hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 25 Die Boodskap (DB)

Vyf was gereed, vyf nie

1-4. Jesus vertel toe vir hulle nog ’n verhaal oor hoe dit in God se nuwe wêreld gaan wees: “Daar was tien jongmeisies wat ’n troue wou bywoon. Soos die gewoonte is, het hulle hulle lampe gevat en die bruidegom langs die pad gaan inwag. Hy moes sy bruid deur die loop van die aand by haar huis gaan haal. Niemand het egter die presiese tyd geweet wanneer die bruidegom en sy vriende sou kom nie. Hulle was nog by sy huis besig om partytjie te hou. Die helfte van die meisies was slim genoeg om ekstra lampolie saam te vat, ingeval die bruidegom nie gou kom nie.

5. “Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak.

6. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’

7. Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees.

8. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring.

9. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle.

10. Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin.

11. “Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’

12. Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’

13. “Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. “Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.”

Sit skouer aan die wiel vir God

14. “Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit.

15. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg.

16. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword.

17. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel.

18. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek.

19. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het.

20. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’

21. Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’

22. “Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’

23. Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker.

24. “Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê.

25. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’

26. Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle.

27. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het.

28. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen.

29. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het.

30. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.”

Die Regter sê: wie my vriende

31. “Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit.

32. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei.

33. Hy sal die een groep regs van Hom laat staan en die ander groep aan sy linkerkant.

34. “Die Koning sal dan na die mense regs van Hom draai. ‘Staan nader, want my Vader is baie tevrede met julle. Heel van die begin af het Hy die hemel vir mense soos julle reggemaak. Hy wil hê dat julle dit saam met Hom moet kom geniet. Maar weet julle waarom God so tevrede met julle is?

35. Laat Ek julle vertel. Ek het niks gehad om te eet nie, maar julle het My kos gegee. Toe Ek dors was, was julle daar met ’n glas water. Toe Ek nog vir julle ’n onbekende was, het julle My al in julle huise verwelkom en selfs slaapplek gegee.

36. Julle het vir My klere gegee toe Ek niks gehad het om aan te trek nie. Op my siekbed het julle My geduldig versorg. Toe Ek in die tronk beland het, het julle julle nie vir My geskaam nie, maar vir My kom kuier.’

37. “Die mense wat reg gelewe het, onderbreek Hom: ‘Here, wag so ’n bietjie. Waarvan praat U?

38. Wanneer het ons U kos gegee toe U honger was of ’n glas water toe U dors was? Ons kan nie onthou dat ons ooit vir U klere of blyplek gegee het nie. Help ons, asseblief, ons verstaan nie mooi nie.

39. Wanneer was U siek of in die tronk en het ons U gehelp?’

40. “Die Koning op die troon antwoord: ‘Wil julle regtig weet wanneer julle hierdie dinge vir My gedoen het? Luister dan goed: elke glas water of stukkie brood wat julle aan ’n broer van My gegee het, het julle eintlik aan My gegee. Wie my vriende help, al is hulle hoe onbelangrik, help My.’

41. “Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom?

42. Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie.

43. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’

44. “Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’

45. “Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’

46. “Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef.”