hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48

Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 40 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here wys vir die profeet hoe Jerusalem sal lyk

1. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Dit was in die 25ste jaar nadat ons gevangenes geword het in die land Babel. Dit was in die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, ja, presies op daardie dag. Dit was 14 jaar nadat die stad Jerusalem verwoes is.

2. Die Here het vir my dinge gewys. Dit het gelyk of Hy my na Jerusalem gebring het en my op ’n baie hoë berg neergesit het. Op die suidekant van die berg was iets wat gelyk het soos ’n stad.

3. Die Here het my daarnatoe gebring, en daar was ’n man, die man het geblink soos brons. In sy hand was ’n tou van vlas en ’n meetriet, en hy het by die poort gestaan.

4. Die man het vir my gesê: “Mens, jy moet goed kyk en luister, jy moet alles onthou wat ek vir jou sal wys, want die Here het jou hiernatoe gebring om vir jou alles te wys. Jy moet vir die volk Israel alles gaan vertel wat jy gesien het.”

Die muur om die tempel

5. Ek sien toe daar is ’n muur buite-om die tempel. Die man het die muur gemeet. Die muur was een meetriet dik en een meetriet hoog. Die meetriet wat die man in sy hand gehad het, was ses el en ’n handbreedte lank.

Die buitenste oos-poort

6. Toe het die man na die poort by die oostekant gegaan. Hy het teen die trappe opgeklim en hy het die drumpel van die poort gemeet. Die drumpel was een meetriet breed. Daar was net een drumpel, en dit was een meetriet breed.

7. Daar was kamers in die poort. Elke kamer was een meetriet lank en een meetriet breed. Elke muur tussen die kamers was vyf el dik. Die drumpel van die poort langs die kant van die voorportaal van die poort was een meetriet breed. Die voorportaal was aan die voorkant van die tempel.

8. Die man het die drumpel van die voorportaal aan die voorkant van die tempel gemeet. Dit was een meetriet breed.

9. Toe meet hy die voorportaal. Dit was ag el lank. Die pilare van die voorportaal was twee el dik. Die voorportaal van die poort was aan die voorkant van die tempel.

10. Daar was drie kamers langs elke kant van die poort. Die kamers was ewe groot en die pilare langs altwee kante was ewe dik.

11. Die man het gemeet hoe breed die poort is waar ’n mens ingaan. Dit was tien el. Die poort was 13 el lank.

12. Daar was ’n lae muur voor die kamers langs altwee kante. Die muur was een el hoog. Die kamers langs altwee kante was ses el breed.

13. Die man het ook gemeet hoe breed die poort is, van die een buitemuur tot by die ander buitemuur. Dit was 25 el. Die deure van die kamers was oorkant mekaar.

14. Hy het ook die voorportaal gemeet. Dit was 60 el tot by die eerste pilaar van die oop stuk grond agter die poort.

15. Dit was 50 el van die voorkant van die poort waar ’n mens kon ingaan, tot by die voorkant van die voorportaal van die binneste poort.

16. Daar was vensters in die mure van al die kamers en teen die pilare by die binnekant van die poort. Daar was hortjies voor die vensters. Daar was ook vensters in al die mure van die voorportaal. Op die pilare was prente van palmbome.

Die buitenste oop stuk grond

17. Die man het my toe na die buitenste oop stuk grond geneem. Rondom die oop stuk grond was daar kamers en plaveisel. Daar was 30 kamers langs die plaveisel.

18. Die plaveisel was langs die poorte en dit was so lank soos die poorte. Dit was die onderste plaveisel.

19. Die man het gemeet hoe ver dit is van die voorkant van die onderste poort tot by die buitekant van die binneste oop stuk grond. Dit was 100 el by die oostekant en by die noordekant.

Die buitenste noord-poort

20. Die man het ook gemeet hoe lank en hoe breed die buitenste noord-poort langs die buitenste oop stuk grond is.

21. Die poort het ook langs elke kant drie kamers gehad, en sy pilare en sy voorportaal was so groot soos die eerste poort. Die poort was ook 50 el lank en 25 el breed. ’n

22. Die vensters en die pilare en die palmbome in hierdie poort was so groot soos die vensters en pilare in die poort by die oostekant. ’n Mens kon teen sewe trappe opgaan in die poort. Daar was ’n voorportaal by die binnekant.

23. Daar was ook ’n poort langs die oop stuk grond by die binnekant, oorkant die noord-poort. Dit was soos die poort oorkant die oos-poort. Die man het gemeet hoe ver die poorte van mekaar is. Dit was 100 el.

Die buitenste suid-poort

24. Toe het hy my na die suidekant laat loop. Daar was die buitenste suid-poort. Die man meet toe die pilare en die voorportaal van die poort, dit was so groot soos die pilare en die voorportaal van die ander poorte.

25. Daar was ook vensters in die poort en in die voorportaal, en die poort was ook 50 el lank en 25 el breed.

26. ’n Mens kon teen sewe trappe in die poort opgaan, en daar was ’n voorportaal by die binnekant. Daar was ook palmbome uitgesny op die pilare by altwee kante.

27. Daar was ’n poort by die suidekant van die binneste oop stuk grond. Die man het gemeet hoe ver dit is van die een poort na die ander poort. Dit was 100 el.

Die binneste suid-poort

28. Toe neem hy my deur die suid-poort na die binneste oop stuk grond. Toe hy die binneste suid-poort meet, was dit so groot soos die ander poorte.

29. Die kamers en die pilare en die voorportaal was so groot soos die ander kamers en pilare en voorportale. Daar was ook vensters in al die mure. Daar was vensters in al die mure van die poort en die voorportaal. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

30. Elke poort het ’n voorportaal gehad, dit was 25 el lank en vyf el breed.

31. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om op die oop stuk grond by die buitekant te kom. Daar was palmbome uitgesny op die pilare en ’n mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

Die binneste oos-poort

32. Toe bring die man my na die binneste oop stuk grond, dit was langs die oostekant. Daar was ’n poort, en hy het die poort gemeet. Dit was so groot soos die ander poorte.

33. Die kamers in die poort en die pilare en die voorportaal was so groot soos die ander kamers en pilare en voorportale. Die voorportaal het ook vensters gehad. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

34. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om op die oop stuk grond by die buitekant te kom. Daar was palmbome uitgesny op die pilare langs altwee kante, en ’n mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

Die binneste noord-poort

35. En toe bring die man my na die noord-poort en hy meet die poort. Dit was so groot soos die ander poorte.

36. Daar was kamers en pilare en ’n voorportaal en vensters in al die mure. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

37. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om in die buitenste oop stuk grond te kom, en daar was palmbome uitgesny op die pilare langs altwee kante. ’n Mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

38. Daar was nog ’n kamer. Die kamer se deur was in die voorportaal van die poort. Hulle het die vleis vir die brand-offer daar afgespoel.

39. In die voorportaal van die poort was twee tafels langs elke kant. Hulle het die diere vir die brand-offer en die sonde-offer en die skuld-offer op die tafels geslag.

40. Daar was twee tafels buite, langs die trappe waar ’n mens in die noord-poort ingaan, en daar was twee tafels by die ander kant van die voorportaal van die poort.

41. Daar was vier tafels buite en vier tafels binne-in die poort. Die priesters het die diere vir die offers op die tafels geslag.

42-43. Die vier tafels waar hulle die diere vir die brand-offer geslag het, was gemaak van gekapte klip. Elke tafel was een en ’n halwe el lank en een en ’n halwe el breed en een el hoog. Daar was lae muurtjies teen die mure van die poort, die lae muurtjies was een handbreedte breed. Die priesters het die diere geslag vir die brand-offer en die ander offers, en hulle het dan hulle gereedskap op die lae muurtjies neergesit. Hulle het die offer-vleis op die tafels neergesit.

Die kamers vir die mense wat moes sing en vir die priesters

44. Langs die buitekant van die binneste poort was daar kamers vir die mense wat moes sing. Dit was op die binneste oop stuk grond. Die een kamer was langs die noord-poort. Die voorkant van die kamer was suid. Die ander kamer was langs die oos-poort. Die voorkant van hierdie kamer was noord.

45. Die man het vir my gesê: “Een van hierdie kamers langs die noord-poort is vir die priesters wat in die tempel werk.

46. Die kamer langs die oos-poort, is vir die priesters wat by die altaar werk. Hulle is almal die nageslag van Sadok. Net hierdie priesters uit die nageslag van Levi mag naby die altaar kom om vir die Here te werk.”

Die binneste oop stuk grond en die tempel

47. Toe het die man die oop stuk grond gemeet. Dit was vierkantig, 100 el lank en 100 el breed. Die altaar was voor die tempel.

48. Daarna het die man my gebring na die voorportaal van die tempel. Hy het die mure langs altwee kante van die deur gemeet. Elke muur was vyf el lank. Die deur by elke kant was drie el breed.

49. Die voorportaal was 20 el lank en elf el breed. Daar was trappe om op te gaan in die voorportaal. Daar was pilare langs altwee kante van die voorportaal.