hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid spaar Saul se lewe

1. Dawid het toe in En-Gedi gaan bly.

2. Toe Saul van die inval van die Filistyne teruggekom het, het hy gehoor dat Dawid in die bergskuilings van En-Gedi is.

3. Saul kom toe met drie afdelings uitgesoekte manskappe van Israel om Dawid en sy manne by die Klipbokkrans te gaan soek.

4. Op pad daarheen, naby skaapkrale, sien Saul ’n grot. Hy gaan toe daar in om ’n draai te loop, onwetend dat Dawid en sy manskappe agter in dieselfde grot is.

5. “Dis nou jou kans!” fluister Dawid se manskappe. “Vandag is die dag waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: ‘Ek sal Saul sekerlik in jou mag gee sodat jy met hom kan doen wat jy wil!’” Dawid het toe stilletjies vorentoe gekruip en ’n stuk van Saul se mantel afgesny.

6. Maar daarna begin Dawid se gewete hom pla omdat hy ’n stuk van Saul se mantel afgesny het.

7. “Ek het verkeerd gedoen om so teen die gesalfde van die Here op te tree,” sê hy vir sy manne. “Ek mag nie my hand teen hom oplig nie, want hy is die Here se gesalfde.”

8. Dawid het sy manskappe skerp berispe en nie toegelaat dat hulle Saul aanval nie. Saul het uit die grot uitgegaan om sy agtervolging voort te sit.

9. Daarna kom Dawid uit die grot en roep agter hom aan: “Meneer die koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep voor hom gebuig.

10. Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u leed aandoen?

11. Vandag kan u met u eie oë sien dat dit nie waar is nie. Want die Here het u daar agter in die grot in my mag gegee. Sommige van my manskappe het gesê dat ek u moet doodmaak. Maar ek het u lewe gespaar, want ek het gedink: ‘Ek sal hom nooit leed aandoen nie, want hy is die gesalfde van die Here.’

12. Kyk, Pa, wat het ek in my hand. Dis ’n stuk van u mantel! Ek het dit afgesny, maar ek het u nie doodgemaak nie. Dit bewys dat ek nie ’n kwaaddoener of ’n opstandeling is nie. Ek het nie teen u gesondig nie. Tog agtervolg u my om my dood te maak.

13. Die Here sal tussen ons twee oordeel. Die Here sal wraak neem oor wat u aan my doen. Ek self sal u egter nooit kwaad aandoen nie.

14. Dis soos die spreekwoord lui: ‘Van slegte mense kom slegte dinge.’“Ek self, egter, sal u nooit kwaad aandoen nie.

15. Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie is dit wat u agtervolg? ’n Dooie hond? Een enkele vlooi?

16. Die Here is die regter en sal tussen ons uitspraak lewer. Hy sal my saak behartig en my uit u mag bevry!”

17. Nadat Dawid dit gesê het, antwoord Saul: “Is dit regtig jy, my seun Dawid?” Hy het begin huil

18. en sê vir Dawid: “Jy is ’n beter man as ek, want jy het aan my goedgedoen, maar ek wou dit met kwaad vergeld.

19. Deur my nie dood te maak nie het jy vandag bewys dat jy goed wil doen aan my. Die Here het my in jou mag oorgelewer, maar jy het my nie doodgemaak nie.

20. “Wie sal toelaat dat sy vyand wegkom terwyl hy hom in sy mag het? Mag die Here jou beloon omdat jy vandag vir my goed was.

21. Ek weet dat jy sekerlik koning sal word en dat die koningskap in Israel onder jou leiding gevestig sal word.

22. Lê nou ’n eed af voor die Here dat wanneer dit gebeur, jy nie my familie sal uitroei en my naam sal uitwis uit my nageslag nie.”

23. Dawid het toe ’n eed afgelê, en Saul is terug na sy huis toe. Maar Dawid en sy manskappe het na hulle bergskuiling toe teruggegaan.