hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saul probeer Dawid weer

doodmaak

1. Saul het sy seun Jonatan en sy amptenare aangemoedig om Dawid te vermoor. Maar omdat Jonatan en Dawid boesemvriende was,

2. sê hy vir Dawid: “My pa wil jou doodmaak. Wees baie versigtig. Môre-oggend moet jy in die veld gaan wegkruip.

3. Ek sal daar by my pa gaan staan en hom oor jou uitvra. Dan sal ek jou laat weet.”

4. Jonatan het toe ’n goeie woord vir Dawid by Saul gedoen en gesê: “Die koning moenie sondig teen u onderdaan Dawid nie. Hy het niks wat sleg is teen u gedoen nie, maar net goeie dinge.

5. Trouens, hy het sy lewe op die spel geplaas en die Filistyn doodgemaak. Daarmee het die Here ’n groot verlossing vir die hele Israel bewerk. U het dit gesien en was saam bly. Hoekom sal u sondig en onskuldige bloed vergiet deur Dawid sonder rede dood te maak?”

6. Saul het na Jonatan geluister. Hy het ’n eed afgelê: “So waar as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.”

7. Daarna roep Jonatan vir Dawid en vertel hom alles. Hy het Dawid na Saul toe gebring en Dawid was in Saul se diens soos voorheen.

8. Daar het weer oorlog uitgebreek. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg. Die slagting was groot en die Filistyne het van hom af weggevlug.

9. Maar die bose gees wat die Here gestuur het, het weer oor Saul gekom. Hy het in sy huis gesit en sy spies was in sy hand terwyl Dawid op die lier gespeel het.

10. Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug.

Mikal red Dawid se lewe

11. Saul stuur toe soldate om wag te hou oor Dawid se huis en hom in die oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou Mikal waarsku hom: “As jy nie vannag nog vlug nie, sal jy môre sekerlik doodgemaak word.”

12. Mikal het Dawid deur ’n venster laat afsak sodat hy kon wegkom en vlug.

13. Daarna neem sy ’n huisgod, laat lê dit op die bed met bokhaar by die kop en gooi dit toe met ’n kombers.

14. Toe die soldate kom om Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

15. “Bring hom dan met bed en al sodat hy doodgemaak kan word,” sê Saul.

16. Die soldate het ingekom, en daar kry hulle ’n huisgod op die bed met bokhaar by die koppenent!

17. Saul sê vir Mikal: “Hoekom het jy my bedrieg deur my vyand te laat ontsnap?”Mikal antwoord: “Ek moes, want hy het gedreig om my dood te maak as ek hom nie help nie.”

18. Dawid het gevlug en by Samuel in Rama aangekom. Hy het hom alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Samuel en Dawid het toe in die profetekwartiere gaan woon.

19. Dis aan Saul vertel: “Dawid is in die profetekwartiere in Rama!”

20. Toe stuur Saul van sy mense om Dawid gevange te neem. Daar aangekom, sien hulle die groep mense wat met Samuel as leier soos profete optree. Die Gees van God kom toe oor Saul se boodskappers en hulle het self soos profete begin optree.

21. Dit is aan Saul meegedeel sodat hy ander boodskappers gestuur het. Hulle het egter ook soos profete opgetree. Saul het weer mense gestuur, maar dieselfde het ook met hulle gebeur.

22. Toe gaan hy self na Rama toe. By die groot opgaardam in Seku aangekom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”“Hulle is in die profetekwartiere in Rama,” was die antwoord.

23. Op pad daarheen het die Gees van God oor Saul gekom sodat hy tot in Rama soos ’n profeet opgetree het.

24. Hy het selfs sy klere uitgetrek terwyl hy soos ’n profeet voor Samuel opgetree het. Die hele dag en nag het hy daar sonder klere gelê sodat die mense gevra het: “Wat, is Saul ook tussen die profete?”