hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22 Bybel vir Almal (ABA)

God toets vir Abraham

1. Daarna het God vir Abraham getoets. Hy het vir Abraham gesê:“Abraham!”En Abraham het geantwoord: “Hier is ek!”

2. Toe sê God: “Neem jou seun, jou enigste seun vir wie jy lief is, neem vir Isak en gaan na Moria-land. Jy moet jou seun daar vir My offer. Hy moet die brand-offer wees. Jy moet hom offer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys.”

3. Die volgende oggend vroeg het Abraham sy donkie opgesaal. Hy het twee van sy slawe en sy seun Isak saamgeneem. Hy het hout gekap vir die brand-offer, en hy het na die plek gegaan wat God vir hom gesê het.

4. Op die derde dag het Abraham die plek ver weg gesien.

5. Toe sê Abraham vir sy slawe: “Bly hier by die donkie. Ek en my seun gaan daarnatoe. As ons klaar die Here aanbid het, dan sal ons terugkom na julle toe.”

6. Abraham het die hout vir die brand-offer geneem en hy het dit op sy seun Isak gesit. Hy het self die kole vuur en die mes geneem, en hulle twee het saam geloop.

7. Isak sê toe vir sy pa Abraham: “Pa?”En Abraham antwoord: “Hier is ek, my seun.”Isak vra toe: “Hier is die vuur en die hout, maar waar is die skaap vir die brand-offer?”

8. En Abraham sê: “My seun, God sal self die skaap vir die brand-offer gee.”Hulle twee het saam verder geloop.

9. Toe hulle by die plek kom wat God vir Abraham gesê het, het Abraham daar ’n altaar gebou en hy het die hout uitgepak. Hy het sy seun Isak vasgebind en hom op die altaar gesit, bo-op die hout.

10. Abraham steek toe sy hand uit en neem die mes om sy seun dood te maak,

11. maar toe roep die Engel van die Here uit die hemel vir hom en sê: “Abraham! Abraham!”En hy antwoord: “Hier is ek!”

12. Toe sê God: “Moenie aan jou seun raak of iets aan hom doen nie, want nou weet Ek dat jy My wil dien. Jy het nie geweier om jou enigste seun vir My te offer nie.”

13. Toe Abraham rondkyk, sien hy ’n skaap-ram. Die ram se horings was vas in ’n bos. Abraham het gegaan en hy het die ram gevat en hy het die ram in sy seun se plek ge-offer.

14. Abraham noem toe die plek “Die Here gee wat jy nodig het.”Die mense sê vandag nog: “Die Here sal op sy berg gee wat jy nodig het.”

15. Die Engel van die Here het weer uit die hemel met Abraham gepraat

16. en gesê: “Jy het gedoen wat Ek gevra het. Jy het nie geweier om jou seun te offer nie. Daarom belowe Ek, die Here,

17. dat Ek jou baie sal seën. Ek sal jou nageslag baie maak, so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see. Jou nageslag sal hulle vyande se stede oorwin.

18. Al die volke van die aarde sal My vra om hulle te seën soos Ek jou nageslag sal seën. Ek sal dit doen omdat jy gedoen het wat Ek gesê het.”

19. Abraham het teruggegaan na sy slawe toe, en hulle het saam na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba gewoon.

20. Daarna het Abraham gehoor dat sy broer Nahor se vrou Milka kinders gekry het.

21. Die oudste seun was Us, en sy broers was Bus en Kemuel. Kemuel was die voorvader van die Arameërs.

22. Sy ander broers was Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.

23. Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns gekry vir Nahor, Abraham se broer.

24. Nahor het ook ’n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook vir hom seuns gekry. Hulle name was Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.