hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15 Die Boodskap (DB)

Onreinheid kom van binne af

1. Kort daarna het ’n groepie Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem hulle opwagting gemaak. Hulle vra toe vir Jesus:

2. “Waarom steur jou dissipels hulle nie aan die godsdienstige tradisies van ons voorvaders nie? Hulle was nie hulle hande voor ete nie.”

3. Jesus het dadelik gereageer: “En hoekom doen julle nie wat God van julle vra nie? Julle leef ver van Hom af met julle godsdienstige tradisies en al!

4. “Kom Ek gee julle ’n voorbeeld,” het Hy bygevoeg. “Julle weet mos dat God in die Bybel sê: ‘Jy moet jou pa en ma respekteer.’ Hy sê ook: ‘Iemand wat lelike dinge oor sy pa of ma sê, moet doodgemaak word.’

5. Maar julle wikkel julle maklik uit hierdie voorskrif uit deur te sê: ek het al my geld aan die tempel bemaak. Net ek mag nou daarvan gebruik; niemand anders nie.

6. Daarom kan ek nie langer vir my pa en ma sorg nie.“Weet julle, as julle julle so gou van julle verpligting teenoor julle ouers losmaak, het julle geen respek vir hulle nie. Dan stel julle julle eie godsdienstige tradisies bo God se Woord. Daardeur beroof julle God se Woord van sy krag.

7. Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het:

8. ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie.

9. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’”

Verander van binne af

10. Daarna het Jesus die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister nou goed na wat Ek sê:

11. niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.”

12. ’n Rukkie later kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Weet U hoe kwaad die Fariseërs vir U was oor wat U vir hulle gesê het?”

13. Jesus antwoord toe: “My hemelse Vader sal elkeen wat nie in Hom glo nie in die hel gooi.

14. Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.”

15. Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.”

16. Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê?

17. Verstaan julle nie dat alle kos wat ’n mens eet, in jou maag beland en later uit jou liggaam uitgeskei word nie?

18. Maar dit wat jy sê, kom uit jou hart.

19. Dáár ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel en te lieg en lelike dinge teen God te sê.

20. Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie. Dit gaan vir Hom glad nie daaroor of jy jou hande voor ete was of nie. Sulke dinge kan ’n mens nie onrein maak nie.”

Geloof kry die onmoontlike reg

21. Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek.

22. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.”

23. Jesus het egter gemaak of Hy haar nie hoor nie. Maar sy het nie moed verloor nie. Sy het agter Hom bly aanloop en om genade gepleit.Die dissipels was later baie omgekrap oor hierdie vrou. Hulle sê toe vir Jesus: “Jaag haar weg. Sy maak ons gek met haar geskreeu.”

24. Jesus sê vir die vrou: “Ek het net een taak. Dit is om die mense in Israel wat ver van God af lewe na Hom toe terug te bring.”

25. Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!”

26. Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.”

27. “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!”

28. “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.

Nog ’n ete vir ’n menigte

29. Na hierdie episode het Jesus na die gebied by die See van Galilea teruggekeer. Daar het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim en gaan sit.

30. ’n Groot aantal mense het daar na Hom toe gekom. Hulle het baie siekes saamgebring: verlamdes, blindes, doofstom mense, gebreklikes en sommer nog ’n menigte. Hierdie siek mense is almal gesond gemaak.

31. Doofstommes het begin praat; gebreklikes se ledemate was weer normaal; verlamdes het begin rondbeweeg, en die blindes kon sien.Almal wat hierdie groot wonderwerk gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het God hardop geprys.

32. Terwyl die skare nog in vervoering was oor wat om hulle gebeur het, het Jesus sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir hierdie mense. Hulle is al ’n volle drie dae hier by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger huis toe stuur nie. Dalk maak hulle dit nie op die lang pad terug nie.”

33. Die dissipels vra verbaas vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg kos kry vir so ’n menigte?”

34. “Hoeveel brood het julle by julle?” vra Hy.“Sewe brode en ’n paar vissies,” antwoord hulle.

35. Jesus laat toe al die mense sit.

36. Daarna neem Hy die sewe brode en die vissies in sy hand. Na ’n dankgebed begin Hy om dit te breek en aan sy dissipels te gee. Hulle het dit weer aan die skare uitgedeel.

37. Daar was uiteindelik oorgenoeg kos vir almal. Die mense het geëet totdat hulle versadig was. Na die tyd is daar sewe mandjies met oorskietkos opgetel.

38. Net die mans by hierdie ete was sowat 4 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.

39. Na die ete het Jesus die mense na hulle huise toe teruggestuur. Hy het in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.