hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 6 Bybel vir Almal (ABA)

Die reuse

1. Die mense op die aarde het baie geword. Hulle het ook dogters gehad,

2. en die engele het na die dogters gekyk, want hulle was mooi. Hulle het party dogters gekies en met hulle getrou.

3. Toe sê die Here: “Ek sal nie meer die mense so lank laat lewe nie. Hulle is mense en hulle sal sterf. Die mense sal van nou af nie ouer as 120 jaar word nie.”

4. In daardie tyd en ook daarna was daar reuse op die aarde. Die reuse was die kinders van die engele wat met die mense se dogters getrou het. Die reuse was die sterk manne van daardie tyd, almal het geweet van hulle.

Die Here wil die mense en die diere doodmaak

5. Die Here het gesien die mense doen baie verkeerd en hulle dink altyd net slegte dinge.

6. Die Here was hartseer. Hy was jammer dat Hy die mense gemaak het en dat Hy hulle op die aarde laat woon het.

7. Die Here sê toe: “Ek sal die mense wat Ek gemaak het, doodmaak en wegvee van die aarde af. Ek sal al die mense, die diere en die voëls doodmaak. Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.”

8. Maar die Here was tevrede met Noag.

Noag

9. Hier is die verhaal van Noag. Noag was ’n goeie en regverdige man. Hy het nie gelewe soos die ander mense van daardie tyd nie. Noag het God gedien en naby Hom gelewe.

10. Noag het drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet.

11. God het gesien al die ander mense op die aarde is sleg en wreed.

12. God het na die aarde gekyk en gesien die mense is almal baie sleg.

13. Daarom het God vir Noag gesê: “Ek het besluit om al die mense op die aarde dood te maak, want hulle is wreed, hulle het die hele aarde sleg gemaak.

14. Jy moet ’n ark maak van hout. Jy moet kamers in die ark maak en jy moet teer binne en buite aan die hout verf. Die teer sal die hout dig toemaak sodat die water nie kan inkom nie.

15. “Dit is hoe groot jy die ark moet maak: Die ark moet 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog wees.

16. Jy moet ’n deksel bo-op die ark maak en dit moet een el hoog wees. Jy moet ook ’n deur aan die kant van die ark insit en daar moet drie verdiepings wees: onder, middel en bo.

17. “Ek sal nou ’n groot watervloed oor die aarde bring, Ek sal al die mense en diere op die aarde doodmaak. Alles wat op die aarde lewe, sal doodgaan.

18. “Maar met jóú maak Ek ’n verbond.“Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters.

19. Jy moet ook ’n mannetjie en ’n wyfie van elke soort dier saam met jou in die ark neem, sodat hulle saam met jou kan aanhou lewe.

20. Jy moet twee van elke soort dier saam met jou neem. Hulle sal na jou toe kom en hulle moet saam met jou aanhou lewe.

21. Jy moet ook genoeg kos vir julle en vir die diere bymekaarmaak en saamneem om te eet.”

22. Noag het alles gedoen presies soos God gesê het.