hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Julle moet elke oudste seun van die Israeliete vir My gee. Die oudste seun van die mense en ook die eerste manlike kleintjie van al die diere behoort aan My.”

3. Moses het vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou, die dag toe julle weggegaan het uit Egipte. Julle was hier slawe, maar die Here het julle met sy groot krag gehelp om weg te gaan van hier. Daarom mag julle in hierdie tyd nie brood eet waarin daar suurdeeg is nie.

4. Julle gaan vandag weg, in die maand Abib.

5. Die Here sal julle bring na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete. Hy het vir julle voorvaders belowe dat Hy daardie land vir julle sal gee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is. As julle daar kom, dan moet julle elke jaar in hierdie maand die fees vier.

6. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle ’n fees vier om die Here te eer.

7. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet en julle mag nie brood by julle hê wat suurdeeg in het nie. Daar mag nie suurdeeg by julle wees nie.

8. Op hierdie dag moet julle vir julle kinders vertel: ‘Ons vier hierdie fees omdat die Here ons gehelp het toe ons weggegaan het uit Egipte.’

9. Die fees moet julle help om te onthou wat die Here vir julle gedoen het. Dit moet wees soos ’n teken op julle hand en tussen julle oë, sodat julle altyd kan onthou en vertel wat die Here vir julle geleer het. Dit is die Here wat julle met sy groot krag gehelp het om uit Egipte weg te gaan.

10. Julle moet elke jaar hierdie tyd die Paasfees vier.

11. Die Here sal julle na die land Kanaän bring. Hy het dit vir julle en julle voorvaders belowe. Wanneer Hy die land vir julle gee,

12. dan moet julle elke oudste seun wat gebore word in ’n familie, vir die Here gee. Julle moet ook die eerste manlike kleintjie van elke dier vir die Here gee. Hulle behoort almal aan die Here.

13. Maar ’n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet ’n skaap of ’n bok gee in die plek van ’n donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet ook julle oudste seuns loskoop, julle moet iets anders in hulle plek gee.

14. As julle kinders later vir julle vra wat dit beteken, dan moet julle vir hulle sê: ‘Die Here het ons met sy groot krag uit Egipte gered, daar waar ons slawe was.

15. Die farao was hardkoppig. Hy het gesê ons mag nie weggaan nie. Toe het die Here al die oudste seuns in Egipte doodgemaak, die oudstes van die mense en van die diere. Daarom offer ons die eerste bul-kalf en die eerste ram-lam vir die Here, en daarom gee ons iets anders in die plek van ons oudste seuns.

16. Dit moet soos ’n teken wees op julle hande en tussen julle oë, sodat julle kan onthou dat die Here ons met sy groot krag gehelp het om weg te gaan uit Egipte.’ ”

Die volk loop deur die woestyn na die Riet-see

17-18. Toe die farao die Israeliete laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad deur die Filistyne se land nie. Dit was die kortste pad en die Israeliete kon goed oorlog maak. Maar God het gesê: “As die Israeliete moet oorlog maak, dan sal hulle miskien begin twyfel en hulle sal hulle planne verander. Dan sal hulle omdraai en teruggaan na Egipte.”Daarom het God hulle met ’n langer pad deur die woestyn laat gaan na die Riet-see.

19. Moses het Josef se lyk met hom saamgeneem, want voordat Josef gesterf het, het hy gesê die Israeliete moet belowe om dit te doen, en God moet die getuie wees. Josef het vir hulle gesê: “God sal julle vrymaak, dit is seker. Wanneer Hy dit doen, dan moet julle my lyk saamneem uit hierdie land.”

20. Die Israeliete het weggegaan van Sukkot en hulle het hulle tente opgeslaan in Etam langs die woestyn.

21. Die Here het elke dag saam met hulle gegaan. In die dag was Hy in ’n wolk wat hulle gelei het en wat vir hulle die regte pad gewys het. In die nag was die Here in ’n vuur om vir hulle lig te gee. Daarom kon hulle in die dag en in die nag loop.

22. In die dag was die wolk by die Israeliete, en in die nag was die vuur by hulle. Die Here en die wolk het altyd by die Israeliete gebly.