hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2 Bybel vir Almal (ABA)

Moses word gebore en die farao se dogter neem hom aan

1. Daar was ’n man in Levi se familie. Hy het getrou met ’n vrou in dieselfde familie.

2. Die vrou het swanger geword en sy het ’n seun gekry. Sy het gesien haar seuntjie is baie mooi en sy het hom drie maande lank weggesteek.

3. Toe hy groter word, kon sy hom nie meer wegsteek nie. Sy het vir hom ’n kissie gemaak van biesies en sy het klei en teer aan die kissie gesmeer sodat daar nie water kon inkom nie. Sy het haar kind in die kissie gesit en sy het die kissie op die Nyl-rivier gaan sit, tussen die riete.

4. Die kind se suster het daar naby gaan staan om te kyk wat met hom gebeur.

5. Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal.

6. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.”

7. Die kind se suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek vir jou een van die Hebreeuse vroue gaan roep wat ’n kind het wat aan haar drink? Dan kan sy hierdie kind laat drink.”

8. Die farao se dogter sê toe vir haar: “Ja, gaan!”En die meisie het gegaan en sy het die kind se ma gaan roep.

9. Die farao se dogter het vir die ma gesê: “Neem hierdie kind en maak hom groot. Ek sal jou daarvoor betaal.”Die vrou het toe die kind geneem en sy het hom laat drink.

10. Toe die kind groot was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gebring. Die farao se dogter het hom aangeneem, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem. Sy het gesê: “Ek het hom uit die water gehaal.”

Moses vlug uit Egipte

11. Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat ’n Egiptiese man ’n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense.

12. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand.

13. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook ’n Hebreër.”

14. Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?”Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het.

15. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon.Toe hy eendag daar by ’n put sit,

16. kom daar sewe meisies aan. Hulle was die dogters van die priester van Midian. Hulle het water uit die put kom skep om die waterbakke vol te maak sodat hulle pa se skape en bokke kon drink.

17. Maar daar het skaapwagters gekom en hulle het die meisies weggejaag. Moses het toe opgestaan en hy het die meisies gehelp. Hy het vir hulle skape en bokke water gegee.

18. Toe die meisies by hulle pa Reüel kom, vra hy vir hulle: “Hoekom het julle vandag so gou teruggekom?”

19. Hulle het vir hom gesê: “’n Egiptenaar het ons gehelp toe die skaapwagters ons wou wegjaag. Hy het ook water geskep en hy het ons skape en bokke laat drink.”

20. Reüel het vir sy dogters gevra: “Waar is die man? Hoekom het julle hom nie saamgebring nie? Roep hom om by ons te kom eet.”

21. Reüel het vir Moses gevra om by hulle te kom woon, en Moses het dit gedoen. Reüel het sy dogter Sippora vir Moses gegee, en Moses het met haar getrou.

22. Sippora het ’n kind gekry, en Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in hierdie land.”

Die Here verskyn aan Moses

23. Later het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het nog altyd baie swaar gekry en hulle het soos slawe gewerk. Hulle het gebid en vir God gevra om hulle te help.

24. God het gehoor die Israeliete kla en Hy het gedink aan die verbond wat Hy met Abraham, Isak en Jakob gemaak het.

25. God was jammer vir die Israeliete.