hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 28 Bybel vir Almal (ABA)

Offers wat die Israeliete elke dag moet gee

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet my offers vir My gee op die tyd wat Ek sê, die offers wat Ek moet kry. Dit is kos vir My, dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir My.

3. “Jy moet vir hulle sê hulle moet elke dag vir My hierdie vuur-offer bring: twee gesonde jaaroud ram-lammers. Dit is ’n brand-offer wat hulle elke dag moet bring.

4. Julle moet een lam in die oggend offer en die ander lam wanneer dit begin donker word.

5. Hulle moet saam met hierdie vuur-offer ook ’n koring-offer bring. Die koring-offers is een tiende van ’n efa van die beste meel wat julle moet meng met ’n kwart hin olyf-olie wat uit die parskuip kom.

6. Dit is die brand-offer wat julle elke dag moet bring, julle doen dit vandat julle by Sinai-berg was. Dit ruik lekker vir My, die Here, dit is ’n vuur-offer vir My.

7. Saam met die brand-offer moet julle ook ’n drank-offer gee. Die drank-offer is ’n kwart hin wyn wat julle vir die Here by die tempel moet uitgooi op die altaar.

8. Wanneer dit begin donker word, dan moet julle die tweede lam offer saam met die koring-offer en die drank-offer, julle moet dit offer soos in die oggend. Dit is ’n vuur-offer, dit ruik lekker vir My, die Here.”

Offers op die Sabbatdag

9. Die Here het vir Moses gesê: “Op die Sabbatdag moet julle twee gesonde jaaroud ram-lammers offer. Julle moet dit offer saam met twee tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle met olyf-olie moet meng, en saam met die drank-offer wat julle saam met die lammers moet offer.

10. Dit is die brand-offers wat julle elke Sabbatdag moet bring, saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”

Die offers op die eerste dag van die maand

11. Die Here het vir Moses gesê: “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here twee jong bulle, een skaap-ram en sewe ram-lammers gee. Dit moet gesonde diere wees.

12. Saam met elke bul moet julle ’n koring-offer gee. Die koring-offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle moet meng met olyf-olie. Saam met die ram moet julle ’n koring-offer van twee tiendes van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie.

13. Saam met elke lam moet julle ’n koring-offer van een tiende van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie. Dit is ’n brand-offer, ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

14. Die drank-offer saam met ’n bul moet ’n halwe hin wyn wees. Die drank-offer saam met ’n ram moet een derde van ’n hin wees, en die drank-offer saam met ’n lam moet ’n kwart hin wees. Dit is die brand-offer wat julle elke maand van die jaar moet bring.

15. Julle moet daarmee saam ook ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees. Julle moet hierdie offers bring saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”

Die offers op die Paasfees

16. Die Here het vir Moses gesê: “Op die veertiende dag van die eerste maand is dit die Paasfees vir die Here,

17. en op die vyftiende dag van dieselfde maand begin die fees van sewe dae wanneer julle ongesuurde brood moet eet.

18. Op die eerste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie werk op daardie dag nie.

19. Julle moet vir die Here ’n vuur-offer gee. Dit is ’n brand-offer van twee bulle, een skaap-ram en sewe jaaroud ram-lammers. Dit moet gesonde diere wees.

20. Julle moet ook ’n koring-offer daarby gee. Julle moet van die beste meel gee wat julle met olyf-olie meng. Dit moet wees: drie tiendes van ’n efa meel saam met ’n bul, twee tiendes van ’n efa meel saam met die skaap-ram,

21. en een tiende van ’n efa meel saam met elke lam.

22. Julle moet ook ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees wat versoening kan doen vir julle.

23. Julle moet hierdie offers bring saam met die brand-offer wat julle altyd elke oggend moet bring,

24. en julle moet dit doen op elke dag van die sewe dae. Dit is ’n ete, ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here. Julle moet dit offer saam met die brand-offer wat julle elke dag moet bring en die drank-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring.

25. Op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom en julle moet julleself aan die Here wy. Julle mag nie werk op daardie dag nie.”

Die offers op die Fees van die Weke

26. Die Here het vir Moses gesê: “Op die dag wanneer julle die Fees van die Weke vier en vir die Here ’n koring-offer gee van die nuwe koring wat julle afgesny het, moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie werk op hierdie dag nie.

27. Julle moet vir die Here ’n brand-offer gee wat lekker ruik vir Hom. Die brand-offer is: twee bulle, een skaap-ram en sewe jaaroud lammers.

28. Julle moet dit gee saam met die koring-offer wat julle saam met die brand-offer moet bring. Die koring-offer moet van die beste meel wees wat julle met olyf-olie moet meng. Die koring-offer is: drie tiendes van ’n efa meel saam met ’n bul, twee tiendes van ’n efa meel saam met ’n skaap-ram

29. en een tiende van ’n efa meel vir elke lam.

30. Julle moet ook ’n bok-ram offer om versoening te doen vir julleself.

31. Julle moet elke dag ’n brand-offer en ’n koring-offer bring. Saam met hierdie offers moet julle die offers bring om versoening te doen en ook die drank-offers wat julle saam met hierdie offers moet bring. Die diere wat jy offer, moet gesond wees.”