hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Samuel salf Saul

1. Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die Here het jou gesalf as leier oor sy besitting.

2. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’

3. “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn.

4. Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar.

5. “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer.

6. Dan sal die Gees van die Here met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word.

7. Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou.

8. Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.”

Is Saul ook tussen die profete?

9. Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur.

10. Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoet kom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het.

11. Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?”

12. Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?”

13. Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan.

14. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom.“Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy.

15. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”

16. “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.

Saul as koning aangewys

17. Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep

18. en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.

19. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”

20. Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.

21. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.

22. Hulle vra toe vir die Here: “Maar is die man al hier?”Toe antwoord die Here: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.”

23. Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders.

24. Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die Here gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!”Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!”

25. Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die Here neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur.

26. Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper manne wie se harte deur God aangeraak is.

27. Maar daar was ook sommige kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het hom egter nie aan hulle gesteur nie.