hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23 Bybel vir Almal (ABA)

In die hof

1. “Jy mag nie skinder van ander mense nie. Jy mag nie leuens vertel om iemand te help wat skuldig is nie.

2. Jy moet altyd die waarheid in die hof vertel. As jy moet vertel wat gebeur het, en baie ander mense vertel leuens, dan mag jy nie saam met hulle leuens vertel nie.

3. Jy mag ook nie goed wees vir ’n arm mens in die hof net omdat hy arm is nie.”

Beeste en donkies

4. “Wanneer jy ’n bees of ’n donkie van jou vyand kry en die bees het weggeloop of verdwaal, dan moet jy dit vir hom terugbring.

5. Wanneer jou vyand se donkie val omdat hy te swaar moet dra, en jy sien dit, dan moet jy die donkie help. Jy mag hom nie daar los nie.”

Wette oor die hof

6. “Jy moet in die hof reg doen aan ’n arm mens.

7. Jy moenie luister na leuens nie, want dan sal jy miskien ’n onskuldige mens laat doodmaak. Ek, die Here, sal nooit sê ’n skuldige mens is reg nie.

8. Mense gee partymaal vir jou ’n present en dan wil hulle hê jy moet sê hulle is reg. Jy mag nie die present neem nie, want dit laat jou verkeerd sien en verkeerd dink. Dan doen jy nie reg aan mense wat onskuldig is nie.

9. Jy mag nie slegte dinge doen aan ’n vreemdeling nie. Julle weet self hoe hy voel, want julle was ook vreemdelinge in Egipte.”

Die sewende jaar en die sewende dag

10. “Julle moet ses jaar lank op julle grond saai en die koring of die gars bymekaarmaak.

11. In die sewende jaar moet julle die grond los, julle moenie dan in die grond werk en die koring of die gars afsny nie, sodat die arm mense iets kan kry om te eet. En as die arm mense iets laat oorbly, dan kan die wilde diere dit eet. Julle moet dieselfde doen met julle wingerde en julle olyfbome.

12. Julle moet ses dae lank julle werk doen, maar op die sewende dag moet julle nie werk nie. Dan kan julle beeste en julle donkies rus, en ook julle slawe en die vreemdelinge.”

Ander gode

13. “Julle moet gehoorsaam wees en alles doen wat Ek vir julle gesê het, julle moet dit presies so doen. Julle mag nie tot ander gode bid nie. Julle mag nooit van ander gode praat nie.”

Feeste

14. “Julle moet elke jaar drie feeste vir My vier.

15. Die eerste fees is die Fees van die Ongesuurde Brood. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet soos Ek vir julle gesê het. Julle moet die fees altyd op dieselfde dag van die maand Abib vier, want in hierdie maand het julle uit Egipte gekom. Julle almal moet dan vir My ’n offer bring.

16. “Julle moet ook ’n Oesfees vier wanneer julle die ryp koring begin afsny. Die derde fees is die fees aan die einde van die jaar, wanneer julle klaar gewerk het en die tyd verby is wanneer julle die koring afsny.

17. Al die mans moet elke jaar op hierdie drie feeste na My toe kom om My te aanbid.”

Offers

18. “Julle mag nie die bloed van ’n dier wat julle vir My offer, saam met suurdeeg offer nie. Julle mag ook nie die vet van ’n dier wat julle offer, los tot die volgende oggend nie.

19. Wanneer julle begin om koring af te sny en vrugte te pluk, dan moet julle die beste koring en vrugte bring na die tempel van julle God die Here. Julle mag nie ’n bok-lam in sy ma se melk kook nie.”

Die land

20. “Ek stuur ’n engel voor julle om julle op te pas op die pad en om julle te bring na die plek wat Ek vir julle gereedgemaak het.

21. Julle moet goed luister na wat die engel sê. Julle moenie opstandig wees nie, want hy sal julle nie vergewe as julle verkeerd doen nie. Die engel kom om te doen wat Ek wil doen.

22. As julle goed luister na hom en alles doen wat Ek sê, dan sal Ek teen julle vyande veg. Ek sal teen almal wees wat teen julle is.

23. My engel sal julle lei en hy sal julle bring by die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete en Hewiete. Dan sal Ek hulle doodmaak.

24. Julle mag nie voor hulle gode buig nie, julle mag nie hulle gode aanbid nie. Julle mag nie dieselfde doen wat daardie mense doen nie. Julle moet hulle klip-pale afbreek en stukkend kap.

25. Ek is julle God die Here, en as julle My dien, dan sal Ek julle seën sodat julle baie water en kos sal hê. Julle sal ook nie siek word nie.

26. Nie een vrou in julle land sal haar kind verloor terwyl sy swanger is nie, en almal sal kan kinders kry. Julle sal baie oud word.

27. Al die volke by wie julle kom, sal skrik vir My. Ek sal hulle wegjaag en al julle vyande sal weghardloop van julle.

28. Ek sal die Hewiete en Kanaäniete en Hetiete bangmaak vir julle, so bang soos vir perdebye. Ek sal daardie volke wegjaag voor julle.

29. Ek sal hulle nie almal in een jaar wegjaag voor julle nie, want dan sal daar niemand in die land woon nie en die wilde diere sal dan baie meer word as julle.

30. Ek sal elke maal ’n klomp van die mense wegjaag voor julle. Dan kan julle baie word en die land vat.

31. Julle mag woon van die Riet-see tot by die Filistynse See, en van die woestyn tot by die Eufraat-rivier. Ek sal julle help om die mense te oorwin wat in die land woon. Ek sal hulle wegjaag voor julle.

32. Julle mag nie ’n ooreenkoms maak met hulle en hulle gode nie.

33. Hulle mag nie saam met julle in julle land woon nie, want dan sal hulle vir julle leer om sonde te doen teen My en om hulle gode te dien. So sal hulle vir julle verkeerde dinge laat doen.”