hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 31 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete maak oorlog teen die Midianiete

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Die Israeliete moet die Midianiete straf oor wat hulle gedoen het. Daarna sal jy sterf.”

3. Moses het vir die volk gesê: “Party van julle moet gereedmaak om oorlog te maak sodat julle die Midianiete kan aanval en kan straf soos die Here wil hê.

4. Julle moet 1 000 manne van elke stam stuur om oorlog te maak.”

5. Hulle het toe vir 1 000 manne van elke stam gesê om gereed te maak. Daar was 12 000 manne wat gereed was om oorlog te maak.

6. Moses het hulle gestuur om oorlog te gaan maak. Daar was 1 000 manne van elke stam. Pinehas seun van die priester Eleasar het saamgegaan. Hy het die gewyde dinge by hom gehad, en ook die trompette wat hulle moes blaas.

7. Die manne het oorlog gemaak teen die Midianiete, soos die Here vir Moses gesê het. Hulle het al die mans doodgemaak,

8. en ook die konings van Midian saam met die mans. Die vyf konings van Midian was Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Die Israeliete het ook vir Bileam seun van Beor doodgesteek.

9. Die Israeliete het die vroue van die Midianiete en hulle kinders gevang en saamgevat. Hulle het ook al hulle diere, al hulle skape en bokke en al hulle goed gevat.

10. Die Israeliete het al die stede waar die Midianiete gewoon het en al hulle kampe verbrand,

11. maar hulle het al die goed en alles wat hulle kon kry, mense en diere, saamgevat.

12. Hulle het die gevangenes en die goed wat hulle gevat het, na Moses en die priester Eleasar en na al die Israeliete toe gebring, hulle het dit gebring na die kamp wat in die Moab-vlakte naby die Jordaan-rivier oorkant die stad Jerigo was.

13. Moses en die priester Eleasar en die leiers van die volk het na die leër buite die kamp gegaan.

14. Moses was kwaad vir die offisiere van die leër. Die offisiere was die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne wat teruggekom het van die oorlog.

15. Moses het vir hulle gesê: “Het julle al die vroue laat lewe?

16. Dit is die vróúe wat die Israeliete ontrou laat word het aan die Here. Dit was Bileam wat gesê het die Israeliete moet vir Baäl-Peor dien, en hulle het dit gedoen. Daarom het baie van die volk van die Here gesterf.

17. Kom, julle moet nou elke seun doodmaak en elke vrou wat klaar by ’n man geslaap het.

18. Maar julle mag al die dogters wat nog nie by ’n man geslaap het nie, laat aanhou lewe, julle mag hulle vir julleself neem.

19. Julle moet julle tente buite die kamp opslaan en sewe dae daar bly, elkeen wat iemand doodgemaak het en elkeen wat aan ’n dooie liggaam geraak het. Julle en julle gevangenes moet julle reinig op die derde dag en op die sewende dag.

20. Julle moet ook al julle klere reinig, en al die goed van vel en bok-haar en hout.”

21. Die priester Eleasar het gepraat met die manne wat oorlog gaan maak het. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat julle altyd moet doen, die Here het vir Moses gesê julle moet dit doen:

22-23. Julle moet alles wat nie kan verbrand nie, in vuur reinig. Dit is die goud, silwer, brons, tin en lood. Daarna moet julle dit ook reinig met die water wat mense rein kan maak. Julle moet die dinge wat kan verbrand, met water reinig.

24. Julle moet julle klere was op die sewende dag, dan sal julle rein wees. Daarna mag julle terugkom in die kamp.”

Die goed wat hulle gevat het en die gevangenes

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy en die priester Aäron en al die familieleiers moet die goed en die persone tel wat julle gevat en saamgebring het, al die mense en diere.

27. Dan moet jy dit in twee dele verdeel. Gee een helfte vir die manne wat oorlog gaan maak het en een helfte vir die hele volk.

28. Jy moet ’n deel neem van alles wat die manne kry wat oorlog gaan maak het, en jy moet daardie deel vir die Here gee. Die deel wat die Here moet kry, is een uit elke 500 van die persone, beeste, donkies, en skape.

29. Jy moet dit neem van die helfte wat hulle kry en jy moet dit vir die priester Eleasar gee. Dit is ’n offer vir die Here.

30. En jy moet ’n deel neem van die helfte wat die Israeliete kry. Jy moet een uit elke 50 neem, jy moet dit neem uit die persone, beeste, donkies, skape en bokke, en ander diere. Jy moet hulle gee vir die Leviete wat werk by die tempel-tent van die Here.”

31. Moses en die priester Eleasar het gedoen wat die Here vir Moses gesê het.

32. Die goed wat oorgebly het van alles wat die manne gevat het, was: 675 000 skape en bokke,

33. 72 000 beeste,

34. 61 000 donkies,

35. en 32 000 vroue wat nog nie by ’n man geslaap het nie.

36. Die deel wat die manne gekry het wat oorlog gaan maak het, was: 337 500 skape en bokke,

37. en hulle het 675 daarvan vir die Here gegee,

38. 36 000 beeste, en hulle het 72 vir die Here gegee,

39. 30 500 donkies, en hulle het 61 daarvan vir die Here gegee.

40. Die manne het 16 000 vroue gekry, en hulle het 32 vir die Here gegee.

41. Moses het die deel van die Here vir die priester Eleasar gegee, dit was die offer vir die Here soos Hy gesê het.

42. Die Israeliete se helfte wat Moses geneem het by die manne wat gaan oorlog maak het,

43. was: 337 500 skape en bokke,

44. 36 000 beeste,

45. 30 500 donkies

46. en 16 000 vroue.

47. Moses het een uit elke 50 van die Israeliete se helfte geneem, dit was mense en diere. Moses het dit vir die Leviete gegee wat by die tempel-tent van die Here werk, dit was soos die Here vir Moses gesê het.

Die offers van die offisiere

48. Die offisiere van die leër-groepe het na Moses toe gekom. Hulle was die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne.

49. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het die manne getel wat oorlog gaan maak het, ons was hulle leiers en ons lewe nog almal.

50. Daarom het ons vir die Here ’n offer gebring van die goed wat ons elkeen gekry het, dit is goue goed, armringe, armbande, seëlringe, oor-ringe en ander juwele. Ons bring die offer om vir ons by die Here versoening te doen.”

51. Moses en die priester Eleasar het die goud by die offisiere geneem. Al die goue goed

52. het 16 750 sikkels geweeg, die goed wat die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne gegee het om ’n offer vir die Here te wees.

53. Die manne wat gaan oorlog maak het, het elkeen vir homself goed gevat.

54. Moses en die priester Eleasar het die goud by die offisiere geneem en hulle het dit na die tent geneem waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het dit gedoen sodat die Here altyd aan die Israeliete kon dink.