hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Saul raadpleeg die

dodebesweerder by En-Dor

1. Ongeveer hierdie tyd het die Filistyne hulle troepe saamgetrek vir ’n oorlog teen Israel. Akis sê vir Dawid: “Jy besef seker dat jy en jou manne saam met my oorlog toe sal moet gaan.”

2. “Sekerlik!” sê Dawid. “Dan kan u self sien waartoe ons in staat is.”Akis sê vir hom: “Goed, ek stel jou permanent aan as my persoonlike lyfwag.”

3. Intussen het Samuel gesterf. Die hele Israel het oor hom gerou. Hy is in Rama, sy tuisdorp, begrawe. En Saul het al die dodebesweerders en waarsêers uit die land verban.

4. Die Filistyne het hulle kamp by Sunem opgeslaan. Saul het al die Israeliete opgeroep en kamp opgeslaan by Gilboa.

5. Toe Saul die groot Filistynse mag sien, het hy wanhopig van vrees geword.

6. Hy het die Here gevra wat hy moes doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nie deur drome nie en ook nie deur die Urim of die profete nie.

7. Saul beveel toe sy amptenare: “Soek ’n vrou wat ’n dodebesweerder is sodat ek vir haar kan gaan vra wat om te doen.”Sy amptenare antwoord: “Daar is ’n dodebesweerder in En-Dor.”

8. Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Vergesel van twee van sy manskappe het hy in die nag na die vrou se huis toe gegaan.“Raadpleeg vir my die gees van ’n afgestorwene,” sê hy. “Roep die een op wat ek vir jou sal sê.”

9. “Nee!” sê die vrou. “Jy weet mos dat Saul alle dodebesweerders en waarsêers uit die land verban het. Hoekom stel jy vir my ’n strik sodat ek moet sterf?”

10. Maar Saul het ’n eed afgelê in die Naam van die Here en belowe: “So seker as die Here leef, jy sal niks oorkom as jy dit doen nie.”

11. Uiteindelik het sy ingewillig: “Wie se gees moet ek vir jou oproep?”“Roep Samuel vir my op,” antwoord Saul.

12. Toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hard: “U het my mislei! U is dan Saul!”

13. “Moenie bang wees nie!” sê hy vir haar. “Wat sien jy?”“Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom,” sê sy.

14. “Hoe lyk hy?” vra Saul.“Dis ’n ou man met ’n mantel aan,” antwoord sy. Saul het besef dis Samuel, en hy het in eerbied voor hom op die grond neergeval.

15. “Hoekom pla jy my deur my op te roep?” vra Samuel.“Ek is baie beangs,” antwoord Saul. “Die Filistyne maak oorlog teen my en God het my ook verlaat. Hy antwoord my nie meer deur óf profete óf drome nie. Daarom het ek u laat oproep om vir my te sê wat ek moet doen.”

16. Maar Samuel antwoord hom: “Waarom vra jy my dan as die Here jou verlaat het en jou vyand geword het?

17. Die Here het gedoen net soos Hy deur my gesê het Hy sou doen. Hy het die koningskap van jou weggeneem en dit vir iemand anders, vir Dawid, gegee.

18. Die Here doen dit omdat jy nie sy bevele oor die Amalekiete gehoorsaam het en hulle gestraf het nie. Dis hoekom die Here vandag so maak.

19. Trouens, die Here sal Israel saam met jou oorgee in die mag van die Filistyne sodat jy en jou seuns ook môre hier by my sal wees. Die Here sal toesien dat die Filistyne die hele leër van Israel verslaan.”

20. Saul het uitgestrek op die grond neergeval, lam van vrees oor die woorde van Samuel. Hy was ook flou van honger, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Toe die vrou sien hoe geweldig ontsteld hy is, sê sy: “My heer, ek het gedoen soos u gevra het en het my lewe gewaag om na u te luister.

22. Doen nou ook wat ek sê. Laat my iets vir u gee om te eet sodat u sterk kan word vir die terugreis.”

23. Maar Saul het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!” Die manne saam met hom het soos die vrou hom ook aangepor om te eet. Hy het uiteindelik toegegee en van die grond af opgestaan en op die rusbank gaan sit.

24. Die vrou het ’n vet kalf by haar huis gehad. Sy het dit geslag, deeg geknie en ongesuurde brood gebak.

25. Dit het sy vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog teruggegaan.