hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 43 Bybel vir Almal (ABA)

Die profeet moet vir die volk sê hoe die tempel moet lyk

1. Daarna het die man vir my na die buitenste oos-poort gebring.

2. En daar, van die oostekant, kom toe die lig wat om die Koning, die God van Israel, is. Ek het iets gehoor soos wanneer baie water raas, en die lig van die Here het dit lig laat word op die aarde.

3. Dit het dieselfde gelyk soos dit gelyk het toe ek moes kom sê dat die vyande die stad sal verwoes. Dit het ook so gelyk toe die Here aan my verskyn het by die Kebar-kanaal. Ek het gaan lê met my gesig teen die grond.

4. Die lig wat om die Koning, die Here, is, het na die tempel gekom deur die buitenste oos-poort.

5. Toe het die Gees my opgetel en my gebring na die binneste oop stuk grond, en hier het die lig wat om die Koning, die Here, is, die tempel volgemaak.

6. Ek het gehoor Iemand praat met my uit die tempel. Die man het nog langs my gestaan.

7. Die Persoon het gesê: “Mens, hier is die plek waar Ek op my troon sal sit en die plek waar Ek my voete sal sit. Ek wil altyd hier woon tussen die Israeliete. Die volk Israel, die mense en hulle konings, sal nie weer ontrou wees aan My nie, hulle sal nie my heilige Naam ontwy nie, hulle sal nie weer die lyke van hulle konings hier kom begrawe nie.

8. Die konings het die drumpel en die raam van die deur van hulle paleis teen my tempel gesit. Daar was net ’n muur tussen hulle en My. Hulle het my heilige Naam onrein laat word met die dinge wat hulle gedoen het, dinge wat Ek haat. Ek het kwaad geword en Ek het hulle laat sterf.

9. Die volk moet nou ophou om ontrou te wees aan My en hulle moet hulle konings se lyke wegvat ver van My. Dan sal Ek altyd tussen hulle woon.

10. Jy, mens, jy moet vir die volk Israel vertel van my tempel, sodat hulle dit kan meet en skaam kan word oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

11. En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, dan moet jy vir hulle sê hoe die tempel moet lyk. Jy moet vir hulle sê waar alles moet wees, waar mense kan uitgaan en inkom. Jy moet ook vir hulle sê wat hulle moet doen en hoe hulle dit moet doen. Jy moet dit skryf en hulle moet dit sien, sodat hulle die tempel so sal bou en alles sal doen wat Ek wil hê.

12. Die wet oor die tempel is: Die boonste punt van die berg en alles daar rondom moet hoog-gewyd wees. Dit is die belangrikste wet oor die tempel.”

Die altaar voor die tempel

13. “Julle moet die altaar meet, maar die el wat julle hier moet gebruik, is een span langer as die gewone el. Die afleivoor by die altaar moet een el diep en een el breed wees, en die rand van die voor moet een span breed wees. Dan moet julle meet hoe hoog die altaar moet wees.

14. Van die afleivoor onder in die grond tot by die onderste rand van die altaar moet dit twee el wees. Die onderste rand moet een el breër wees as die boonste rand, en van die onderste rand tot by die boonste rand moet dit twee el wees. Die altaar moet vier el hoog wees en die boonste rand moet een el breër wees as die vuurmaakplek.

15. Die vuurmaakplek op die altaar moet vier el hoog wees, en die vier horings moet vas wees aan die boonste hoeke.

16. Die vuurmaakplek moet vierkantig wees, dit moet twaalf el lank en twaalf el breed wees.

17. Die boonste rand, onder die vuurmaakplek, moet ook vierkantig wees, dit moet 14 el lank en 14 el breed wees. Die kant rondom die altaar moet ’n halwe el breed wees. Die afleivoor rondom die altaar moet een el diep wees. Die trappe van die altaar moet by die oostekant wees.”

18. Die man het vir my gesê: “Mens, die Here, Hy wat Here is, sê: Dit is die dinge wat julle moet doen met die altaar wanneer julle dit klaar gebou het om daarop brand-offers te bring en om bloed daarop te spat:

19. Jy moet vir die Levi-priesters ’n bul gee om ’n sonde-offer te wees. Daardie priesters is uit die nageslag van Sadok en hulle mag by My altaar kom om vir My offers te bring.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

20. “Jy moet van die bul se bloed neem en jy moet dit smeer aan die vier horings van die altaar, en teen die hoeke van die boonste rand van die altaar, en ook rondom die kante van die altaar. So moet jy die altaar gereedmaak sodat mense My daar kan dien.

21. Dan moet jy die bul wat ’n sonde-offer is, verbrand op die regte plek naby die tempel, buitekant die gewyde plek.

22. Die volgende dag moet jy ’n gesonde bok-ram bring om ’n sonde-offer te wees. Jy moet dan dieselfde doen soos jy met die bul gedoen het. Jy moet die altaar gereedmaak sodat mense My daar kan dien.

23. Wanneer jy die altaar so gereedgemaak het, dan moet jy ’n gesonde bul en ’n gesonde skaap-ram bring om te offer.

24. Jy moet hulle vleis na die altaar bring. Die priesters moet sout op die vleis gooi en hulle moet die vleis vir die Here offer. Dit is ’n brand-offer.

25. Jy moet sewe dae lank elke dag ’n bok-ram bring om ’n sonde-offer te wees, en jy moet ook ’n bul en ’n skaap-ram offer. Dit moet almal gesonde diere wees.

26. So moet julle sewe dae lank die altaar gereedmaak sodat mense My daar kan dien. Julle moet die altaar reinig en julle moet dit aan My wy.

27. Wanneer die sewe dae verby is, van die agste dag af en daarna, dan mag die priesters julle brand-offers en julle ete-offers op die altaar bring. Dan sal Ek julle aanvaar.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.