hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33 Bybel vir Almal (ABA)

Esegiël moet die wag wees vir die volk Israel

1. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet praat met die mense van jou volk, jy moet vir hulle sê: Wanneer Ek oorlog bring oor ’n land, dan sal die mense van die land een van hulle eie mense kies en hulle sal hom ’n wag maak vir hulle.

3. Wat moet die wag dan doen? Wanneer hy sien die vyande kom om die land aan te val, dan moet hy die ramshoring blaas en hy moet die mense waarsku.

4. Wanneer iemand die ramshoring hoor en hy doen niks, en die vyande kom en hulle maak hom dood, dan is dit sy eie skuld dat hy sterf.

5. Want hy het die ramshoring gehoor, maar hy het niks gedoen nie. Dit sal sy eie skuld wees dat hy sterf. As hy geluister het toe die wag hulle gewaarsku het, dan sou hy sy lewe gered het.

6. Maar wanneer die wag sien dat die vyande kom en hy blaas nie die ramshoring om die mense te waarsku nie, en die vyande kom en hulle maak iemand dood, dan sterf daardie persoon oor sy eie sonde. Maar Ek sal die wag straf omdat daardie persoon gesterf het.

7. Mens, Ek het jou gekies om die wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê dat jy hulle moet waarsku, dan moet jy dit doen.

8. Wanneer Ek vir iemand wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker, en jy praat nie en jy waarsku hom nie teen sy verkeerde lewe nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf. Maar Ek sal vir jóú straf oor sy dood.

9. Maar wanneer iemand verkeerd doen, en jy waarsku hom teen sy verkeerde lewe en jy sê vir hom hy moet ophou om verkeerd te lewe, maar hy doen dit nie, dan is dit daardie persoon se eie skuld dat hy sterf, jy sal onskuldig wees.

10. En jy, mens, jy moet vir die volk Israel sê: Julle sê: ‘Ons was opstandig en ons het baie sonde gedoen, so baie dat dit soos ’n swaar vrag is wat ons moet dra. Ons het klaar begin om stadig te sterf, ons kan nie aanhou lewe nie.’

11. Mens, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek wil nie hê dat die mens wat verkeerd doen, moet sterf nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek wil hê hy moet ophou verkeerd doen sodat hy kan aanhou lewe. Israel, julle moet ophou verkeerd doen, julle moet ophou. Hoekom wil julle sterf?

12. En jy, mens, jy moet vir jou mense sê: Wanneer iemand altyd reg gelewe het, en hy word later opstandig teen My, dan sal dit nie help dat hy voorheen reg gelewe het nie. En wanneer iemand altyd verkeerd gedoen het, en hy hou op om verkeerd te doen, dan sal Ek hom nie straf nie. ’n Mens wat altyd reg gelewe het en wat dan begin sonde doen, sal nie aanhou lewe nie.

13. As ’n persoon altyd reg gelewe het, en Ek sê hy sal aanhou lewe, dan moet hy nie dink dít sal hom red nie, dan moet hy nie verkeerde dinge begin doen nie, want as hy verkeerd begin lewe, dan sal Ek nie dink aan die tyd toe hy reg gelewe het nie. Hy sal sterf omdat hy verkeerd gedoen het.

14. As ’n persoon altyd verkeerd gedoen het, en Ek sê vir hom hy sal sterf, dit is seker, en hy hou op om sonde te doen en hy doen reg en hy lewe reg, dan sal hy aanhou lewe, hy sal nie sterf nie.

15. Wanneer ’n persoon iets teruggee wat hy geneem het omdat iemand hom nie kon betaal nie, wanneer hy die goed teruggee wat hy by ander mense gevat het, wanneer hy lewe soos Ek wil hê en hy doen nie verkeerd nie, dan sal hy lewe, hy sal nie sterf nie.

16. Ek sal nie dink aan al die sonde wat hy gedoen het nie, Ek sal hom nie daaroor straf nie. Hy doen nou reg en hy lewe reg, daarom sal hy aanhou lewe, dit is seker.

17. Jou mense sê dit is nie reg dat Ek so doen nie, maar dit is húlle wat nie reg doen nie.

18. As iemand altyd reg gelewe het, maar hy hou dan op om reg te lewe en hy doen verkeerd, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het.

19. En as iemand altyd verkeerd gelewe het, en hy hou dan op om verkeerd te doen en hy doen reg en lewe reg, dan sal hy aanhou lewe omdat hy reg doen en reg lewe.

20. Israel, sê julle Ek doen nie reg nie? Ek sal elkeen van julle oordeel oor wat hy doen.”

Die vyande het Jerusalem oorwin

21. Dit was die twaalfde jaar nadat ons gevangenes geword het, in die tiende maand, op die vyfde dag van die maand. Iemand wat vry weggekom het uit Jerusalem, het vir my kom sê dat die vyande die stad oorwin het.

22. Die aand voordat die persoon gekom het, het ek gevoel die Here sit sy hand op my. Ek kon toe nie praat nie. Maar toe die persoon die volgende oggend by my kom, het die Here my weer laat praat.

Die Here sal die land verwoes

23. Ek het gehoor die Here sê vir my:

24. “Mens, die mense wat daar tussen die hope klippe in die land Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land gekry. Ons is baie mense, die Here sal die land vir ons gee.’

25. Ek is die Here, Hy wat Here is. Jy moet vir hulle sê dat Ek sê: Julle eet vleis wat nog vol bloed is, julle is lief vir julle afgode, julle vermoor mense. Dink julle Ek moet nou die land vir julle gee?

26. Julle wil al die probleme regmaak met die swaard, met oorlog, julle doen dinge wat Ek haat, julle maak mekaar se vroue onrein. Julle wil die land hê. Dink julle dit is reg? Nee.

27. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die mense wat oorgebly het en wat daar tussen die hope klippe lewe, hulle sal in oorlog sterf. Ek gee die mense wat buite in die veld is, vir die wilde diere om op te vreet. En die mense wat wegkruip in die berge of in die grotte, sal van pes sterf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

28. Ek sal die land verwoes, daar sal niemand meer kan woon nie, daar sal niks oorbly van alles waarop hulle trots is en wat hulle beskerm nie. Niemand sal op die berge van Israel loop nie.

29. Hulle het dinge gedoen wat Ek haat. Daarom sal Ek die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.”

Hulle sal onthou dat daar ’n profeet by hulle was

30. “En jy, mens, jou mense praat oor jou oral langs die mure en by die deure van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom ons gaan hoor watter boodskap die Here vir ons gestuur het.’

31. Dan kom hierdie volk van My almal na jou toe en hulle kom sit voor jou. Hulle luister na wat jy sê, maar hulle doen dit nie. Hulle sê met hulle mond dat hulle lief is vir jou, maar in hulle harte voel hulle anders, hulle soek die dinge wat die beste is vir hulleself.

32. Jy is vir hulle soos iemand wat mooi sing, hy sing liedjies oor die liefde en hy speel op die lier. Hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen dit nie.

33. Maar die dinge wat jy sê, sál gebeur, dit is seker. En dan sal hulle onthou dat daar ’n profeet by hulle was.”