hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jonatan se waaghalsige plan

1. Op ’n dag sê Saul se seun Jonatan vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos.” Jonatan het nie vir sy pa gesê wat hy gaan doen nie.

2. Intussen het Saul en sy 600 man kamp opgeslaan onder die granaatboom by die dorsvloer buite Gibea.

3. Saam met hom was ook Agija die priester wat die skouerkleed gedra het. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Agitub was die seun van Pinehas en die kleinseun van Eli, wat die priester vir die Here in Silo was.Niemand het agtergekom dat Jonatan weg was uit die kamp van die Israeliete nie.

4. Om by die Filistyne uit te kom, moes Jonatan teen ’n pas uit en tussen twee spits rotskranse deur. Die een rots is Boses genoem en die ander Senne.

5. Die krans aan die noordekant was teenoor Mikmas en die een aan die suidekant was teenoor Gibea.

6. “Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,” sê Jonatan vir sy wapendraer. “Dalk help die Here ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!”

7. “Doen wat u dink goed is,” sê die wapendraer. “Ek is hart en siel saam met u!”

8. “Goed dan,” sê Jonatan. “Ons sal oorgaan sodat hulle ons kan sien.

9. As hulle vir ons sê: ‘Bly waar julle is, of ons sal julle doodmaak,’ moet ons hier bly en nie na hulle toe gaan nie.

10. Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”

11. Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!”

12. Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!”Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die Here gee hulle oor in ons mag!”

13. Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak.

14. In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak.

15. Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het.

Israel verslaan die Filistyne

16. Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat.

17. “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie.

18. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra.

19. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!”

20. Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring.

21. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was.

22. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg.

23. So het die Here Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

Saul se dwase eed

24. Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie.

25. Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was.

26. Toe die manne in die bos kom, het dit gedrup van heuning, maar niemand het sy mond daaraan gesit nie weens die eed wat hulle opgelê is.

27. Maar Jonatan was nie bewus daarvan dat sy pa ’n eed afgelê het nie. Hy steek toe die punt van sy stok in die heuning en eet daarvan. Daarna het hy sterker gevoel.

28. Een van die manskappe het gesien wat hy doen en sê: “Jou pa het die manskappe ’n streng eed laat aflê dat elkeen wat vandag iets eet, vervloek sal wees. Dis hoekom almal moeg en flou voel.”

29. “My pa het dit vir die hele land moeilik gemaak!” sê Jonatan. “So ’n bevel skep net probleme vir ons almal. Ek het nou sommer baie meer energie noudat ek hierdie bietjie heuning geëet het!

30. As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!”

31. Hulle het die Filistyne die hele dag agtervolg en doodgemaak, van Mikmas af tot by Ajalon. Maar die manskappe het baie moeg geword.

32. Teen die aand het hulle op die buit toegeslaan en skape, beeste en kalwers geslag en dit geëet sonder dat hulle eers die bloed laat uitloop het.

33. Iemand sê toe vir Saul: “Kyk, die manskappe sondig teen die Here deur vleis te eet wat nog bloederig is.”“Dit is baie verkeerd,” sê Saul. “Kry ’n groot klip en rol dit tot hier.

34. Gaan sê dan vir die manskappe: ‘Bring elkeen sy slagding hierheen, grootvee of kleinvee, en slag hulle hier sodat die bloed kan uitloop. Moenie teen die Here sondig deur die vleis te eet terwyl die bloed nog daarin is nie.’” Toe het die manskappe die diere gebring en daar geslag.

35. Saul het daar ’n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste keer dat hy dit gedoen het.

36. Daarna sê Saul: “Laat ons die Filistyne die hele nag deur agtervolg en plunder, en elkeen van hulle van kant maak.”Sy manskappe antwoord hom: “Ons sal doen soos wat u goeddink.”Maar die priester sê: “Laat ons eers vir God vra.”

37. Saul vra toe vir God: “Moet ons die Filistyne agtervolg? Sal U ons help om hulle te verslaan?” Maar God het nie geantwoord nie.

38. Toe sê Saul vir die leiers: “Iets is verkeerd! Al die bevelvoerders moet hierheen kom. Ons moet vasstel watter sonde vandag gepleeg is.

39. Ek lê ’n eed af by die Naam van die Here wat Israel bevry het dat die skuldige sekerlik sal sterf, selfs as dit my eie seun Jonatan is!” Niemand het egter ’n woord geantwoord nie.

40. Toe sê Saul vir al die Israeliete: “Ek en Jonatan sal hier eenkant staan, en julle daar anderkant.” Die bevelvoerders het ingestem.

41. Saul het gebid: “O Here, God van Israel, gee tog duidelikheid.” Jonatan en Saul is deur die lot aangewys, maar die manskappe was onskuldig.

42. Saul sê toe: “Laat daar nou tussen my en my seun Jonatan geloot word.” Jonatan is aangewys.

43. “Sê my wat het jy gedoen?” vra Saul vir Jonatan.“Ek het ’n bietjie heuning wat aan die punt van my stok was, geproe,” antwoord Jonatan. “Hier is ek! Ek is bereid om te sterf.”

44. Saul sê vir hom: “Jy moet sekerlik sterf, Jonatan! Mag God met my afreken as jy nie doodgemaak word nie.”

45. Maar die manskappe het tussen-beide gekom en vir Saul gesê: “Moet Jonatan, die een wat Israel vandag verlos het, sterf? Dit mag nie gebeur nie! So waar as die Here leef, geen haar aan sy kop sal aangeraak word nie. God het hom gebruik om vandag hierdie groot verlossing te bewerk.” Op dié manier het die manskappe vir Jonatan in die bres getree sodat hy nie doodgemaak is nie.

46. Saul het daarop die agtervolging van die Filistyne gestaak en die Filistyne het teruggegaan huis toe.

Saul se militêre suksesse

47. Nadat Saul homself as koning gevestig het, het hy teen sy vyande aan alle kante geveg. Dit was Moab, Ammon, Edom, die konings van Soba en die Filistyne. Hy was oral suksesvol.

48. Hy was baie dapper en het die Amalekiete verslaan. Hy het Israel bevry uit die houvas van hulle plunderaars.

Saul se familie

49. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Sy oudste dogter was Merab en die jonger een was Mikal.

50. Saul se vrou was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die bevelvoerder van die leër was Abner, seun van Ner, ’n oom van Saul.

51. Saul se pa, Kis, en Abner se pa, Ner, was broers, seuns van Abiël.

52. Tydens Saul se bewind was daar voortdurend oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne. Wanneer Saul ’n dapper en sterk jong man sien, het hy hom in sy leër opgeneem.