hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28 Bybel vir Almal (ABA)

Die priester se klere

1. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar hulle moet na jou toe kom. Ek het hulle gekies om priesters vir My te wees.

2. Julle moet vir jou broer Aäron gewyde klere maak. Hierdie klere moet wys dat hy ’n priester is en dit moet mooi wees.

3. Julle moet ook praat met al die kleremakers. Ek het hulle vaardig gemaak sodat hulle goed kan werk. Hulle moet vir Aäron klere maak om hom te wy sodat hy ’n priester kan wees vir My.

4. Dit is die klere wat hulle vir hom moet maak: ’n borssak, ’n skouer-kleed, ’n oorkleed, ’n rok met ’n soom, ’n tulband en ’n skouer-serp. Hulle moet hierdie gewyde klere maak vir jou broer Aäron en vir sy seuns sodat hulle priesters kan wees vir My.”

Die skouer-kleed

5. Die Here het vir Moses gesê: “Die kleremakers moet goud gebruik, en blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal.

6. Hulle moet die skouer-kleed daarvan maak.

7. Daar moet twee skouerbande wees aan die punte van die skouer-kleed sodat hulle die skouer-kleed daarmee kan vasmaak.

8. Die skouer-kleed moet ook ’n belt hê om dit om die priester se middellyf vas te maak. Hulle moet die belt van dieselfde materiaal maak, van goud, van blou, pers en rooi wol-materiaal en van goeie linne-materiaal.

9. Julle moet oniks neem en julle moet die name van Jakob se seuns daarop skryf.

10. Skryf ses name op een klip en die ses ander name op ’n ander klip. Skryf die oudste seun se naam eerste, daarna die ander name tot by die jongste seun.

11. ’n Ambagsman wat mooi op ringe kan skryf, moet die name van Jakob se seuns op die klip skryf. Dan moet julle die twee klippe vassit in goud

12. en julle moet dit vaswerk aan die skouerbande van die skouer-kleed. Hierdie klippe sal My laat dink aan die seuns van Jakob. Wanneer Aäron voor My staan, dan sal hy hulle name op sy skouers dra om My te laat dink aan die twaalf stamme van Israel.

13. Julle moet die klippe vassit in goud

14. en julle moet twee kettinkies van skoon goud vir hulle maak. Julle moet die kettinkies draai soos ’n tou, en die gedraaide kettinkies vassit aan die goud waarin die klippe is.”

Die borssak

15. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n borssak vir Aäron maak. Hy moet dit dra wanneer hy sê wat Ek wil hê julle moet doen. Julle moet dit maak soos die skouer-kleed. Julle moet die borssak maak van goud, van blou, rooi en bloedrooi wol-materiaal en van goeie linne-materiaal.

16. Die borssak moet vierkantig wees, ’n halwe el lank en ’n halwe el breed. Julle moet dit dubbel vou

17. en julle moet vier rye edelstene daarop vassit: ’n karneool, ’n topaas en ’n smarag in die eerste ry;

18. in die tweede ry ’n turkoois, ’n saffier en ’n jaspis;

19. in die derde ry ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis;

20. en in die vierde ry ’n chrisoliet, ’n oniks en ’n opaal. Julle moet al die edelstene vassit in goud.

21. Daar moet twaalf edelstene wees, een edelsteen vir elke seun van Jakob. Dit is ook die name van die twaalf stamme van Israel. Julle moet op elke edelsteen een van die name skryf, soos julle ’n naam op ’n ring skryf.

22. Julle moet vir die borssak kettinkies van skoon goud maak, julle moet die kettinkies draai soos ’n tou.

23. Maak ook twee goue ringe en sit dit vas aan die boonste twee hoeke van die borssak.

24. Maak dan die twee goue kettinkies aan die ringe vas.

25. Die ander twee punte van die kettinkies moet julle vaswerk aan die goud in die skouerbande, aan die voorkant van die skouer-kleed.

26. Julle moet ook twee goue ringe maak en julle moet dit vaswerk aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant van die skouer-kleed.

27. Julle moet nog twee goue ringe maak en julle moet dit vassit voor aan die twee skouerbande van die skouer-kleed, net bokant die belt.

28. Dan moet julle ’n blou woldraad neem en julle moet die ringe van die borssak vasbind aan die ringe van die skouer-kleed. Dan sal die borssak vas wees aan die skouer-kleed.

29. Aäron moet die name van die stamme van die Israeliete in die borssak teen sy hart dra wanneer hy in die tempel ingaan. So sal Aäron die Here altyd aan sy volk laat dink.

30. Julle moet ook die urim en die tummim in die borssak sit. Dit moet teen Aäron se hart wees wanneer hy ingaan na My toe. Aäron moet altyd die borssak teen sy hart dra wanneer hy na My toe kom om te hoor wat hy moet sê.”

Die oorkleed

31. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n oorkleed maak wat die priester saam met die skouer-kleed moet dra. Julle moet dit van een stuk blou wol-materiaal maak.

32. In die middel van die oorkleed moet ’n gat wees waar die priester se kop kan deurgaan. Daar moet ’n sterk rand rondom die gat wees sodat dit nie kan skeur nie.

33. Julle moet granate maak van blou, pers en bloedrooi wol-materiaal en julle moet dit vaswerk op die soom van die oorkleed. Langs elke granaat moet ’n goue klokkie wees.

34. Werk ’n goue klokkie vas langs elke granaat op die soom van die oorkleed.

35. Aäron moet die oorkleed dra wanneer hy in die tempel werk. Almal sal dan die klokkies hoor lui wanneer hy in die tempel ingaan om na My toe te kom en wanneer hy weer uitgaan. As julle dit doen, dan sal Aäron nie sterf nie.”

Die tulband

36. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n blom van skoon goud maak en julle moet daarop skryf soos ’n mens op ’n ring skryf: ‘Gewy aan die Here.’

37. Julle moet die blom met ’n blou woldraad vasmaak voor aan die tulband.

38. Die blom moet op Aäron se voorkop wees. Die blom sal wys dit is Aäron wat moet seker maak dat die priesters die Israeliete se gewyde presente reg gebruik. Die blom moet altyd op Aäron se voorkop wees, dan sal die Here die presente aanvaar.”

Die rok

39. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet vir Aäron ’n rok en ’n tulband van linne-materiaal maak en julle moet ’n skouer-serp maak en daarop borduur.

40. Julle moet vir Aäron se seuns ook rokke en skouer-serpe en kopdoeke maak. Hierdie klere moet mooi wees en dit moet wys hulle is priesters.

41. Jou broer Aäron en sy seuns moet hierdie klere aantrek, en jy moet hulle salf en wy sodat hulle priesters kan wees vir My.”

Die priesters moet broeke dra

42. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet vir Aäron en sy seuns broeke van linne-materiaal maak sodat die mense nie hulle kaal liggame onder hulle klere kan sien nie. Die broeke moet hulle toemaak van hulle heupe tot by hulle bo-bene.

43. Aäron en sy seuns moet die broeke aantrek wanneer hulle ingaan in die tent waar Ek aan julle verskyn, of wanneer hulle nader gaan na die altaar om in die tempel te werk. As hulle nie die broeke aantrek nie, dan is dit sonde, en dan sal hulle sterf. Aäron en sy nageslag moet altyd gehoorsaam wees aan hierdie wet.”