hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5 Die Boodskap (DB)

Jesus preek op die berg

1. Eendag, toe Jesus sien hoe baie mense na Hom toe kom, het Hy teen ’n berg opgeklim sodat Hy hulle kon leer. Sy volgelinge het saam met Hom teen die berg opgeklim.

2. Nadat Hy gaan sit het, sê Hy vir hulle:

3. “Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld.

4. “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.

5. “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.

6. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat.

7. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.

8. “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.

9. “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.

10. “Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld.

11. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is.

12. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.”

Christene se taak in die wêreld

13. “Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi.

14. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo.“Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is.

15. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie.

16. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Moet Christene die wet hou?

17. “Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam.

18. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit.

19. “As jy dit sou waag om een van die voorskrifte in die wet te ignoreer, hoe onbenullig dit ook al is, is jy in groot moeilikheid by God. Jy is nog dieper in die moeilikheid as jy ander mense leer om hierdie voorskrifte te ignoreer. As jy sulke dinge doen, moet jy nie dink dat daar vir jou ’n plek in God se nuwe wêreld sal wees nie. Aan die ander kant: as jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde as jy te doen, sal jy definitief ’n plek kry in God se nuwe wêreld.

20. “Maar nou moet julle baie mooi luister. Julle moenie die fout maak om die wet van God op dieselfde manier te probeer gehoorsaam as julle godsdienstige leiers nie. Nee, julle sal die wet nog baie strenger as hulle moet gehoorsaam as julle ’n plek wil hê in God se nuwe wêreld. Kom Ek gee julle ’n paar voorbeelde hoe julle dit moet doen.”

Moord begin in die hart

21. “Julle onthou mos dat die godsdienstige leiers aan julle ouers gesê het: ‘’n Mens mag nie moord pleeg nie. Alle moordenaars moet hof toe gesleep word en die doodstraf kry.’

22. “Maar Ek sê vir julle dat iemand wat vir sy medemens kwaad is al klaar ’n moordenaar is. So iemand behoort in die hof aangekla te word. Iemand wat sy medemens uitskel vir ’n gek moet selfs voor die hooggeregshof gedaag word. En iemand wat so ver gaan om sy medemens ’n idioot te noem moet in die vuur van die hel gaan brand.

23. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is,

24. moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring.

25. “Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg.

26. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.”

Slegte seksuele begeertes

27. “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’

28. “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree.

29. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar?

30. “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?”

Niemand mag skei nie

31. “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’

32. “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.”

Moenie beloftes maak nie

33. “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’

34. “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop.

35. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee!

36. “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie.

37. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.”

Moenie wraak neem nie

38. “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word.

39. “Ek sê egter vandag vir julle: julle moenie mense wat julle sleg behandel probeer terugkry nie. As iemand jou deur die gesig klap om jou te verneder moet jy dit maar vat. Moenie terugslaan nie.

40. En as iemand jou hof toe wil vat oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik vir hom terug. Sluit ook sommer ’n groot geskenk daarby in om die vrede te bewaar.

41. “As ’n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ’n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra.

42. “Julle moet vrygewig wees. Deel julle besittings met mense wat julle vra om hulle te help. Moenie mense wegjaag as hulle iets by julle wil leen nie.”

Wees lief vir jou vyand

43. “Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’

44. “Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg.

45. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense se grond en oor slegte mense se grond.

46. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ’n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie.

47. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende.

48. “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op die aarde lief. As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle net soos Hy!”