hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid spaar weer ’n keer Saul

se lewe

1. Mense uit Sif het by Saul in Gibea aangekom en gesê: “Dawid skuil teen die Gakilarant aan die rand van die woestyn.”

2. Saul vat toe drie afdelings uitgesoekte manskappe en vertrek om Dawid in die Sifwoestyn te vang.

3. Saul het kamp opgeslaan langs die pad by Gakilarant, naby die woestyn waar Dawid weggekruip het. Dawid het egter gehoor dat Saul aangekom het.

4. Daarom stuur hy spioene uit om Saul se bewegings dop te hou.

5. Dawid gaan toe na waar Saul se kamp was. Hy het gekyk waar Saul en sy bevelvoerder, Abner seun van Ner, slaap. Saul was in die middel van die kamp met sy manskappe reg rondom hom.

6. “Wie sal saam met my daarheen gaan?” vra Dawid vir Agimelek die Hetiet en Abisai, seun van Seruja, Joab se broer. “Ek sal saamgaan,” antwoord Abisai.

7. Dawid en Abisai het toe in die nag Saul se kamp binnegesluip terwyl hy vas aan die slaap was. Sy spies het aan sy koppenent in die grond gesteek. Abner en sy manskappe rondom hom het almal vas geslaap.

8. “God het hierdie keer beslis jou vyand aan jou oorgelewer!” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met die spies in die grond vassteek. Ek sal dit nie ’n tweede keer hoef te doen nie!”

9. “Nee!” sê Dawid. “Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand sy hand teen die gesalfde van die Here laat uitgaan en nog onskuldig wees?

10. So seker as die Here leef, een of ander tyd sal die Here Saul tref: Óf sy tyd sal aanbreek dat hy sterf, óf hy sal in die geveg sterf.

11. Maar mag die Here my daarvan bewaar dat ek sy gesalfde sou doodmaak. Kom ons vat nou die spies by sy koppenent en die waterkruik, dan gaan ons terug!”

12. Dawid neem toe die spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het. Hy en Abisai is daar weg sonder dat iemand hulle gesien het of wakker geword het, want die Here het Saul en sy manskappe baie vas laat slaap.

13. Dawid gaan staan toe op ’n veilige afstand bo-op die hoogte regoor die kamp.

14. Daarvandaan roep hy na die manskappe en vir Abner: “Word wakker, Abner! Hoe antwoord jy dan nie!”“Wie is dit wat na die koning roep?” vra Abner.

15. “Abner, jy is mos ’n gesiene man, of hoe?” spot Dawid. “Daar is niemand in Israel soos jy nie! Nou hoekom het jy nie jou heer die koning bewaak toe iemand gekom het om hom dood te maak nie?

16. Dis nie ’n goeie ding nie! So waar as die Here leef, jy en jou manskappe verdien die dood omdat julle nie julle koning, die gesalfde van die Here, behoorlik opgepas het nie. Kyk ’n bietjie rond! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het?”

17. Saul het Dawid se stem herken en roep toe: “Is dit jy, my seun Dawid?”Dawid antwoord hom: “Ja, my heer die koning.

18. Hoekom agtervolg u my? Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding?

19. My heer die koning moet tog nou na my luister. As die Here u teen my aangehits het, bied Hom dan ’n offer aan. Maar as dit net mense is, vervloek is hulle voor die Here. Want hulle het my uit my woonplek verdryf asof ek nie meer deel is van die volk van die Here nie. Hulle sê: ‘Gaan dien ander gode!’

20. Moet ek dan op vreemde grond sterf, ver van die teenwoordigheid van die Here? Hoekom het die koning van Israel gekom om na ’n enkele vlooi te soek? Hoekom maak hy jag op my soos op ’n patrys in die berge?”

21. Saul bely toe: “Ek het verkeerd gedoen. Kom terug, my seun. Ek sal nie meer probeer om jou skade te berokken nie, want jy het vandag my lewe gespaar. Ek was ’n dwaas en het baie verkeerd gedoen.”

22. “Hier is u spies, Koning,” antwoord Dawid. “Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal.

23. Die Here beloon elke mens vir regverdigheid en getrouheid. Vandag het die Here u ten volle in my mag geplaas, maar ek het geweier om u dood te maak, want u is die gesalfde van die Here.

24. Mag die Here my lewe ook kosbaar ag soos ek u lewe vandag kosbaar geag het. Mag Hy my uit alle gevare red.”

25. Daarop sê Saul vir Dawid: “Geseënd is jy, my seun Dawid. Jy sal suksesvol wees in wat jy onderneem en seëvier.” Toe het Dawid weggegaan, en Saul het teruggekeer huis toe.