hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16 Die Boodskap (DB)

Jesus doen nie wonders

1. ’n Groepie Fariseërs en Sadduseërs het op die toneel verskyn om Jesus in die openbaar te probeer verneder. Hulle het Hom voor die mense uitgedaag om ’n wonderwerk te doen.

2. Jesus het egter vir hulle gesê: “Julle weet mos goed om die weer te voorspel. In die aand sê julle: ‘Môre gaan dit mooi weer wees. Kyk net hoe rooi is die lug.’

3. En wanneer die lug toegetrek is, sê julle: ‘Vandag gaan dit onweer wees.’ As julle so goed is met die weer, hoekom kan julle dan nie die tyd reg lees nie? Kan julle nie sien wie nou by julle is nie?“Julle spul sondaars is op soek na tekens. Julle wil ’n bewys hê dat God deur My werk. Weet julle, dit is net sy vyande wat allerhande tekens wil hê.

4. Die enigste ‘teken’ wat Ek bereid is om vir julle te gee, is dié van Jona wat drie dae lank in die maag van ’n vis was. My lewe sal ook vorentoe soos dié van Jona verloop.”Jesus het toe omgedraai en weggestap.

Oppas vir verkeerde leringe

5. ’n Rukkie later, toe hulle onderweg was na die oorkant van die See van Galilea, het die dissipels agtergekom dat hulle vergeet het om brood te koop.

6. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet baie versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7. Die dissipels het saggies vir mekaar gesê dat Hy seker maar verwys na die feit dat hulle vergeet het om brood te koop.

8. Jesus het egter goed geweet wat hulle onder mekaar sê.“Hoekom is julle bekommerd omdat julle vergeet het om brood te koop?” vra Hy. “Julle is regtig kleingelowig. Vergeet julle so gou?

9. Onthou julle dan nie meer hoeveel mandjies oorskietkos julle opgetel het nadat Ek vir 5 000 mense met vyf brode kos gegee het nie?

10. En wat van die ander keer toe Ek vir 4 000 mense met sewe brode kos gegee het? Toe het daar ook ’n hele klomp mandjies vol kos oorgebly.

11. Hoe kan julle dan nog dink dat Ek oor kos gepraat het toe Ek gesê het dat julle moet lig loop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs?”

12. Toe begryp die dissipels dat Jesus nie met hulle gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie. Hulle het besef dat Hy hulle wou waarsku teen die verkeerde leringe van die Fariseërs en die Sadduseërs. Dit is soos suurdeeg wat ’n mens se hele lewe deurmekaarkrap.

Petrus sê wie Jesus is

13. Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?”

14. Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.”

15. Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?”

16. Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.”

17. Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak.

18. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie.

19. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.”

20. Nadat Jesus al hierdie dinge vir die dissipels gesê het, het Hy hulle verbied om vir ander mense te sê dat Hy die Messias, God se Gestuurde, is.

Die Messias kom om te ly

21. Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak.

22. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.”

23. Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.”

Dit is moeilik om ’n volgeling van Jesus te wees

24. Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra.

25. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld.“Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af:

26. Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg?

27. “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien.

28. “Ek het egter goeie nuus vir julle: party van julle wat nou na My luister, sal beslis nie doodgaan voordat julle met julle eie oë gesien het hoe Ek op die toneel verskyn nie. Julle sal sien hoe God se nuwe wêreld aanbreek.”