hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20 Bybel vir Almal (ABA)

Daar kom water uit ’n rots

1. Die Israeliete, die hele volk, het in die eerste maand in die Sin-woestyn gekom. Hulle het by die stad Kades gaan woon. Mirjam het daar gesterf, en hulle het haar daar begrawe.

2. Daar was nie water vir die volk nie, hulle het bymekaargekom en gekla teen Moses en Aäron.

3. Die volk het vir Moses beskuldig. Hulle het gesê: “Ons wens ons het ook gesterf toe die Here ons familie laat sterf het.

4. Hoekom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn gebring sodat ons en ons diere hier moet sterf?

5. Hoekom het julle ons laat weggaan uit Egipte? Hoekom het julle ons na hierdie slegte plek gebring? ’n Mens kan nie hier koring saai nie, ’n mens kan ook nie vye of wingerde of granaatbome plant nie, en hier is nie water om te drink nie.”

6. Moses en Aäron het weggegaan van die volk en hulle het gegaan na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het gebid. Toe het hulle die lig gesien wat om die Koning, die Here, is.

7. Die Here het vir Moses gesê:

8. “Neem Aäron se kierie en roep die volk bymekaar, jy en jou broer Aäron. Dan moet jy met die rots praat, hulle moet sien dat jy dit doen. Daar sal water uit die rots kom. Jy moet vir hulle die water uit die rots laat kom, sodat hulle en hulle diere kan drink.”

9. Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het die kierie gaan haal wat voor die verbondskis was,

10. en hy en Aäron het die volk bymekaargeroep voor die rots. Moses het vir hulle gesê: “Julle moet luister, julle wat so opstandig is! Moet ons vir julle water laat kom uit hierdie rots?”

11. En toe lig Moses sy arm op en hy slaan die rots twee maal met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle diere het gedrink.

12. Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Julle het nie geglo dat Ek sal doen wat Ek gesê het nie. Julle het nie vir die Israeliete gewys dat Ek die heilige God is nie. Daarom sal julle nie hierdie volk bring in die land wat Ek vir hulle gee nie.”

13. Dit het gebeur by die Meriba-water. Die Israeliete het daar vir die Here beskuldig, en Hy het vir hulle gewys dat Hy die heilige God is.

Die Edomiete wil nie hê dat die Israeliete deur hulle land gaan nie

14. Moses het uit Kades boodskappers gestuur na die koning van die land Edom. Hy het gesê: “Dit is jou broer-volk, die Israeliete, wat praat. Jy weet van die baie probleme wat ons gehad het.

15. Ons voorvaders het na Egipte gegaan, en ons het lank daar gewoon. Die Egiptenaars het slegte dinge gedoen aan ons en ons voorvaders.

16. Maar toe het ons tot die Here gebid en gevra dat Hy ons moet help. Die Here het gehoor en Hy het ’n engel gestuur en ons uit Egipte gebring. Ons is nou hier in Kades, ’n stad wat op die grens van jou land is.

17. Laat ons nou asseblief deur jou land gaan. Ons sal nie deur julle koringlande of julle wingerde loop nie, ons sal nie water drink uit julle putte nie, ons sal net op die Koningspad bly, en ons sal nie links of regs wegdraai voordat ons deur jou land is nie.”

18. Die koning van Edom het geantwoord: “Julle mag nie deur my land gaan nie. As julle dit doen, dan sal ek oorlog maak teen julle.”

19. Die Israeliete het vir hom gesê: “Ons sal op die pad bly, en as ons en ons diere van jou water drink, dan sal ons daarvoor betaal. Ons sal nie probleme maak nie, ons wil net deur jou land loop.”

20. Maar die koning van Edom het gesê: “Julle sal nie deur my land gaan nie.”En hy het met ’n groot en sterk leër gekom om die Israeliete aan te val.

21. Die Edomiete wou nie hê dat die Israeliete deur hulle land moet gaan nie, en die Israeliete het weggedraai van die land Edom.

22. Hulle het weggegaan van Kades, en die hele volk het by Hor-berg gekom.

Aäron sterf

23. Hor-berg was langs die grens van die land Edom. Die Here het by Hor-berg vir Moses en Aäron gesê:

24. “Dit is tyd dat Aäron moet sterf. Hy mag nie kom in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie, want julle was opstandig teen My by die Meriba-water.

25. Jy moet Aäron en sy seun Eleasar neem en jy moet hulle bo-op Hor-berg bring.

26. Dan moet jy Aäron se klere uittrek en julle moet die klere vir sy seun Eleasar aantrek. Dan sal Aäron daar sterf.”

27. Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hulle het teen Hor-berg opgegaan. Die hele volk het gestaan en kyk.

28. Moses het Aäron se klere uitgetrek en hy het dit vir Aäron se seun Eleasar aangetrek. Toe het Aäron daar bo-op die berg gesterf. Moses en Eleasar het afgegaan van die berg,

29. en toe die volk besef dat Aäron dood is, het al die Israeliete 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.