hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die Levi-stam

1. Hier is ’n lys van die nageslag van Aäron en Moses op die dag toe die Here op Sinai-berg met Moses gepraat het.

2. Hier is die name van die seuns van Aäron: Die oudste seun was Nadab, en die ander seuns was Abihu, Eleasar en Itamar.

3. Dit is die name van Aäron se seuns, die gesalfde priesters. Moses het hulle gewy om priesters te wees.

4. Nadab en Abihu het in die Sinai-woestyn gesterf toe hulle verkeerde vuur op die altaar neergesit het. Die Here het hulle laat sterf. Hulle het nie seuns gehad nie, en toe was net Eleasar en Itamar priesters saam met hulle pa Aäron.

5. Die Here het vir Moses gesê:

6. “Jy moet die Levi-stam laat nader kom sodat hulle vir die priester Aäron kan werk.

7. Hulle moet vir die hele volk werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, hulle moet alles wat nodig is, by die tempel-tent doen.

8. Hulle moet sorg vir alles wat by die tent moet wees, hulle moet die werk doen vir die Israeliete, die werk wat nodig is by die tempel-tent.

9. Jy moet die Leviete vir Aäron en sy seuns gee. Die Israeliete gee die Leviete sodat hulle vir Aäron en sy seuns kan werk.

10. Net Aäron en sy seuns mag priesters wees. Wanneer iemand anders die priester-werk doen, dan moet julle hom doodmaak.”

11. Die Here het vir Moses gesê:

12. “Ek het self die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het nie die oudste seuns van die Israeliete geneem nie, Ek het die Leviete geneem in hulle plek. Die Leviete behoort aan My.

13. Al die oudste seuns en al die eerste kleintjies van die mak diere is Myne. Dit is so van daardie dag af toe Ek die oudste seuns in Egipte laat sterf het. Ek het toe elke seun en elke dier wat eerste gebore is, aan My gewy, hulle is Myne, Ek is die Here.”

14. Die Here het in die Sinai-woestyn met Moses gepraat en vir hom gesê:

15. “Jy moet die name van die Leviete en die name van hulle voorvaders en families in ’n boek skryf. Jy moet die name opskryf van elke man en seun wat ’n maand of ouer is.”

16. Moses het toe die name van die Leviete opgeskryf soos die Here gesê het.

17. Hier is die name van die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.

18. Hier is die name van die Gerson-families: Libni en Simi.

19. Die Kehat-families was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

20. Merari se seuns was Magli en Musi. Dit is ook die name van die Merari-families. Hulle was van die nageslag van Levi.

21. Die Libni-familie en die Simi-familie was van die nageslag van Gerson. Hulle was Gerson-families.

22. Die mans en ook die seuns wat ’n maand of ouer was en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 7 500.

23. Die Gerson-families moes hulle tente agter die tempel-tent opslaan, wes van die tempel-tent.

24. Die leier van die Gerson-families was Eljasaf seun van Lael.

25. Die nageslag van Gerson moes werk by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle moes sorg vir: die tempel-tent, die tent en sy seil, die gordyn voor die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,

26. die gordyne rondom die oop stuk grond, die gordyn voor die ingang van die oop stuk grond wat rondom die tempel-tent en die altaar is, en die toue. Hulle moes alles doen wat daar nodig was.

27. Die families Amram, Jishar, Hebron en Ussiël was van die nageslag van Kehat. Hulle was Kehat-families.

28. Die mans en seuns wat ’n maand of ouer was en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 8 600. Hulle moes al die werk by die tempel-tent doen.

29. Die Kehat-families moes hulle tente opslaan langs die tempel-tent, suid van die tempel-tent.

30. Die leier van die Kehat-families was Elisafan seun van Ussiël.

31. Hulle moes werk met die kis, die tafel, die lampstaander, die altare en die gewyde gereedskap daarby, die gordyn en alles wat nodig was by die kis.

32. Die hoofleier van die Levi-stam was Eleasar seun van die priester Aäron. Hy moes kyk dat die Leviete al die werk by die tempel-tent reg doen.

33. Die Magli-familie en die Musi-familie was van die nageslag van Merari.

34. Die mans wat ’n maand of ouer is en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 6 200.

35. Die leier van die Merari-families was Suriël seun van Abihajil. Hulle het hulle tente opgeslaan langs die tempel-tent, noord van die tempel-tent.

36. Die Merari-families moes werk met die rame van die tempel-tent, die dwarspale, die pale, die voetstukke en al die ander dinge wat daarby moes wees,

37. die pale rondom die oop stuk grond en die voetstukke en die penne en toue.

38. Moses en Aäron en sy seuns moes hulle tente opslaan voor die tempel-tent, oos van die tempel-tent. Net Aäron en sy seuns moes vir die Israeliete die werk doen in die tempel-tent. As iemand anders hierdie priester-werk gedoen het, dan moes hulle hom doodmaak.

39. Die Here het vir Moses en Aäron gesê hulle moet die name en families van die Leviete in ’n boek skryf. Die mans en ook die seuns wat ’n maand of ouer is, was almal saam 22 000.

Die Leviete in die plek van die oudste seuns

40. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al die oudste seuns van die Israeliete tel en jy moet hulle name in ’n boek skryf, almal wat ’n maand of ouer is.

41. Maar jy moet die Leviete vir My neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die diere van die Leviete neem in die plek van al die eerste lammers en kalwers van die Israeliete.”

42. Moses het gedoen wat die Here gesê het, hy het die name van die oudste seuns van die Israeliete in ’n boek geskryf, almal wat ’n maand of ouer was.

43. Hulle was almal saam 22 273.

44. Die Here het vir Moses gesê:

45. “Jy moet die Leviete neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die Leviete se diere neem in die plek van die Israeliete se diere. Die Leviete behoort aan My, Ek is die Here.

46. Maar daar is minder Leviete as die oudste seuns van die Israeliete. Daar is 273 meer oudste seuns. Jy moet hulle laat loskoop.

47. Jy moet sê hulle moet elkeen van daardie 273 seuns loskoop vir vyf sikkels silwer, dit moet tempel-sikkels wees. Elke tempel-sikkel weeg 20 gera.

48. Jy moet die geld neem wat jy kry vir die persone wat jy laat loskoop, en jy moet dit vir Aäron en sy seuns gee.”

49. Moses het die loskoop-geld geneem van die persone wat meer was as die Leviete,

50. hy het dit geneem van die oudste seuns van die Israeliete. Dit was 1 365 tempel-sikkels,

51. en Moses het die loskoop-geld vir Aäron en sy seuns gegee. Die Here het gesê hy moet dit doen.