hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 37 Bybel vir Almal (ABA)

Die kis

1. Besaleël het ’n kis van doringhout gemaak. Die kis was twee en ’n halwe el lank, een en ’n halwe el breed en een en ’n halwe el hoog.

2. Hy het die kis binne en buite oorgetrek met skoon goud. Hy het ’n rand van goud rondom die kis se kante vasgesit.

3. Hy het vier goue ringe gemaak en hy het een ring op elke onderste hoek van die kis vasgesit. Daar was twee ringe aan elke kant.

4. Besaleël het dra-pale van doringhout gemaak en hy het dit oorgetrek met goud.

5. Hy het die dra-pale deur die ringe gesteek wat aan die kante van die kis was. Hulle het die kis met die dra-pale gedra.

6. Besaleël het die deksel van skoon goud gemaak. Die deksel was twee en ’n halwe el lank en een en ’n halwe el breed.

7. Hy het twee gerubs van goud gemaak, en hy het hulle op die twee kante van die deksel vasgesit.

8. Die een gerub was op die een kant van die deksel en die ander gerub was op die ander kant. Die gerubs en die deksel was een stuk goud.

9. Die gerubs se vlerke was oop en dit het die deksel toegemaak. Hulle gesigte was na mekaar toe en hulle het na die deksel gekyk.

Die tafel

10. Besaleël het ’n tafel van doringhout gemaak. Dit was twee el lank, een el breed en een en ’n halwe el hoog.

11-12. Hy het die tafel oorgetrek met skoon goud en hy het ’n rand van goud rondom die tafel vasgesit. Die rand was ’n handbreedte. Aan hierdie rand was nog ’n rand en dit was ook van goud.

13. Hy het vier goue ringe gemaak en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die tafel, een ring by elke tafel-poot.

14. Die ringe was naby die rand, sodat hulle die dra-pale daardeur kon steek om die tafel te dra.

15. Besaleël het die dra-pale van doringhout gemaak en hy het dit oorgetrek met goud. Hulle het die tafel met die dra-pale gedra.

16. Hy het ook die goed gemaak wat hulle by die tafel gebruik het: die skottels, panne, kanne en bakke. Hulle het die drank-offers daarmee uitgegooi. Besaleël het alles van skoon goud gemaak.

Die lampstaander

17. Besaleël het ’n lampstaander van skoon goud gemaak. Die lampstaander se voetstuk, die stam, die blomme en blomknoppe was alles een stuk goud.

18. Daar was ses arms aan die kante van die lampstaander, drie arms aan die een kant en drie arms aan die ander kant.

19. Daar was drie blomme aan elke arm. Die blomme het gelyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome.

20. Daar was vier blomme aan die stam. Hulle het ook gelyk soos die blomknoppe en blomme van amandelbome.

21. Op elke plek waar twee arms van die lampstaander bymekaarkom, was daar ’n blomknop.

22. Die blomknoppe en die arms was alles een stuk goud, skoon goud wat Besaleël met ’n hamer geslaan en gevorm het.

23. Besaleël het sewe lampe gemaak, en ook die dekseltjies wat die lampe doodmaak. Hy het alles van skoon goud gemaak.

24. Hy het ’n talent skoon goud gebruik om die lampstaander te maak en alles wat by die lampstaander moes wees.

Die wierook-altaar

25. Besaleël het ’n wierook-altaar van doringhout gemaak. Dit was vierkantig, een el lank en een el breed, en dit was twee el hoog. Die altaar en sy horings was een stuk hout.

26. Hy het die wierook-altaar oorgetrek met skoon goud, die bokant van die altaar, die kante rondom die altaar, en die horings. Hy het ’n goue rand rondom die altaar vasgesit.

27. Hy het twee goue ringe gemaak en hy het dit vasgesit onder die rand aan die twee kante van die altaar. Hy het die dra-pale deur die ringe gesteek om die wierook-altaar te dra.

28. Hy het die dra-pale van doringhout gemaak en hy het dit oorgetrek met goud.

Die salf-olie en die wierook

29. Besaleël het die gewyde salf-olie en die skoon wierook gemaak. Hy het dit gemaak soos ’n ambagsman salf maak.