hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toebehore vir die tempel

1. Salomo het ook ’n bronsaltaar gemaak. Dit was tien meter lank, tien meter breed, en vyf meter hoog.

2. Toe het hy ’n groot waterbak gegiet. Dit was vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, met ’n omtrek van vyftien meter.

3. Onderom die rand was daar twee rye beeste in reliëf, twintig beeste per meter. Dit is saam met die waterbak gegiet.

4. Die waterbak het gerus op ’n basis van twaalf beelde van beeste wat almal buitentoe kyk. Drie het noord gekyk het, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het bo-op hulle gerus, met hulle agterkante onder die bak.

5. Die rand van die waterbak was ongeveer ’n handbreedte dik en die rand is gevorm soos ’n beker of die kelk van ’n lelie. Dit kon 66 kiloliter water bevat.

6. Hy het ook tien waskomme gemaak waarin die offergereedskap gewas kon word, vyf was aan die suidekant en vyf aan die noordekant. Die priesters het hulleself in die waterbak gewas.

7. Daarna het Salomo tien goue kandelare gegiet volgens die voorskrifte wat reeds gegee is, en dit in die tempel gesit. Vyf van hulle is teen die suidelike muur neergesit, en vyf teen die noordelike muur.

8. Hy het ook tien tafels gemaak en dit in die tempel neergesit. Vyf was teen die suidelike muur en vyf teen die noordelike muur. Daarna het hy 100 goue komme gemaak.

9. Salomo het ook ’n binnehof vir die priesters gebou, asook die groot voorhof. Verder het hy deure vir die ingange tot die binneste voorhof gemaak en dit met brons gedek.

10. Die waterbak is aan die suidekant naby die suidoostelike hoek van die tempel neergesit.

11. Huram het ook die nodige potte, skoppe en komme gemaak.Eindelik het Huram alles voltooi wat koning Salomo aan hom opgedra het om vir die tempel van God te maak:

12. twee pilare, met die komvormige pilaarkrone bo-op die pilare, twee kettings soos ’n krans waarmee die bopunte van die pilare verfraai is,

13. 400 granate wat aan die kettings aan die kapitele gehang is (twee rye granate vir elke ketting wat om die kapitele en bo-op die pilare gehang is),

14. die waentjies vir die waskomme,

15. die waterbak en die beeste daaronder,

16. die potte, skoppe en vurke, en al die tempelgereedskap. Hiram het al hierdie voorwerpe vir die tempel van die Here van gepoleerde brons gemaak net soos koning Salomo gevra het.

17. Die koning het dit in kleivorms in die Jordaanvallei tussen Sukkot en Saretan gegiet.

18. Daar is so baie brons gebruik vir die toebehore wat Salomo gemaak het dat die gewig daarvan nie bereken kon word nie.

19. So het Salomo al die toebehore vir die tempel van God gemaak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood,

20. die kandelare met hulle lampe van suiwer goud wat voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moet word,

21. die blomkelke, lampe en pithouers, alles van suiwer goud,

22. die snuiters, komme vir besprinkeling, skottels en vuurpanne, alles van suiwer goud, die deure vir die toegang tot die binnedeure na die heiligdom en die Allerheiligste en die deure na die voorste heiligdom, alles met goud oorgetrek.