hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12 Die Boodskap (DB)

Dien Jesus, nie godsdienstige wette nie

1. Een sabbat stap Jesus en sy dissipels op ’n voetpaadjie deur ’n koringland. Sy dissipels begin toe honger voel en pluk koringare af en begin daaraan peusel.

2. Die Fariseërs het hulle natuurlik soos valke dopgehou en was dadelik by: “Wat gaan hier aan? Kyk net hoe breek jou dissipels ons godsdienstige reëls. Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie!”

3. Rustig antwoord Jesus hulle: “Het julle nog nie in julle Bybel gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie?

4. Het julle al vergeet hoe hulle die reëls oortree en sommer die brood geëet het wat spesiaal vir God eenkant gesit is? Net God se priesters is mos toegelaat om dit te eet.

5. “Nog ’n vraag: Het julle ook nog nie in die Bybel gelees dat priesters op die sabbat in die tempel moet werk nie? Wat beteken dit? Ja, natuurlik, hulle is verplig om op die sabbat te werk. Maak dit nou sondaars van hulle? Tog sekerlik nie! En wat leer dit ons? Daar kom situasies waarin skynbaar belangrike wette ter wille van nog belangriker sake verslap kan word. “Maar hoe moet ons nou weet wanneer die een saak ‘belangriker’ as die ander is? Laat Ek vir julle sê.

6. Hier voor julle staan Iemand wat belangriker is as alle godsdienstige reëls. As julle moet kies tussen gehoorsaamheid aan Hom en allerhande godsdienstige wette, kies Hom. Maar nou gaan julle hier tekere oor mense wat niks verkeerds doen nie, alles net omdat julle godsdienstige reëls dien en nie vir God nie.

7. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie.

8. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.”

Help mense op die sabbat

9. Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode.

10. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?”

11. Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie?

12. Nou het Ek vir julle nog ’n vraag: Is ’n skaap naastenby soveel werd as ’n mens? Eintlik is dit tog ’n belaglike vraag. Daarom, as jy ’n skaap op die sabbat sal help, mag jy sekerlik ’n mens ook help. Dus, gebruik die sabbat om goed te wees vir ander mense.” Die Jode was stil. Hulle kon nie aan ’n enkele teenargument dink nie.

13. Jesus sê toe vir die gebreklike man: “Maak jou hand oop en hou dit na My toe uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en dit was honderd persent reg.

Hoop op Hom

14. Die Fariseërs is daar weg, omgekrap omdat Jesus hulle hokgeslaan het. Daarom het hulle allerhande planne uitgewerk om van Hom ontslae te raak.

15. Jesus het daarvan gehoor. Dit het Hom laat besluit om maar liewer ’n rukkie daar weg te bly. ’n Hele klomp mense het egter saam met Jesus gegaan. Die siekes onder hulle het Hy gesond gemaak.

16. Hy het hulle egter baie mooi gevra om dit maar stil te hou en nie te veel oor Hom te praat nie.

17. Dit het hulle herinner aan die woorde van die profeet Jesaja:

18. “Dit is my Seun dié wat Ek uitgekies het, Ek het Hom baie lief. Hy maak My so bly. Hy sal die krag hê wat my Gees gee, met die finale oordeel sal Hy die regter oor alle mense wees.

19. Hy sal nie raas en baklei nie. Hy sal nie op mense in die hoofstraat skel nie.

20. Iemand wat seergekry het, sal Hy nie seerder maak nie. Hy sal ook nie iemand wat in die moeilikheid is, verder in die moeilikheid bring nie; inteendeel! Hy help mense om die geestelike wenpaal te haal. Hulle sal dan nie meer oor God se oordeel bekommerd hoef te wees nie.

21. Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!”

Kyk na die vrugte, dan ken jy die boom

22. Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan.

23. Dit het die omstanders baie beïndruk. In verwondering het hulle vir mekaar gevra: “Is Jesus nie dalk die Een wat weer soos koning Dawid oor ons gaan regeer nie?”

24. Die Fariseërs was glad nie gelukkig toe hulle die mense dit hoor sê nie. “Nee wat, moenie julle laat kul nie,” het hulle probeer keer. “Hierdie man is baie goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste so na hom.”

25. Hierdie skynheiliges kon egter niks vir Jesus wegsteek nie. Hy het geweet wat hulle dink. Daarom was sy teenargument gereed: “’n Weermag met soldate wat oor elke liewe ding onder mekaar baklei, sal nooit ’n oorlog kan wen nie. ’n Gesin waarin elkeen net heeltyd die ander wil teengaan, sal uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie.

26. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan alles vir hom eindig? Hy sal dit mos nooit doen nie!“Dit is nie al nie. Sê My, julle dryf ook mos demone uit.

27. As julle sê Ek kan dit net doen omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wie se vriende maak dit julle? Toe, werk die antwoord uit. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle ook weet waarom Ek demone kan verjaag.

28. Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal.

29. “Kom ons gebruik ’n beeld. Hoe op aarde dink julle sal dit moontlik wees om sommer by die huis van ’n sterk, gesonde man in te stap en voor hom al sy goed te steel? Hy sal jou mos keer, tensy jy hom eers oorrompel en stewig vasbind. “Wat sê hierdie argumente vir julle? Dít, dat julle kan aflei aan wie se kant Ek staan.

30. Nou staan julle voor die keuse: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan die kant van my vyand.

31. “Daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie sal vergewe nie. Maar daar is een ding wat God glad nie kan verdra nie. Dit is as mense sê dat wat Hy doen van die duiwel af kom en so die Heilige Gees met die duiwel vergelyk.

32. “Julle kan liewer nog hierdie dinge van My sê, maar moenie dit van die Heilige Gees sê nie. Dan is julle regtig in groot moeilikheid by God. God sal julle dit nooit vergewe nie.

33. “Julle weet mos dat sommige bome lekker eetbare vrugte dra, terwyl ander bome se vrugte nutteloos is omdat dit ’n hopelose boom is. ’n Mens weet of ’n boom goed of sleg is deur na sy vrugte te kyk. Net so is dit met mense. Moet julle dus nie dom hou nie. Eetbare vrugte kom nie van nuttelose bome af nie.

34. “Julle spul valse mense. Julle is vrot van binne, maar nogtans hou julle aan met al julle vroom praatjies. Maar julle kan nie wegsteek wat binne-in julle aangaan nie. Uit wat julle sê, verraai julle julleself. Soos die spreekwoord sê: ‘Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.’

35. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is.

36. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik.

37. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie.”

Laat God toe terwyl jy nog kan

38. Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.”

39. “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak.

40. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder.

41. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister.

42. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is.

43. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie,

44. sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg.

45. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.”

My regte familie

46. Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar opdaag. Hulle wou iets vir Hom sê.

47. Iemand het hulle opgemerk. “Jou ma en broers is hier buite. Hulle wil met jou praat.”

48. Jesus se antwoord was: “Kan julle vir My sê wie my regte familie is? Wie is regtig my ma en wie is regtig my broers?”

49. Hy wys toe na die mense wat Hom met oorgawe volg. “Sulke mense is my regte familie;

50. hulle is vir My my ma, my broers en susters. Almal wat lewe soos my hemelse Vader van hulle verwag, is ’n lid van my familie. Hulle is regtig my broers, my susters, my ma.”