hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 36 Bybel vir Almal (ABA)

Die hele volk Israel sal weer op die berge van Israel woon

1. “Jy, mens, jy moet my boodskap bring vir die Israel-berge. Jy moet sê: Israel-berge, julle moet hoor wat sê die Here.

2. Die Here, Hy wat Here is, sê: Die vyande het oor julle gesê: ‘Ons is bly! Daardie berge wat van die begin af daar was, is nou ons berge.’

3. Die vyande het dit gesê, en daarom moet jy nou my boodskap vir hulle bring en sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel-berge, die vyande het die mense weggevat wat op julle gewoon het, die vyande het julle laat swaarkry van al die kante. Julle het aan die ander volke behoort. Hulle het slegte dinge oor julle gesê en hulle het julle beledig.

4. Daarom, Israel-berge, julle moet nou hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, praat met die berge en die heuwels, met die waterslote, die valleie, die hope klippe waar niemand woon nie, met die stede waar die mense weg is en waar die vyande alles vir hulle gevat het. Die ander volke daar naby spot en lag oor daardie stede.

5. Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit alles het gebeur, en daarom praat Ek. Ek is baie kwaad vir die ander volke en vir al die mense van Edom. Hulle het my land gevat om hulle diere daar te laat wei. Hulle het toe vrolik gelag en hulle het gewys dat hulle dink my land is nie belangrik nie.

6. Daarom, jy moet my boodskap bring oor die land Israel, jy moet praat en jy moet vir die berge en die heuwels, vir die waterslote en die valleie sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Nou praat Ek, Ek is baie kwaad en ontsteld omdat die volke julle verneder het.

7. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek tel my hand op en Ek belowe dat Ek die volke rondom julle sal verneder.

8. En julle, Israel-berge, die bome op julle sal takke kry en vrugte dra vir my volk Israel, want my volk sal gou terugkom.

9. Ja, Israel-berge, Ek is hier by julle. Ek sal vir julle sorg. Mense sal werk en saai op julle.

10. Ek sal baie mense op julle laat woon, die hele volk Israel sal hier woon. Hulle sal die stede wat nou net hope klippe is, weer bou en hulle sal daar woon.

11. Ek sal die mense en die diere op julle baie laat word. Hulle sal baie word en vrugbaar wees. Ek sal mense op julle laat woon soos voorheen en Ek sal dit beter laat gaan met julle, beter as voorheen. Julle sal weet dat Ek die Here is.

12. Ek sal weer mense op julle laat loop, my volk Israel sal op julle loop. Hulle sal julle vir hulleself neem, en julle sal aan hulle behoort. Julle sal nie weer hulle kinders laat sterf nie.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Israel-berge, die mense sê julle eet mense op, hulle sê julle laat julle mense se kinders sterf.

14. Daarom sê Ek: Julle sal nie weer mense op-eet nie, julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Ek sal vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee

15. Die Here het gesê: “Ek sal keer dat die ander volke julle nie weer beledig en spot nie. Julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”

16. Ek het gehoor die Here sê vir my:

17. “Mens, die volk Israel het voorheen in hulle land gewoon. Hulle het toe verkeerd gelewe en die land het onrein geword. Ek het gesien die dinge wat hulle doen, is so onrein soos ’n vrou wat menstrueer.

18. Ek het kwaad geword en Ek het hulle gestraf omdat hulle mense vermoor het in die land en omdat hulle die land onrein gemaak het met afgode.

19. Ek het hulle na al die kante toe gejaag tussen die volke in en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Ek het hulle gestraf oor die dinge wat hulle gedoen het.

20. Toe hulle daar by die ander volke kom, het hulle so gelewe dat die mense sleg gepraat het oor My. Die mense het gesê: ‘Dit is die Here se volk, maar hulle moes weggaan uit sy land.’

21. Die volk Israel het my Naam ontwy tussen die volke waar hulle gekom het, en Ek was hartseer daaroor.

22. Daarom moet jy vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel, Ek sal iets doen, maar Ek sal dit nie doen om júlle te help nie, Ek sal dit doen vir mý heilige Naam. Julle het my Naam ontwy tussen die volke waar julle gekom het.

23. Ek sal my groot Naam weer heilig laat wees, my Naam wat julle ontwy het tussen die volke. Die volke sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek iets doen met julle en wanneer Ek vir hulle wys dat Ek die heilige God is.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

24. “Ek sal julle wegneem tussen die volke, Ek sal julle uit al die lande bymekaarmaak en Ek sal julle na julle eie land bring.

25. Ek sal water op julle spat, die water sal julle rein maak. Ek sal alles wegneem wat julle onrein maak en ook al julle afgode.

26. Ek sal vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die harde klip-hart uithaal uit julle liggame en Ek sal vir julle ’n sagte hart van vleis gee.

27. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal julle laat lewe soos Ek wil hê, Ek sal julle laat doen wat Ek sê.

28. Julle sal woon in die land wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.

29. Ek sal julle red van alles wat julle onrein gemaak het. Ek sal praat met die koring en Ek sal die koring baie laat word. Julle sal nie weer honger wees nie.

30. Ek sal vir die bome sê om baie vrugte te dra, en daar sal baie koring op die lande wees. Dan sal julle nie weer honger wees en julle sal nie weer hoor hoe die ander volke julle spot nie.

31. Julle sal onthou hoe sleg julle gelewe het en julle sal onthou wat julle verkeerd gedoen het. Julle sal naar word oor julle sondes en oor die dinge wat julle gedoen het, dinge wat Ek haat.

32. Dit is nie vir júlle wat Ek dit sal doen nie, dit moet julle weet. Israel, julle moet skaam wees en jammer voel oor wat julle gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

33. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle reinig en Ek sal julle sonde vergewe. Daardie dag sal Ek weer mense in die stede laat woon. Hulle sal die stede weer bou, die stede wat nou net hope klippe is.

34. Hulle sal weer werk in die land waar nou nie mense kan woon nie. Mense wat verbykom, sal nie weer sien dat die land leeg is nie.

35. Hulle sal sê: ‘Niemand kon voorheen in hierdie land woon nie, maar dit het nou geword soos die tuin van Eden. Mense het die stede se sterk mure weer gebou en hulle het daar gaan woon, in die stede wat verwoes was en waar niemand kon woon nie.’

36. Die volke wat oorgebly het rondom julle, sal weet dat Ek die Here is wat die stede weer bou wat verwoes was en wat bome plant in die grond waar niemand kon woon nie. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.”

37. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die volk Israel bid en dit vir My vra, dan sal Ek hulle baie laat word, so baie soos die mense se skape en bokke.

38. Hulle sal word soos die skape en bokke van die mense wat aan My behoort, soos die skape en bokke in Jerusalem wanneer dit feestyd is. Die stede wat nou net hope klippe is, sal vol skape en bokke wees. Die mense sal weet dat Ek die Here is.”