hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ussia regeer in Juda

1. Die hele volk van Juda het vir Ussia, die sestienjarige seun van Amasia, as hulle nuwe koning gekroon.

2. Na sy pa se dood het Ussia die dorp Elat herbou en weer onder die beheer van Juda gebring.

3. Ussia was sestien toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem.

4. Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Amasia gedoen het.

5. Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.

6. Hy het oorlog teen die Filistyne verklaar en die mure van Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en in ander dele van die Filistynse gebied gebou.

7. God het hom gehelp in die oorlog teen die Filistyne en ook in sy oorloë teen die Arabiere van Gur-Baäl en die Meüniete.

8. Die Ammoniete het aan Ussia belasting betaal. Sy roem het selfs tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword.

9. Ussia het versterkte torings in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die draai in die muur opgerig.

10. Hy het ook torings in die woestyn opgerig en baie putte gegrawe, want hy het baie vee in die Laeveld van Juda en die vlaktes gehad. Hy was ook lief vir die grond. Daarom het hy baie mense gehad wat sy plase en wingerde op die plato en in die vrugbare valleie versorg het.

11. Ussia het ’n leër gehad van ervare krygsmanne wat in afdelings uitgetrek het. Hulle getalle is bepaal deur Jeïel, die sekretaris van die leër en sy assistent Maäseja. Hulle was onder die leiding van Gananja, een van die koning se offisiere.

12. Daar was 2 600 familiehoofde in bevel van die soldate.

13. Die leër onder hulle bevel het bestaan uit 307 500 manskappe, almal opgelei vir oorlog. Dit was ’n kragtige mag waarop die koning teen enige vyand kon staatmaak.

14. Ussia het die hele leër voor-sien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle.

15. Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword.

Ussia se sonde en straf

16. Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die Here sy God gesondig deur in die tempel van die Here te gaan en self wierook op die altaar te brand.

17. Asarja die priester het saam met 80 dapper priesters van die Here agter hom aangegaan.

18. Hulle het koning Ussia gekonfronteer en gesê: “Dit is nie toelaatbaar vir u, Ussia, om wierook vir die Here te brand nie. Dit is die werk van die priesters, seuns van Aäron, wat alleen daarvoor afgesonder is. Gaan uit die heiligdom, want u het gesondig. Die Here sal u nie daarvoor eer nie.”

19. Ussia was woedend en het geweier om die wierookpan neer te sit. Terwyl hy kwaad vir die priesters daar voor die wierookaltaar gestaan het in die tempel van die Here, het melaatsheid skielik op sy voorkop uitgebreek.

20. Toe die hoëpriester Asarja en die ander priesters die melaatsheid op sy voorkop sien, het hulle hom so gou moontlik uit die tempel verwyder. Die koning was self haastig om daar uit te kom, want die Here het hom getref.

21. Die koning Ussia het aan melaatsheid gely tot die dag van sy dood. Hy het in ’n huis in afsondering gewoon, wég van die tempel van die Here. Sy seun Jotam is in beheer van die paleis gestel, en hy het oor die volk van die land regeer.

22. Die ander gebeurtenisse tydens Ussia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken deur die profeet Jesaja, seun van Amos.

23. Ussia het gesterf. Hy is begrawe in ’n begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, omdat hy melaats was. Sy seun Jotam het in sy plek koning geword.