hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Oorlog teen Moab, Ammon en

Edom

1. Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar.

2. Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3. Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die Here raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas.

4. Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die Here se hulp te soek.

5. Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die Here.

6. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie.

7. Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?

8. U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou.

9. Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’

10. “Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie.

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf.

12. Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

13. Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het,

14. het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15. Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

17. Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”

18. Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid.

19. Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.

20. Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.”

21. Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid:“Loof die Here,want sy troue liefde duur vir altyd.”

22. Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.

23. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.

24. Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie.

25. Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel.

26. Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.

27. Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die Here die oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28. Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die Here met die klank van harpe, liere en trompette.

29. Toe die omringende koninkryke hoor dat die Here self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom.

30. Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.

Opsomming van Josafat se

regering

31. Josafat het oor die land Juda geheers. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba dogter van Silgi.

32. Josafat was ’n goeie koning wat die voorbeeld van sy pa Asa gevolg het. Hy het volgehou om te doen wat reg was vir die Here.

33. Gedurende sy bewind het hy egter nagelaat om al die heidense hoogtes te verwyder. Die volk het hulleself ook nie ten volle aan die God van hulle voorouers verbind nie.

34. Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind is opgeteken in Die verhale van Jehu, seun van Ganani wat ingesluit is in Die boek van die konings van Israel.

35. Maar teen die einde van sy lewe het koning Josafat ’n verdrag gesluit met koning Ahasia van Israel, wat ’n baie goddelose man was.

36. Hulle het saam ’n vloot handelskepe in Esjon-Geber gebou om na Tarsis toe te vaar.

37. Eliëser seun van Dodawa uit Maresa het teen Josafat geprofeteer. Hy het gesê: “Omdat jy ’n verdrag met koning Ahasia aangegaan het, sal die Here jou werk vernietig.” Die skepe het vergaan en kon nie na Tarsis vaar nie.