hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 1 Die Boodskap (DB)

1. My verhaal oor Jesus Christus begin met sy geslagsregister. Dit bevat die name van sy voorouers. Die belangrikste twee persone in sy geslagsregister is Dawid, die groot koning van Israel, en Abraham, die man met wie God ’n baie belangrike ooreenkoms gemaak het.

2. Abraham was Isak se pa. En Isak was Jakob se pa. Jakob was die pa van Juda en sy broers.

3. Op sy beurt was Juda die pa van die tweeling Peres en Serag. Hulle ma se naam was Tamar. Haar seuns was Peres en Serag. Peres was Gesron se pa, en Gesron die pa van Ram.

4. Ram was Amminadab se pa, terwyl Amminadab die pa van Nagson en Salmon was.

5. Salmon was getroud met Ragab. Hulle het ’n seun gehad met die naam Boas. Sy vrou se naam was Rut. Sy was ’n Moabiet. Hulle het hulle seun Obed genoem. Obed se seun was Isai.

6. Isai was die pa van koning Dawid. Dawid was Salomo se pa. Salomo is gebore uit die verhouding tussen Dawid en Batseba.

7. Salomo het ’n seun gehad met die naam Rehabeam. Hy was die pa van Abia, en Abia die pa van Asa.

8. Asa was Josafat se pa, terwyl Josafat die pa van Joram was. Joram se seun was Ussia,

9. en Ussia se seun was Jotam. Jotam se seun was Agas. Agas het ’n seun gehad met die naam Hiskia.

10. En Hiskia het ’n seun gehad met die naam Manasse. Op sy beurt was Manasse die pa van Amon. Amon was die pa van Josia, en

11. Josia was die pa van Jojagin en sy broers. In daardie tyd is die Israeliete as slawe na Babilonië toe weggevoer.

12. God het gesorg dat die Babiloniese ballingskap nie ’n einde aan die geslagsregister van Jesus gemaak het nie. Jojagin het kort daarna ’n seun gehad met die naam Sealtiël. Sealtiël se seun was Serubbabel.

13. Op sy beurt was Serubbabel die pa van Abihud, en Abihud die pa van Eljakim. Eljakim het ’n seun gehad met die naam Asor.

14. Asor was die pa van Sadok, en Sadok die pa van Agim. Agim het sy seun Elihud genoem,

15. terwyl Elihud sý seun Eleasar genoem het. Eleasar was weer die pa van Mattan. Mattan was die pa van Jakob.

16. Jakob was die pa van Josef, die man van Maria. Sy is die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het. En Jesus is natuurlik die Messias, die Gestuurde van God.

17. In Jesus se geslagsregister is daar veertien geslagte van Abraham tot by Dawid. Daarna, van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap, is daar nog veertien geslagte. Na hierdie groot krisis in Israel se geskiedenis is daar nog veertien geslagte tot by Christus se geboorte.

Jesus word gebore

18. Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria.

19. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom.

20. Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het.

21. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.”

22. So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

23. “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.”(As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.)

24. Toe Josef wakker word, het hy presies gedoen wat die engel vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou.

25. Hy het egter nie by haar geslaap totdat haar Seun gebore is nie. Toe die Kindjie gebore is, het Josef Hom Jesus genoem.