hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 3 Die Boodskap (DB)

Johannes die Doper preek

1. In daardie tyd het Johannes die Doper ook op die toneel verskyn. Hy het in die woestyn van Judea gepreek.

2. Johannes het vir die mense wat na hom kom luister het, gesê: “Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande.”

3. Die profeet Jesaja het ook al na Johannes verwys. Hy skryf oor hom:“Daar is ’n man in die woestyn wat hard uitroep. Hy sê: ‘Vat al die hindernisse uit die Here se pad uit. Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is!’”

4. Johannes se klere was van kameelhare gemaak. Hy het dit met ’n leerbelt om sy lyf vasgemaak. Sy kos was sprinkane en heuning. Dié het hy in die veld gekry.Kort voor lank was Johannes die Doper groot nuus. Mense het van oraloor na hom toe gestroom.

5. Van heinde en ver het hulle na hom toe gekom: uit Jerusalem, oral uit Judea en uit die omgewing van die Jordaanvallei.

6. Almal van hulle wat in die openbaar erken het dat hulle nie doen wat God van hulle vra nie, is daar by die Jordaan deur hom gedoop.

7. Op ’n dag het Johannes gesien dat ’n klomp Joodse godsdienstige leiers ook na hom toe kom om gedoop te word. Hy was baie omgekrap daaroor. “Julle skynheiliges! Julle seil soos ’n klomp slinkse slange hier na die doopwater toe. Weet julle nie dat God se oordeel baie naby is nie? Wie het vir julle gesê julle kan dit vryspring as ek ’n klomp water oor julle uitgooi?

8. Kry eerder julle lewe in orde en doen wat God sê. Wys dat julle berou het oor al julle sondes.

9. Moenie julleself bluf deur te sê Abraham is julle pa nie. Dit tel nie by God nie. Hy trek nie mense voor wat uit Abraham se nageslag kom nie. As sulke dinge vir God belangrik was, kon Hy mos die klippe wat hier rondlê in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.

10. “Ek sê weer vir julle: God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met sy byl in die hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die vuur van die hel gooi.”

11. Johannes het ook met die ander mense gepraat wat na hom toe gekom het. Hy het vir hulle gesê: “Soos julle kan sien, doop ek julle nou met water. Hierdie doop is die bewys dat julle jammer is oor julle sondes en dat julle wil doen wat God vra. Maar ek het goeie nuus vir julle: binnekort kom daar ’n baie belangrike Man. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om sy skoene soos ’n slaaf vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal julle soos ’n vuur van binne af skoonmaak.

12. “Hierdie belangrike Man wat na julle toe op pad is, sal al die koring van die kaf kom skei. Hy gaan ’n duidelike streep trek tussen mense wat na God luister, en mense wat nie na Hom luister nie. Vir almal wat doen wat Hy sê, sal Hy ’n plek gee in God se nuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God se voorskrifte steur nie, sal Hy in die hel gooi. Daar gaan hulle gepynig word in ’n vuur wat nooit ophou brand nie.”

Jesus word gedoop

13. In daardie tyd, terwyl Johannes besig was om te preek, het Jesus van Galilea af na die Jordaan toe gekom. Hy wou ook hê dat Johannes Hom moes doop.

14. Maar Johannes wou dit nie doen nie. “Nooit nie! Ek behoort eintlik deur U gedoop te word!” het Johannes geskok gesê. “U is mos nie ’n sondaar soos al die ander mense wat ek doop nie. Hoekom kom U na my toe dat ek U moet doop?”

15. Jesus wou nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel. “Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld te red.”

16. Toe Johannes dit hoor, het hy dadelik ingestem. Toe Jesus ná sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos ’n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal.

17. Toe praat ’n stem uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!”