hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21 Bybel vir Almal (ABA)

Hebreeuse slawe

1. “Hier is die wette wat jy vir die Israeliete moet gee:

2. “Wanneer jy ’n Hebreeuse slaaf koop, dan moet hy ses jaar lank vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vry laat weggaan. Hy moenie betaal om vry te word nie.

3. As hy alleen na jou toe gekom het, dan moet hy alleen weggaan. As hy ’n getroude man was, dan moet sy vrou saam met hom weggaan.

4. As jy vir hom ’n vrou gegee het en hulle het seuns of dogters, dan behoort die vrou en haar kinders aan jou. Die man moet dan alleen weggaan.

5. Miskien sal die slaaf reguit sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders, ek wil nie alleen weggaan nie.’

6. Dan moet jy hom na die plek neem waar julle vir God aanbid. Jy moet hom na die deur bring, en jy moet ’n gaatjie deur sy oor steek met ’n skerp yster. Dan sal hy vir altyd jou slaaf wees.

7. “Maar as ’n man sy dogter verkoop en sy word ’n slavin, dan mag sy nie vry weggaan soos ander slawe nie.

8. As haar eienaar later nie van haar hou nie, en hy wil nie met haar trou nie, dan mag iemand anders haar by hom koop. Maar hy mag haar nie aan iemand van ’n vreemde volk verkoop nie, want dan doen hy nie wat hy belowe het toe hy met haar wou trou nie.

9. As hy wil hê sy seun moet met haar trou, dan moet hy met haar doen soos met sy eie dogter.

10. As hy later ’n ander vrou vir homself neem, dan moet hy nog altyd kos en klere gee vir die vrou wat ’n slavin was en hy moet by haar slaap.

11. As hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, dan mag sy weggaan en sy moenie vir hom betaal nie.”

Mense wat moet sterf

12. “As iemand ’n ander man slaan en die man sterf, dan moet julle hom ook doodmaak.

13. As hy per ongeluk die man doodgeslaan het en hy het nie planne gemaak om dit te doen nie, dan mag hy vlug na ’n plek wat Ek vir jou sal wys.

14. Maar wanneer iemand planne maak om ’n ander mens dood te maak, dan moet jy hom wegvat en ook doodmaak, ook as hy aan die altaar vashou.

15. “As iemand sy pa of sy ma slaan, dan moet julle hom doodmaak.

16. “As iemand ’n ander mens vang en verkoop, of hy hou hom vir homself, dan moet julle hom doodmaak.

17. “As iemand sy pa of ma vervloek, dan moet julle hom doodmaak.”

Baklei

18. “Partymaal baklei mense en die een slaan die ander met ’n klip of met sy vuis. As die ander man nie dood is nie maar in die bed moet bly,

19. en later kan opstaan en buite kan rondloop met sy kierie, dan moet julle nie die man doodmaak wat geslaan het nie. Maar hy moet betaal vir die een wat seergekry het, en hy moet ook vir hom sorg totdat hy heeltemal gesond is.

20. “Wanneer iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan en die slaaf sterf dadelik, dan moet julle die eienaar straf.

21. As die slaaf ’n dag of twee dae daarna nog lewe, dan moet julle nie die eienaar doodmaak nie, want die slaaf behoort aan hom.

22. “Wanneer mans baklei en een van hulle stamp ’n swanger vrou sodat haar baba dood is, maar die vrou is nie ernstig beseer nie, dan moet die man wat haar gestamp het, boete betaal. Hy moet betaal wat die vrou se man vra en wat die hof sê.

23. Maar as die vrou baie seer gekry het, dan moet julle die man op dieselfde manier straf – as sy sterf, dan moet julle hom ook doodmaak.

24. Julle moet dieselfde aan die man doen wat hy aan die vrou gedoen het: sy oog vir ’n oog, sy tand vir ’n tand, sy hand vir ’n hand, sy voet vir ’n voet,

25. ’n brandplek vir ’n brandplek, ’n seerplek vir ’n seerplek, ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

26. “Wanneer iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan, en die oog word blind, dan moet hy die slaaf vry laat weggaan om te betaal vir sy oog.

27. En wanneer hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, dan moet hy hom vry laat weggaan om te betaal vir sy tand.”

’n Bees wat mense doodstoot

28. “Wanneer ’n bees ’n man of ’n vrou doodstoot, dan moet julle die bees doodgooi met klippe, en julle mag nie sy vleis eet nie. Die bees se eienaar is onskuldig.

29. Miskien het die bees al voorheen mense gestoot, en julle het sy eienaar gewaarsku, maar hy pas nie die bees op nie. As die bees dan ’n man of ’n vrou doodmaak, dan moet julle die bees doodgooi met klippe. Julle moet ook sy eienaar doodmaak.

30. As julle besluit dat die eienaar net ’n boete moet betaal, dan moet hy die boete betaal wat julle sê. Dan mag hy lewe.

31. As die bees ’n seun of ’n dogter doodstoot, dan moet julle die eienaar ook so straf.

32. As die bees ’n slaaf of slavin doodstoot, dan moet die bees se eienaar 30 stukke silwer betaal aan die slaaf se eienaar. Julle moet ook die bees doodgooi met klippe.”

Diere wat in ’n put val

33. “Partymaal maak iemand ’n put oop, of hy grawe ’n put en hy maak dit nie toe nie. Wanneer ’n bees of ’n donkie daarin val,

34. dan moet die man wat die put gegrawe het, betaal. Hy moet die geld vir die eienaar van die dier gee en hy mag dan die dooie dier neem.”

’n Bees wat ’n ander bees doodmaak

35. “Wanneer iemand se bees ’n ander man se bees doodstoot, dan moet julle die lewendige bees verkoop en die geld verdeel tussen die twee eienaars. Julle moet ook die dooie bees se vleis verdeel.

36. As die bees al voorheen met ander beeste baklei het, en sy eienaar het hom nie opgepas nie, dan moet die eienaar ’n ander bees gee. Hy mag dan die dooie bees neem.”