hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid wreek hom op die

Amalekiete

1. Drie dae later, toe Dawid en sy manne in Siklag aankom, ontdek hulle dat die Amalekiete ’n strooptog in die Suidland uitgevoer het. Hulle het ook Siklag verower en tot op die grond toe afgebrand.

2. Hulle het die vroue en almal in die stad, klein en groot, as gevangenes weggevoer sonder om iemand dood te maak.

3. Toe Dawid en sy manne die ruïnes sien en besef wat met hulle families gebeur het,

4. het hulle gehuil totdat hulle nie meer kon nie.

5. Dawid se twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer.

6. Dawid was nou in groot moeilikheid, want sy manne was verbitterd omdat hulle hulle vroue en kinders verloor het. Hulle het begin sê dat hulle Dawid met klippe moet doodgooi. Maar die Here sy God het aan Dawid krag gegee.

7. Hy sê toe vir Abjatar die priester: “Bring vir my die skouerkleed!” Abjatar het dit gedoen.

8. Toe vra Dawid vir die Here: “Moet ek hulle agternasit? Sal ek hulle inhaal?”En die Here het geantwoord: “Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en almal red.”

9. Dawid en sy 600 man het hulle toe agternagesit tot by die Besorspruit. Sommige het daar agtergebly.

10. 200 van sy manne wat te moeg was om deur die spruit te trek, het agtergebly. Met die oorblywende 400 man het Dawid die agtervolging voortgesit.

11. Op pad kom Dawid se manskappe af op ’n Egiptiese man in die veld en bring hom na Dawid toe. Hulle het vir hom kos en water gegee.

12. Hulle het vir hom ook ’n stuk vyekoek en twee trosse rosyntjies gegee, want hy het vir drie dae niks te eet of te drink gehad nie. Kort voor lank het hy sy kragte herwin.

13. “Wie is jy en waar kom jy vandaan?” vra Dawid hom.“Ek is ’n Egiptenaar,” antwoord hy, “die slaaf van ’n Amalekiet. My meester het my drie dae gelede agtergelaat omdat ek siek geword het.

14. Ons het strooptogte uitgevoer in die Suidland van die Kretense in die gebied van Juda en die Suidland van Kaleb. Ons het ook Siklag afgebrand.”

15. “Sal jy my na hierdie bende stropers toe lei?” vra Dawid.Die slaaf antwoord: “As u met ’n eed voor God belowe dat u my nie sal doodmaak of aan my meester sal teruggee nie, sal ek u na hulle toe lei.”

16. Die Egiptenaar het hulle toe na die kamp van die Amalekiete gelei. En kyk, toe hulle die bende inhaal, kry hulle die Amalekiete verspreid oor die veld! Hulle het geëet en gedrink en feesgevier met die groot buit wat hulle van die Filistyne en in Juda geroof het.

17. Dawid en sy manskappe het op hulle afgestorm en hulle vanaf skemeraand deur die nag tot die volgende oggend afgemaai. Behalwe 400 jong Amalekiete wat op hulle kamele gevlug het, het niemand ontkom nie.

18. Dawid het alles wat die Amalekiete geroof het, teruggekry. Hy het ook sy twee vroue gered.

19. Hulle het niks verloor nie; klein en groot, seun of dogter, en alles wat die Amalekiete geroof het, het Dawid teruggekry.

20. Hy het beslag gelê op al die kleinvee en beeste. Sy manskappe het dit voor hulle uit aangejaag en gesê: “Dit is Dawid se beloning!”

21. Toe hulle by die Besorspruit kom, het die 200 manskappe wat te moeg was om saam te trek, Dawid en sy mense ingewag. Dawid het toe gevra hoe dit met hulle gaan.

22. Maar al die moeilikheidmakers en twissoekers onder dié wat saam met Dawid was, het gesê: “Hulle het nie met ons saamgegaan nie. Daarom mag hulle niks van die buit kry nie. Gee net hulle vroue en kinders terug en laat hulle gaan.”

23. Maar Dawid sê: “Nee, my broers! Moenie selfsugtig wees oor dit wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons bewaar en die stroperbende in ons mag oorgegee.

24. Wie sal na so ’n voorstel luister? Nee, ons deel gelykop: dié wat die pakgoed opgepas het, kry net soveel as dié wat gaan veg het.”

25. Van toe af het dit ’n voorskrif vir Israel geword, tot vandag toe.

26. Toe hulle by Siklag aankom, stuur Dawid ’n deel van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, en sê: “Hier is ’n geskenk vir julle uit dit wat ons by die vyande van die Here buitgemaak het.”

27. Die geskenke is na die leiers van die volgende stede en dorpe gestuur: Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir,

28. Aroër, Sifmot, Estemoa,

29. Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete,

30. Gorma, Bor-Asan, Atak,

31. Hebron en oral waar Dawid en sy manskappe rondgetrek het.