hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29 Bybel vir Almal (ABA)

Julle moet Aäron en sy seuns wy aan die Here

1. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet Aäron en sy seuns aan My wy sodat hulle my priesters kan wees. Julle moet ’n bul en twee skaap-ramme neem wat gesond is. Daar moet niks verkeerd wees met hulle nie.

2. Neem die beste koringmeel en maak ongesuurde brood, rondebrood en roosterkoeke. Julle moet olyf-olie meng met die deeg van die rondebrood en julle moet olyf-olie aan die roosterkoeke smeer.

3. Sit dit alles in een mandjie en offer dit saam met die bul en die twee ramme.

4. Bring vir Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn en was hulle dan met water.

5. Neem die priester-klere en trek dit vir Aäron aan: die rok, die skouer-kleed, die oorkleed wat hy saam met die skouer-kleed moet dra, en die borssak. Maak die skouer-kleed vas met die belt.

6. Sit die tulband om sy kop en sit die gewyde kroon op die tulband.

7. Gooi dan olyf-olie op sy kop uit en salf hom.

8. Julle moet sy seuns ook so wy en julle moet vir hulle ook priester-klere aantrek.

9. Julle moet die skouer-serpe en die kopdoeke vir Aäron en sy seuns opsit. Hulle moet altyd priesters wees. Dit moet julle doen om Aäron en sy seuns te wy sodat hulle my priesters kan wees.

10. Dan moet julle die bul bring tot voor die tent waar Ek aan julle verskyn. Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop sit,

11. en julle moet die bul slag hier by My, by die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn.

12. Neem ’n bietjie van die bul se bloed en smeer dit met jou vingers aan die horings van die altaar. Gooi dan al die bloed uit teen die voet van die altaar.

13. Julle moet al die vet wat aan die bul se binnegoed is, op die altaar verbrand, en ook die onderste punt van die lewer, en die niere en die vet wat daaraan is.

14. Julle moet die bul se vleis verbrand buite die kamp. Verbrand dit saam met die vel en die gras wat in die pens is. Dit is ’n sonde-offer.”

Die eerste ram

15. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet een skaap-ram neem, en dan moet Aäron en sy seuns hulle hande op die ram se kop sit.

16. Slag dan die ram en spat van sy bloed op die altaar.

17. Julle moet die ram in stukke sny. Was die binnegoed en die pote en sit dit alles by die stukke vleis en die kop.

18. Verbrand dan alles op die altaar. Dit is ’n brand-offer, ’n vuur-offer. Ek hou daarvan.”

Die tweede ram

19. “Aäron en sy seuns moet dan hulle hande op die ander ram se kop sit.

20. Slag die ram en neem ’n bietjie van sy bloed. Smeer dit aan Aäron en sy seuns se regter-ore, aan hulle regter-duime en aan hulle regter-groottone. Spat van die bloed op die altaar.

21. Neem ’n bietjie van die bloed wat op die altaar is, en van die salf-olie, en spat dit op Aäron en op sy klere. Spat ook daarvan op sy seuns en op hulle klere. Dan sal Aäron en sy seuns en hulle klere gewy wees.

22. Neem die vet en die stertvet van die ram, die vet wat aan die ram se binnegoed is, en ook die onderste punt van die lewer, en die twee niere en die vet wat daaraan is, en die regter-boud.

23. Neem ook een rondebrood, een oliekoek en een roosterkoek uit die mandjie waarin die ongesuurde brood is wat julle gebring het om vir My te offer.

24. Sit dit alles op die hande van Aäron en sy seuns. Hulle moet dit heen en weer beweeg voor My. Dit is ’n beweeg-offer.

25. Neem dit dan uit hulle hande en verbrand dit op die altaar saam met die brand-offer. Dit is ’n vuur-offer, Ek hou daarvan.”

26-27. Die Here het vir Moses gesê: “Neem dan die bors van die skaap-ram wat julle geslag het om Aäron te wy, en beweeg dit voor My. Dit is ’n beweeg-offer. Julle moet die bors van die beweeg-offer vir Aäron en sy seuns gee om te eet, en ook die boud wat julle vir My present gegee het.

28. Die Israeliete moet altyd vir Aäron en sy seuns hierdie dele van hulle ete-offers gee. Dit is hulle present vir die Here.”

29. “Wanneer Aäron sterf, dan moet julle sy gewyde klere neem en vir sy seun aantrek. Julle moet hom salf en hom in Aäron se plek wy sodat hy die priester kan wees.

30. Aäron se seun wat ná hom die priester word, moet die klere sewe dae lank dra wanneer hy kom werk in die tent waar Ek aan julle verskyn.

31. Julle moet al die vleis neem wat oorgebly het van die skaap-ram waarmee julle Aäron en sy seuns gewy het. Kook dit op ’n gewyde plek.

32. Aäron en sy seuns moet die ram se vleis en die brood wat in die mandjie is, eet by die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn.

33. Hulle moet dit eet, want toe hulle priesters geword het, het hierdie offers versoening gebring vir hulle. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie daarvan eet nie, want dit is gewyde kos.

34. As daar die volgende oggend van die vleis en van die brood oor is, dan moet julle dit verbrand. Julle mag dit nie eet nie, want dit is gewyde kos.

35. Alles wat Ek vir jou gesê het, moet julle doen met Aäron en sy seuns. Julle moet hulle sewe dae lank wy.”

Moses moet die altaar wy

36. “Julle moet elke dag ’n bul op die altaar offer. Dit is ’n sonde-offer en dit sal die altaar reinig. Julle moet ook die altaar salf om dit te wy.

37. Julle moet sewe dae lank die versoening-offer bring om die altaar te wy. Dan sal die altaar hoog-gewy wees. As iets dan aan die altaar raak, dan sal dit ook gewy wees.”

Offers vir elke dag

38. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke dag twee lammers op die altaar offer. Die lammers moet een jaar oud wees.

39. Julle moet een lam in die oggend offer en een lam in die aand.

40. Saam met die eerste lam moet julle ’n issaron van die beste meel offer. Meng dit eers met ’n kwart hin skoon olyf-olie en ’n kwart hin wyn.

41. Julle moet die tweede lam offer wanneer dit aand word en julle moet ook meel, olyf-olie en wyn saam met die lam offer. Ek hou daarvan, dit is ’n vuur-offer.

42. Julle nageslag moet altyd so ’n brand-offer vir My bring by die ingang van die tent waar Ek aan julle verskyn en met julle praat.

43. Ek sal daar aan die Israeliete verskyn en Ek sal die plek wy wanneer Ek, die Koning, verskyn.

44. Ek sal die tent wy waar Ek aan julle verskyn en ook die altaar. Ek sal ook vir Aäron en sy seuns wy sodat hulle my priesters kan wees.

45. Ek sal tussen die Israeliete woon en Ek sal hulle God wees.

46. Hulle sal dan besef dat Ek hulle God die Here is wat hulle vry uit Egipte laat weggaan het sodat Ek tussen hulle kan woon. Ek is hulle God die Here.”