hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saul lok die Filistyne uit

1. Saul was ’n kort tyd koning in Israel

2. toe het hy vir hom 3 000 manskappe uit Israel gekies en die res huis toe gestuur het. 2 000 van hulle was by hom by Mikmas en in die heuwelagtige omgewing van Bet-El gestasioneer. Die ander 1 000 was saam met sy seun Jonatan in Gibea in Benjamin.

3. Jonatan het die garnisoen Filistyne by Gibea aangeval en verslaan. Die nuus het vinnig onder die Filistyne versprei. Saul het oor die hele land op die ramshoring laat blaas om die Hebreërs vir oorlog op te roep.

4. Almal in Israel het gehoor dat Saul die garnisoen van die Filistyne verslaan en so hulle die onguns van die Filistyne op die hals gehaal het. Daarom is almal in Israel opgeroep om hulle agter Saul te skaar en in Gilgal saam te trek.

5. Die Filistyne het ’n groot mag bymekaargemaak: 3 000 oorlogwaens, 6 000 perderuiters en voetsoldate soveel as die sand aan die see. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, kamp opgeslaan.

6. Toe die Israeliete hierdie groot leër sien, het hulle paniekbevange geword en in gate, grotte, grafkelders, rotsskeure en droë putte probeer wegkruip.

7. Sommige het deur die Jordaanrivier gegaan en na die gebied van Gad en Gilead gevlug.Intussen het Saul in Gilgal vertoef terwyl sy manskappe van vrees gebewe het.

Saul bring self die offer

8. Soos afgespreek, het Saul sewe dae daar vir Samuel gewag, maar hy het nie opgedaag nie. Die manskappe het intussen begin dros.

9. Toe beveel Saul: “Bring die brandoffer en die maaltydoffer hiernatoe!” Toe offer hy self die brandoffer.

10. Net toe Saul daarmee klaar was, toe kom Samuel daar aan! Saul het hom tegemoetgegaan om hom te groet.

11. Maar Samuel sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang?”Saul antwoord hom: “Ek het gesien hoe my manskappe dros terwyl die Filistyne by Mikmas saamgetrek het, maar u daag nie op soos ons afgespreek het nie.

12. Toe het ek gedink: ‘Die Filistyne gaan teen my in Gilgal optrek, en ek het nog nie die Here om hulp gevra nie!’ Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring, aangesien u nog nie gekom het nie.”

13. “Dit was dwaas van jou!” sê Samuel. “Jy het nie geluister na die bevel van die Here jou God nie. As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het.

14. Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie, want die Here het reeds ’n man na sy hart gesoek. Die Here het hom alreeds gekies om koning oor sy volk te wees, want jy het nie die bevele van die Here gehoorsaam nie.”

Israel in ’n ongunstige posisie

15. Daarna het Samuel vanaf Gilgal na Gibea in Benjamin gegaan. Saul het die manskappe by hom getel, en dit was net 600!

16. Saul en sy seun Jonatan met die manskappe by hulle was in Gibea, in Benjamin. Die Filistyne se kamp was nog steeds by Mikmas.

17. Uit die kamp van die Filistyne het drie roofbendes opgetrek. Die een het na Ofra in die omgewing van Sual gegaan,

18. ’n ander na Bet-Goron, en die derde na die grens wat uitkyk op die vallei van Seboïm in die rigting van die woestyn.

19. In daardie dae was daar geen smede in Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Dalk maak die Hebreërs swaarde of spiese!”

20. Gevolglik, wanneer die Israeliete hulle ploegskare, skoffelpikke, byle of ander gereedskap moes skerp maak, moes hulle dit na die Filistyne toe neem om skerp gemaak te word.

21. Die prys was een derde sikkel silwer vir ploegskare, pikbyle, drietandvurke, byle en so ook om osprikkels skerp te maak.

22. Dis hoe dit gekom het dat niemand in Israel ’n swaard of ’n spies in oorlogtyd gehad het nie, behalwe Saul en Jonatan.

23. Die bergpas by Mikmas is intussen deur ’n afdeling Filistyne beset.