hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 2 Die Boodskap (DB)

Geleerdes uit die ooste kom eer die nuwe Koning

1. Jesus is in die dorp Betlehem gebore. Dit is in die landstreek van Judea. In daardie tyd was Herodes die Grote die koning van die mense in Palestina. ’n Paar sterrekenners uit die ooste het kort na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom.

2. Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.”

3. Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem.

4. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word.

5. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf:

6. “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.”

7. Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het.

8. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.”

9. Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk.

10. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was.

11. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre.

12. Later het die geleerdes weer ’n droom gehad. ’n Engel het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle eie land teruggegaan.

Jesus in Egipte

13. Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.”

14. Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan.

15. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê:“Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.”

16. Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.)

17. So het die woorde van Jeremia ook waar geword:

18. “In Rama het die mense ’n harde stem gehoor. Dit klink soos iemand wat verskriklik huil. Dis Ragel! Sy huil oor al haar kinders. Niemand kan haar troos nie, want haar kinders is dood.”

Jesus van Nasaret

19. Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat.

20. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.”

21. Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe.

22. Daar aangekom, het hy gehoor dat Herodes se seun Argelaus die nuwe koning van Judea was. Hy was toe skrikkerig om daar te gaan bly. Terwyl Josef nog wonder wat hy moes doen, het hy weer in ’n droom ’n boodskap van God af gekry, hierdie keer om na die gebied van Galilea toe te gaan.

23. Daar het Josef en sy gesin in ’n dorpie met die naam Nasaret gaan bly. So het die profete se woorde waar geword dat die Verlosser ’n Nasarener genoem sou word.