hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31 Bybel vir Almal (ABA)

Jakob gaan terug na die land Kanaän

1. Jakob het gehoor dat Laban se seuns sê: “Jakob het alles gevat wat aan ons pa behoort het. Hy het ryk geword van ons pa se goed.”

2. Jakob het ook gesien dat Laban nie meer so vriendelik met hom was soos voorheen nie.

3. Die Here het vir Jakob gesê: “Gaan terug na die land waar jy gebore is en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”

4. Jakob het toe vir Ragel en Lea laat roep na die veld waar hy by sy skape en bokke was.

5. En hy het vir hulle gesê: “Ek sien julle pa is nie meer so vriendelik met my soos voorheen nie, maar die God van my pa was by my.

6. Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa,

7. maar julle pa het my bedrieg en hy het elke maal my betaling verander, tien maal. Maar God het my beskerm teen sy skelm planne.

8. Toe julle pa sê dat die skape en bokke met kolle my betaling sal wees, toe kry al die skape en bokke lammers met kolle. En toe hy sê dat die skape en bokke met strepe my betaling sal wees, toe kry die skape en bokke gestreepte lammers.

9. So het die Here julle pa se diere weggevat en vir my gegee.

10. In die tyd toe die skape en bokke gepaar het, het ek gedroom en gesien al die bok-ramme wat die ooie dek, het strepe of kolle.

11. Ek het gedroom die Engel van God sê vir my: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’

12. Toe sê Hy: ‘Jy moet goed kyk: Al die bok-ramme wat met die ooie paar, het strepe of kolle. Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het.

13. Ek is die God wat by Bet-El aan jou verskyn het. Jy het daar olyf-olie op die gedenksteen gegooi toe jy belowe het om My te dien. Maak nou gereed en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na die land waar jy gebore is.’ ”

14. Ragel en Lea sê toe vir Jakob: “Ons sal niks van ons pa erf nie.

15. Hy doen met ons soos hy doen met mense van ander volke. Hy het ons lank gelede aan jou verkoop en hy het die geld opgebruik.

16. Al die goed wat God van ons pa weggevat het, behoort aan ons en aan ons kinders. Jy moet nou doen wat God vir jou gesê het.”

17. Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim

18. en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe.

Laban se beeldjies

19. Laban het sy skape en bokke gaan skeer, en toe het Ragel die beeldjies van haar pa se afgode gesteel.

20. Jakob het vir Laban bedrieg, want hy het nie vir Laban vertel dat hy wil vlug nie.

21. Jakob het al sy goed geneem en gevlug. Hy het deur die Eufraat-rivier getrek en na die Gilead-berg gegaan.

22. Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het.

23. Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry.

24. Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.”

25. Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan.

26. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en jy het my dogters soos gevangenes weggevat.

27. Hoekom het jy soos ’n skelm gevlug en my bedrieg en niks gesê nie? Ek sou jou laat gaan het en ons sou vrolik gewees het.“Ons sou gesing het en musiek gemaak het met tamboeryne en liere.

28. “Jy het weggegaan, en ek kon nie my kleinseuns en my dogters groet nie. Jy het verkeerd gedoen.

29. Ek kan jou straf as ek wil, maar die God van julle pa het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.’

30. Dit is goed as jy weggaan omdat jy so baie verlang na jou pa se familie, maar hoekom het jy my beeldjies gesteel?”

31. Jakob het vir Laban gesê: “Ek het gevlug, want ek was bang en ek het gedink jy sal miskien jou dogters wegvat van my.

32. As jy jou beeldjies hier by iemand kry, dan mag daardie persoon nie lewe nie. Jy mag self soek voor al jou mense wat hier is en jy mag die beeldjies terugvat.”Jakob het nie geweet dat Ragel die beeldjies gesteel het nie.

33. Laban het toe gesoek in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne se tente, maar hy het niks gekry nie. Hy gaan toe uit Lea se tent na Ragel se tent.

34. Ragel het die beeldjies in ’n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie.

35. Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.”Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie.

Jakob en Laban maak ’n ooreenkoms

36. Toe het Jakob kwaad geword en hy het hard met Laban gepraat. Hy het vir Laban gevra: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Hoekom het jy my gevolg en gejaag?

37. Jy het in al my goed gesoek. Het jy iets gekry wat uit jou huis kom? As jy iets gekry het, sit dit dan hier neer voor my familie en jou familie, sodat hulle kan sê wie was reg, ek of jy.

38. Ek was 20 jaar lank by jou. Jou skaap-ooie en jou bok-ooie het gereeld lammers gekry, en ek het nie jou ramme geslag om te eet nie.

39. Wanneer die roofdiere ’n dier van jou doodgebyt het, dan het ek nie die dooie dier vir jou gebring nie. Ek moes een van my diere in sy plek gee. Wanneer diewe in die dag of in die nag van jou diere gesteel het, dan moes ek een van mý diere gee vir elkeen van daardie diere.

40. Ek het baie swaar gekry. In die dag het die son my gebrand en in die nag het ek baie koud gekry. Ek kon nie slaap nie.

41. Ek het nou 20 jaar vir jou gewerk. Ek het 14 jaar lank gewerk om jou twee dogters te kry, en ses jaar om skape en bokke van jou te kry. Jy het my betaling tien maal verander.

42. As die God van my pa my nie gehelp het nie, dan sou jy my weggestuur het en jy sou niks vir my gegee het nie. Die God van Abraham en die God wat vir Isak beskerm het, het gesien dat ek swaarkry. Hy het gesien hoe hard ek gewerk het, en Hy het gisteraand gesê wie is reg, ek of jy.”

43. Toe sê Laban vir Jakob: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie kinders is my kinders en hierdie skape en bokke is my skape en bokke. Alles wat jy sien, is myne. Ek mag nie aan my dogters of hulle kinders iets doen wat sleg is nie.

44. Kom ons twee maak ’n ooreenkoms wat sê wat ons aan mekaar moet doen.”

45. Jakob neem toe ’n klip en hy sit dit regop sodat dit ’n gedenksteen kan wees wat hulle sal help om die ooreenkoms te onthou.

46. Jakob sê toe vir sy familie: “Bring nog klippe.”Hulle het ’n hoop klippe opmekaar gepak. Toe het hulle daar by die hoop klippe geëet.

47. Laban het die plek Jegar-Sahaduta genoem en Jakob het dit Galed genoem.

48. Toe sê Laban: “Hierdie hoop klippe wys vandag dat ons saam besluit het om reg te doen aan mekaar.”Daarom het hulle dit Galed genoem.

49. Laban het die plek ook Mispa genoem. Hy het gesê: “Die Here sal kyk dat dit reg gaan tussen ons, ook wanneer ons mekaar nie sien nie.

50. God sal weet wanneer jy slegte dinge doen aan my dogters of wanneer jy met ander vroue trou, ook wanneer daar niemand anders by ons is nie.”

51. Laban het vir Jakob gesê: “Hier is die hoop klippe en hier is die gedenksteen wat ek regop gesit het.

52. Hierdie hoop klippe en die gedenksteen is die tekens dat ons nie slegte planne sal hê wanneer ons hier verbygaan na mekaar toe nie.

53. Die God van jou voorvader Abraham en die God van my voorvader Nahor sal altyd sê wie is reg, ek of jy.”Jakob het toe gesê die God wat sy pa Isak beskerm het, is die getuie van die ooreenkoms.

54. Jakob het op die berg ’n offer gebring vir die Here. Hy het sy familie geroep om saam te kom eet. Hulle het geëet en hulle het daardie nag op die berg geslaap.

55. Die volgende oggend vroeg het Laban sy kleinseuns en sy dogters gegroet en geseën. Toe het hy teruggegaan huis toe.