäron was, beveel om die diere op die altaar van die Here te offer.

22. Hulle het die beeste geslag, en die priesters het die bloed op die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die ramme geslag en hulle bloed op die altaar gesprinkel. Hulle het dieselfde met die lammers gedoen.

23. Die bokramme vir die sonde-offer is toe na die koning en die gemeente geneem. Hulle het hulle hande op die diere gesit.

24. Daarna het die priesters die bokke as ’n sonde-offer geslag en hulle bloed op die altaar gesprinkel as teken van berou vir die sondes van die hele Israel. Die koning het uitdruklik beveel dat die brandoffer en sonde-offer namens die hele Israel moes wees.

25. Koning Hiskia het die Leviete by die tempel van die Here opgestel met simbale, harpe en liere. Hy het al die voorskrifte gehoorsaam wat die Here aan koning Dawid deur Gad, die koning se siener, en die profeet Natan gegee het, want dit was ’n opdrag wat van die Here self deur sy profete gekom het.

26. Die Leviete het hulle plek ingeneem met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27. Daarna het Hiskia beveel dat die brandoffer op die altaar gesit moet word. Terwyl die brandoffer aangebied is, het die lofliedere tot eer van die Here begin. Hulle is begelei met die trompette en ander instrumente van Dawid, koning van Israel.

28. Die hele gemeente het die Here aanbid terwyl die sangers gesing en die trompette weerklink het. Dit het voortgeduur totdat die brandoffers klaar was.

29. Toe dit klaar was, het die koning en almal saam met hom in aanbidding gebuig.

30. Koning Hiskia en die amptenare het die Leviete beveel om die Here te prys met die psalms van Dawid en Asaf die siener. Hulle het met vreugde lofliedere gesing, neergebuig en aanbid.

31. Toe het Hiskia aangekondig: “Julle is nou aan die Here gewy. Bring nou julle offers en dankoffers na die tempel van die Here.” Die gemeente het hulle offers en dankoffers gebring en elkeen wat in sy hart so gevoel het, het vrywillig ook nog brandoffers gebring.

32. Die gemeente het 70 beeste, 100 ramme en 200 lammers vir brandoffers gebring.

33. Hulle het ook 600 beeste en 3 000 skape as offers gebring.

34. Daar was te min priesters om al die brandoffers voor te berei sodat hulle bloedverwante, die Leviete, hulle moes help totdat alles afgehandel en meer priesters gewy was. Die Leviete was meer nougeset met hulle toewyding as die priesters.

35. Daar was ’n oorvloed van brandoffers, die meegaande drankoffers, en ook die vet van die maaltydoffers. So is die diens in die tempel van die Here weer gevestig.

36. Hiskia en die hele volk het gejuig oor wat God vir die volk gedoen het, want alles is gou afgehandel.