hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 26 Bybel vir Almal (ABA)

Die stad Tirus sal verdwyn

1. Die Here het met my gepraat. Dit was in die elfde jaar, op die eerste dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, die mense van die stad Tirus het slegte dinge gesê van Jerusalem. Hulle het gesê: ‘Ons is bly! Die poort van die volke lê stukkend. Die stad is oop vir ons. Ons sal ryk word, want Jerusalem is nou net ’n hoop klippe.’ ”

3. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Tirus, Ek is nou jou vyand. Ek sal baie volke laat kom om jou te verwoes en plat te trap, hulle sal kom soos die see se branders wat oor alles spoel.

4. Hulle sal die mure van die stad Tirus verwoes en sy torings afbreek. Ek sal die grond wegkrap waarop die stad staan, net kaal klippe sal oorbly.

5. Tirus sal ’n plek word waar mense hulle visnette droogmaak. Ek het gepraat. Die ander volke sal alles vat wat in Tirus is.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

6. “Vyande sal die mense wat in die dorpe buite Tirus woon, doodmaak in die oorlog. Almal sal weet dat Ek die Here is.”

7. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal nou vir koning Nebukadnesar van Babel bring om Tirus aan te val. Hy is die koning oor al die konings en hy sal kom met perde en oorlogkarre en met manne op perde en baie soldate.

8. Hy sal die mense doodmaak wat woon in die dorpe buite Tirus. Hy sal ’n grondwal bou en hy sal grond gooi teen die muur van die stad. Hy sal skild-dakke tot by die mure bring.

9. Hy sal met ’n stormram teen die mure stamp en hy sal die torings stukkend slaan met ysters.

10. Hy sal baie perde hê, die stof wat die perde maak, sal die hele stad toemaak. Niks sal hom keer nie. Wanneer hy deur die poorte kom, dan sal die mure van Tirus begin bewe, want die manne op die perde en die oorlogkarre sal baie raas.

11. Sy perde sal die strate stukkend trap met hulle pote, hy sal die mense in die stad doodmaak en hy sal die sterk pilare omgooi.

12. Hulle sal die goed in die stad vir hulleself vat en hulle sal al die winkels leegmaak. Hulle sal die mure en die mooi huise afbreek en hulle sal die hele stad in die see gooi, die klippe en die hout en die grond.

13. So sal Ek die mense van Tirus laat ophou om vrolik te sing. Niemand sal weer die musiek van hulle liere hoor nie.

14. Ek sal net kaal klippe laat oorbly waar die stad was. Dit sal ’n plek wees waar mense hulle visnette droogmaak. Niemand sal weer die stad bou nie, want Ek, die Here, het gepraat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

15. Die Here, Hy wat Here is, sê vir die stad Tirus: “Die ander lande by die see sal begin bewe wanneer die vyande jou oorwin, wanneer jou mense wat seergekry het, kla en skree, en wanneer die vyande jou mense doodmaak.

16. Almal wat regeer oor die lande by die see, sal afklim van hulle trone. Hulle sal hulle bo-klere afhaal, hulle sal hulle bont klere afruk, hulle sal bewe en op die grond gaan sit. Hulle sal aanhou bewe, hulle sal skrik wanneer hulle jou sien.

17. Hulle sal ’n klaaglied begin sing oor jou. Hulle sal sing en hulle sal oor jou sê:“Ag, Tirus, jy is weg.Mense het oor die see gekomom in jou te woon.Almal het geweet van jou,jou mense het regeer op die see.Almal was bang vir julle,vir jou en die mense wat in jougewoon het.

18. Vandag het vyande jou oorwin,en nou bewe die mense op die eilande.Jy is weg, en die mense in die landeby die see het groot geskrik.”

19. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal jou verwoes, jy sal soos baie ander stede word, niemand woon nou daar nie. Ek sal die diep water oor jou laat kom, die groot see sal jou toemaak.

20. Dan sal Ek jou laat afgaan saam met die ander stede wat na die doderyk gaan, na die mense toe wat lank gelede gesterf het en in die doderyk is. Ek sal jou laat woon in die onderwêreld soos die ander stede wat lank gelede hope klippe geword het. Niemand sal weer in jou woon nie, Ek sal nie weer vir jou ’n plek gee in die wêreld nie.

21. Ek laat mense bang word wanneer hulle jou sien, en jy sal sterf, jou vyande sal jou verwoes, jy sal verdwyn. Mense sal jou soek, maar hulle sal jou nie kry nie, nooit nie.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.