hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18 Bybel vir Almal (ABA)

Die werk van die Leviete en die priesters

1. Die Here het vir Aäron gesê: “Wanneer iemand iets verkeerd doen by die tempel-tent, dan sal dit jou en jou seuns en jou familie se skuld wees. Wanneer ’n priester iets verkeerd doen, dan sal dit jou en jou seuns se skuld wees.

2. Jy moet jou ander familie, die Leviete wat die nageslag is van jou voorvader Levi, saam met jou laat nader kom. Hulle moet by jou wees en vir jou werk. Jy en jou seuns saam met jou moet by die tent wees waarin die tien gebooie is.

3. Die Leviete moet jou help met jou werk en met die werk by die hele tent. Maar hulle moenie by die gewyde gereedskap en die altaar kom nie. As hulle dit doen, dan sal hulle én julle sterf.

4. Die Leviete moet by jou wees en hulle moet die werk doen by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, hulle moet help met al die werk by die tent. Niemand anders mag naby julle kom nie.

5. Julle self moet die werk by die tempel-tent en die altaar doen. Dan sal Ek nie weer kwaad word vir die Israeliete nie.

6. Ek self het julle familie, die Leviete, weggeneem tussen die Israeliete. Ek het hulle vir My geneem om die werk te doen by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help.

7. Maar jy en jou seuns moet die priesters wees wat die werk doen by die altaar en in die kamer agter die gordyn. Ek gee daardie werk vir julle. Maar wanneer iemand anders daardie werk doen, dan sal hy sterf.”

Die offers wat die priesters mag gebruik

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek self het vir jou gesê jy moet kyk dat mense die regte offers vir My bring. Ek gee van nou af vir jou al die gewyde presente wat die Israeliete vir My bring. Dit sal altyd aan jou en jou seuns behoort, dit is wat julle moet kry.

9. Jy moet die deel van die hoog-gewyde offers kry wat julle nie verbrand nie, dit is al die koring-offers, al die sonde-offers, al die skuld-offers. Dit is al die hoog-gewyde offers wat die Israeliete vir My bring. Jy en jou seuns moet dit kry.

10. Dit is hoog-gewyde dinge, maar julle mag dit eet. Elke man of seun in jou familie mag dit eet. Dit moet vir julle gewyde dinge wees.

11. Elke beweeg-offer wat die Israeliete vir My gee, is ook joune. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters saam met jou. Dit moet altyd so wees. Elkeen in jou huisgesin wat rein is, mag daarvan eet.

12. Wanneer die Israeliete van die eerste olyf-olie, wyn en koring vir My bring, dan gee Ek vir jou die beste daarvan.

13. Die eerste van alles wat in die grond groei en wat hulle vir My bring, moet joune wees. Elkeen in jou huisgesin wat rein is, mag daarvan eet.

14. Alles in die land Israel wat gewy is, moet joune wees.

15. Wanneer die Israeliete die oudste seun of die eerste kleintjie van ’n dier vir My bring, dan is dit joune. Maar jy moet elke oudste seun en elke eerste kleintjie van ’n onrein dier loskoop.

16. As jy ’n seun of ’n dier wil loskoop wanneer hy ’n maand oud is, dan moet jy vyf silwer sikkels betaal, dit moet tempel-sikkels wees wat elkeen 20 gera weeg.

17. Jy moenie die eerste bees-kalf of skaap-lam of bok-lam loskoop nie. Hulle is gewyd. Jy moet hulle bloed teen die altaar uitgooi en jy moet hulle vet verbrand. Dit is ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

18. Maar die vleis van die diere moet joune wees, en die bors van die beweeg-offer en die boud is ook joune.

19. Ek het vir jou en jou seuns en jou dogters al die gewyde presente gegee wat die Israeliete vir My bring. Julle sal dit altyd kry. Dit belowe Ek, jy en jou nageslag sal dit altyd kry.”

Die Leviete kry die tiendes

20. Die Here het ook vir Aäron gesê: “Jy kry nie in die land van die Israeliete grond waar julle kan woon nie, jou stam kry nie grond tussen die ander stamme nie. Ek self sal aan julle behoort, julle sal vir My hê.

21. Luister, Ek gee vir die Levi-stam al die tiendes wat die Israeliete bring. Die Levi-stam kry dit vir die werk wat hulle moet doen, die werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.

22. Die ander Israeliete mag nou nie meer naby die tent kom waar Ek aan hulle verskyn nie. As een van hulle dit doen, dan doen hy verkeerd en dan moet hy sterf.

23. Die Leviete moet die werk by die tent doen, en wanneer hulle verkeerd doen, dan sal Ek hulle straf. Dit sal altyd so wees, vir julle en vir julle nageslag. Maar hulle kry nie grond tussen die ander stamme nie.

24. Die Leviete kry die tiendes wat die Israeliete vir My gee, dit is hulle s’n. Dit is hoekom Ek vir die Leviete gesê het dat hulle nie grond kry tussen die ander stamme nie.”

Die hoëpriester kry ’n tiende van die tiendes

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy moet vir die Leviete sê: Julle sal van die Israeliete die tiendes kry wat Ek vir julle gegee het, dit behoort aan julle. Wanneer julle dit kry, dan moet julle ’n tiende daarvan vir My gee.

27. Dit moet julle offers vir My wees, dit is dieselfde soos wanneer julle koring van die dorsvloer en wyn uit die parskuip gekry het en gegee het.

28. So sal ook júlle vir My offers bring, julle sal dit gee van al die tiendes wat julle van die Israeliete kry. En die offers wat julle vir My moet bring, moet julle vir die priester Aäron gee.

29. Julle moet van alles wat julle kry, elke maal vir My die deel gee wat Ek moet kry. Julle moet die beste deel daarvan aan My wy.

30. “Jy moet ook vir hulle sê: Wanneer julle die beste deel gewy het, dan is die deel wat oorbly vir die Leviete soos die koring wat hulle van die dorsvloer moet kry, en soos die wyn wat hulle uit die parskuip moet kry.

31. Julle en julle huisgesinne mag julle deel van die tiendes eet op enige plek, want dit is julle beloning vir die werk wat julle doen in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.

32. Wanneer julle die beste deel vir My gegee het, dan doen julle nie verkeerd wanneer julle die deel eet wat julle moet kry nie. Maar julle moenie die gewyde dinge wat die Israeliete offer, ontwy nie. As julle dit doen, dan sal julle sterf.”