hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die profesie van Semaja

1. Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel op te trek en die koningskap vir hom terug te wen.

2. Maar die Here het vir Semaja, die man van God, gesê:

3. “Sê vir Rehabeam seun van Salomo en koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin:

4. ‘Dit is wat die Here sê: Moenie teen julle bloedverwante optrek en veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en nie teen Jerobeam opgetrek nie.

Rehabeam versterk Juda

5. Rehabeam het in Jerusalem gewoon en verskeie stede herbou om Juda te verdedig.

6. Hy het die volgende plekke herbou: Betlehem, Etam, Tekoa,

7. Bet-Sur, Soko, Adullam,

8. Gad, Maresa, Sif,

9. Adorajim, Lakis, Aseka,

10. Sora, Ajalon en Hebron.

11. Rehabeam het hulle verdediging versterk en vir hulle bevelvoerders aangestel. In elkeen van hulle het hy voorrade kos, olyfolie en wyn daar gebêre.

12. Hy het ook skilde en spiese in hierdie stede geplaas om hulle te versterk. Hy het egter net oor Juda en Benjamin geheers.

13. Al die priesters en Leviete wat in Israel was, het Rehabeam se kant gekies.

14. Die Leviete het selfs hulle huise en eiendom verlaat en na Juda en Jerusalem verhuis omdat Jerobeam en sy seuns nie toegelaat het dat hulle as priesters die Here dien nie.

15. Jerobeam het sy eie priesters aangestel vir die hoogtes en die heiligdomme en vir die bokgode en kalwerbeelde wat hy gemaak het.

16. Van al die stamme van Israel het hulle wat die Here die God van Israel wou dien, die Leviete na Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle offers bring aan die Here die God van hulle voorouers.

17. Dit het die koninkryk van Juda versterk en hulle het drie jaar lank Rehabeam seun van Salomo ondersteun. Hulle het met erns probeer om die Here te gehoorsaam soos dit gedoen is tydens die bewind van Dawid en Salomo.

Rehabeam se gesin

18. Rehabeam het getrou met Magalat, die dogter van Dawid se seun Jerimot. Haar ma was Abihajil dogter van Eliab, seun van Isai.

19. Magalat het drie seuns gehad: Jeüs, Semarja en Saham.

20. Later het Rehabeam met Maäka die dogter van Absalom getrou. Maäka se seuns was: Abia, Attai, Sisa en Selomiet.

21. Rehabeam was baie lief vir Maäka die dogter van Absalom, meer as enige van sy ander vroue of byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad. Hy het 28 seuns en 60 dogters gehad.

22. Rehabeam het Maäka se seun Abia die belangrikste een onder sy broers gemaak. So het hy aangedui wie sy opvolger sou wees.

23. Rehabeam was wys genoeg om die ander seuns in versterkte stede, verspreid in verskillende streke in Juda en Benjamin, te plaas. Hy het hulle met oorvloedige voorrade voorsien en gesorg dat hulle baie vroue kry.