hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here gee vir Moses tekens wat hy vir die mense moet wys

1. Moses het vir die Here gesê: “Miskien sal die Israeliete my nie glo nie en nie na my luister nie. Hulle sal sê: ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie.’ ”

2. Toe sê die Here vir hom: “Wat is in jou hand?”En Moses sê: “’n Kierie.”

3. Die Here sê toe vir hom: “Gooi dit op die grond.”Moses het die kierie op die grond gegooi, en die kierie het in ’n slang verander. Moses het weggespring van die slang.

4. Toe sê die Here vir Moses: “Gryp die slang aan sy stert.”Moses het die slang gegryp, en toe het die slang in sy hand weer in ’n kierie verander.

5. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dit weer doen as jy by die Israeliete kom, sodat hulle kan glo dat die Here aan jou verskyn het. Ek is die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.”

6. Die Here het ook vir hom gesê: “Sit jou hand voor in jou klere.”Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uittrek, was sy hand melaats, so wit soos sneeu.

7. Die Here sê toe vir hom: “Sit weer jou hand voor in jou klere.”Moses het dit gedoen, en toe hy sy hand uit sy klere haal, was dit gesond, soos sy hele liggaam.

8. Toe sê die Here: “As hulle jou nie glo ná die eerste teken nie, dan sal hulle glo nadat hulle hierdie tweede teken gesien het.

9. As hulle ná hierdie twee tekens nog nie glo nie en nie na jou luister nie, dan moet jy van die water van die Nyl-rivier neem en jy moet dit op die grond uitgooi. Die water wat jy op die grond gooi, sal in bloed verander.”

Aäron moet Moses help praat

10. Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, Here, ek kan nie goed praat nie. Ek kon nog nooit goed praat nie. Ek kan ook nie beter praat nadat U met my gepraat het nie. Ek praat swaar, my tong sukkel om te praat.”

11. Die Here het vir hom gesê: “Wie het vir die mens ’n mond gegee? Wie maak ’n mens stom of doof? Wie laat hom sien of nie sien nie? Dit is Ek, die Here.

12. Gaan nou, Ek sal jou help om te praat. Ek sal vir jou leer wat om te sê.”

13. Maar Moses het gesê: “Asseblief, Here, stuur iemand anders.”

14. Die Here het toe kwaad geword vir Moses en Hy het gesê: “Die Leviet Aäron is jou broer. Ek weet hy kan goed praat. Hy kom na jou toe, en hy sal bly wees om jou weer te sien.

15. Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê. Ek sal vir jou en vir hom help om te praat en Ek sal vir julle sê wat om te doen.

16. Aäron sal vir die volk sê wat jy vir hulle wil sê. Hy sal praat, en jy moet vir hom sê wat hy moet sê.

17. Jy moet die tekens met hierdie kierie doen. Neem dit saam.”

Moses gaan terug na Egipte

18. Moses het na sy skoonpa Jetro toe gegaan en hy het vir Jetro gesê: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense toe in Egipte, ek wil sien of hulle nog lewe.”Jetro het vir Moses gesê: “Jy mag gaan.”

19. Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want die mense wat jou wou doodmaak, is klaar dood.”

20. Moses het sy vrou en sy seuns geneem en hy het hulle op ’n donkie laat ry. Hulle het teruggegaan na Egipte. Moses het die kierie saamgeneem waarmee hy die tekens van God moes doen.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, dan moet jy voor die farao al die tekens doen wat Ek vir jou geleer het. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, en hy sal julle nie laat gaan nie.

22. Dan moet jy vir die farao sê: ‘Die Here sê: Israel is vir My soos ’n oudste seun,

23. en Ek sê vir jou jy moet my seun laat gaan sodat hy My kan dien. As jy hom nie laat gaan nie, dan sal Ek jou oudste seun doodmaak.’ ”

Sippora besny Moses se seun

24. Toe Moses-hulle een nag by ’n plek langs die pad geslaap het, het die Here daarnatoe gekom. Hy wou vir Moses doodmaak.

25. Moses se vrou Sippora neem toe ’n klipmes en sy sny haar seun se voorhuid af en sy raak daarmee aan Moses se voete. Sy het vir Moses gesê: “Jy is my man. Hierdie bloed sal jou beskerm.”

26. Toe sy dit sê, het die Here vir Moses gelos en Hy het Moses nie doodgemaak nie. Sippora het gedink aan die besnydenis toe sy dit gesê het.

Moses en Aäron kom by die leiers van die Israeliete

27. Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet vir Moses in die woestyn.”Aäron het gegaan en hy het Moses by die berg van God gekry en hom gesoen.

28. Moses het vir Aäron alles vertel wat die Here vir hom gesê het om te doen. Hy het vir hom ook vertel van al die tekens wat hy moes doen.

29. Moses en Aäron het al die leiers van die Israeliete bymekaar laat kom.

30. Aäron het vir hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het die tekens voor hulle gedoen.

31. Die leiers het dit geglo. Hulle het gehoor dat die Here gedink het aan die Israeliete en dat Hy jammer is vir hulle. Toe het hulle gekniel en gebid.