hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 30 Bybel vir Almal (ABA)

Moses moet ’n wierook-altaar maak

1. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n altaar maak om wierook op te brand. Julle moet dit van doringhout maak.

2. Die altaar moet vierkantig wees, een el lank en een el breed en twee el hoog. Daar moet horings aan die altaar wees en julle moet die horings en die altaar van een stuk hout maak.

3. Julle moet die altaar oortrek met skoon goud, die bokant van die altaar, die kante rondom die altaar, en die horings. Julle moet ’n goue rand rondom die altaar maak.

4. Maak twee goue ringe vas onder aan die rand aan elke kant van die altaar. Dan kan julle die dra-pale deur die ringe steek om die altaar te dra.

5. Julle moet die dra-pale van doringhout maak en julle moet hulle oortrek met goud.

6. Julle moet die altaar neersit voor die gordyn wat hang voor die kis waarin die tien gebooie moet kom. Sit dit neer voor die deksel van die kis waar Ek altyd aan julle sal verskyn.

7. Aäron moet elke oggend wierook op die altaar brand, Ek hou daarvan. Hy moet dit doen wanneer hy die lampe skoonmaak.

8. Aäron moet ook elke aand wanneer hy die lampe aansteek, wierook op die altaar brand. Julle en julle nageslag moet altyd vir My ’n wierook-offer bring.

9. Op hierdie altaar mag julle net wierook brand wat reg is vir My. Julle mag nie brand-offers of koring-offers op hierdie altaar brand nie, en julle mag ook nie ’n drank-offer daarop uitgooi nie.

10. Aäron moet een maal elke jaar ’n spesiale offer vir My bring om te vra dat Ek julle nageslag se sondes moet vergewe. Hy moet dan ’n bietjie bloed neem van die dier wat hy offer vir die sonde van die volk. Hy moet dit smeer aan die horings van die altaar. Die altaar is hoog-gewy aan My.”

Elkeen moet ’n offer vir die Here gee

11. Die Here het vir Moses gesê:

12. “Wanneer julle die Israeliete tel, dan moet elkeen ’n offer vir die Here gee. Dan sal Ek hulle nie siek maak en hulle laat sterf wanneer julle hulle tel nie.

13. Elkeen vir wie julle tel, moet ’n halwe tempel-sikkel silwer gee. Dit is ’n present vir My.

14. Julle moet almal tel wat 20 jaar oud en ouer is, en hulle elkeen moet vir My ’n present gee.

15. Die ryk mense moenie meer as ’n halwe tempel-sikkel silwer gee nie, en die arm mense moenie minder gee nie. Dan sal Ek hulle sonde vergewe.

16. Julle moet hierdie geld neem wat die Israeliete gegee het omdat Ek hulle sonde vergewe het, en julle moet dit vir die priesters gee. Die priesters moet dit gebruik vir die werk in die tent waar Ek aan julle verskyn. Dan sal Ek aan julle dink en julle sonde vergewe.”

Moses moet ’n was-skottel maak

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Julle moet ’n was-skottel maak om in te was en ’n voetstuk van brons. Sit dit neer tussen die tent waar Ek aan julle verskyn en die altaar. Gooi water daarin

19. sodat Aäron en sy seuns hulle hande en voete kan was.

20. Wanneer hulle kom na die tent waar Ek aan julle verskyn, dan moet hulle eers met hierdie water was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet ook was wanneer hulle na die altaar gaan om te werk of om ’n vuur-offer vir My te brand.

21. Hulle moet hulle hande en voete was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet dit altyd doen, hulle en hulle nageslag.”

Moses moet salf-olie maak

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Neem van die beste speserye: 500 tempel-sikkels mirre, 250 tempel-sikkels kaneel, 250 tempel-sikkels kalmoes,

24. 500 tempel-sikkels kassie en ’n hin olyf-olie.

25. Meng dit en maak gewyde salf-olie daarvan. Jy moet dit maak soos ’n ambagsman salf maak. Ek hou daarvan.

26. Julle moet die tent salf waar Ek aan julle verskyn, en julle moet die kis salf waarin die tien gebooie moet kom.

27. Julle moet ook die tafel salf en alles wat by die tafel moet wees, die lampstaander en alles wat by die lampstaander moet wees. Julle moet die wierook-altaar ook salf.

28. Salf ook die brandoffer-altaar en alles wat by die brandoffer-altaar moet wees, ook die was-skottel en sy voetstuk.

29. So moet julle dit alles wy sodat dit hoog-gewy sal wees. Alles wat aan die gewyde goed raak, sal ook gewy wees.

30. Julle moet vir Aäron en sy seuns salf en hulle wy om priesters te wees vir My.

31. Sê vir die Israeliete hierdie olyf-olie moet gewyde salf-olie wees vir hulle nageslag.

32. Hulle mag dit nie op ’n mens se liggaam uitgooi nie, en julle mag nie ander olyf-olie maak wat soos hierdie olyf-olie is nie. Hierdie is gewyde olyf-olie en dit moet altyd gewy wees.

33. As iemand olyf-olie soos hierdie aanmaak of hy gee daarvan vir iemand wat nie ’n priester is nie, dan moet julle hom afsny van sy volk.”

Moses moet wierook maak

34. Die Here het vir Moses gesê: “Neem ewe veel van die volgende speserye: terpentynboom-gom, naeltjies, vinkelboom-gom, en skoon wierook.

35. Maak daarvan goeie wierook, Ek hou daarvan. Maak die wierook soos ’n ambagsman salf maak. Gooi sout daarop en wy dit aan My.

36. Maak ’n poeier daarvan en sit dit voor die kis waarin die tien gebooie moet kom, in die tent waar Ek aan julle verskyn. Dit moet hoog-gewy wees aan My.

37. Julle mag nie wierook soos hierdie vir julleself maak nie. Hierdie wierook moet gewy wees aan My.

38. As iemand vir homself wierook soos hierdie maak om te ruik, dan moet julle hom van sy volk afsny.”