hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die ark gaan na Kirjat-Jearim

1. Die inwoners van Kirjat-Jearim het toe gekom om die ark van die Here weg te neem. Hulle het dit na die huis van Abinadab wat op ’n heuwel gestaan het, gebring. Hulle het ook sy seun Eleaser aangestel om daarna om te sien.

2. Die ark het vir ’n lang tyd, vir twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Die hele Israel het by die Here begin kla oor hulle lot.

Samuel lei Israel tot oorwinning

3. Toe sê Samuel vir die hele volk Israel: “As julle regtig ernstig is om na die Here terug te keer, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en die beelde van Astarte. As julle besluit om net die Here te dien, sal Hy julle red van die Filistynse onderdrukking.”

4. Die Israeliete het toe die beelde van Baäl en Astarte verwyder en net die Here gedien.

5. Toe sê Samuel vir hulle: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom. Dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6. Hulle het toe daar bymekaargekom. Hulle het water uit ’n put opgetrek en dit voor die Here uitgegooi. Hulle het ook vir ’n dag lank gevas. “Ons het teen die Here gesondig,” het hulle bely. By Mispa het Samuel as rigter in Israel begin optree.

7. Toe die Filistynse heersers hoor dat die hele Israel by Mispa bymekaargekom het, het hulle teen Israel opgetrek. Die Israeliete was baie bang vir die Filistyne.

8. “Bid tog ernstig by die Here ons God om ons van die Filistyne te verlos!” smeek hulle vir Samuel.

9. Samuel neem toe ’n lam, offer dit as ’n brandoffer vir die Here en pleit dat die Here Israel teen die Filistyne sal help. En die Here het sy gebed verhoor.

10. Terwyl Samuel nog besig was om te offer, kom die Filistyne daar aan om teen Israel te veg. Maar die Here het ’n groot donderstorm laat losbars. Dit het die Filistyne verwar sodat Israel hulle verslaan het.

11. Die Israeliete het hulle agtervolg van Mispa af en hulle tot by Bet-Kar afgemaai.

12. Samuel neem toe ’n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem dit toe Eben-Haeser, want het hy gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

13. Die Filistyne is verslaan en het Israel vir ’n lang tyd nie weer binnegeval nie. Solank Samuel gelewe het, het die Here Israel teen hulle beskerm.

14. Israel het die dorpe wat die Filistyne voorheen beset het vanaf Ekron tot by Gat herower. Israel het ook die grensgebiede bevry van die Filistynse oorheersing. In daardie tyd was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.

15. Samuel was rigter in Israel vir die res van sy lewe.

16. Hy het elke jaar rondgegaan, eers by Bet-El, dan by Gilgal en daarna by Mispa, waar hy geskille aangehoor het.

17. Daarna het hy teruggekeer na Rama toe waar hy gewoon het en daar ook as regter opgetree. Samuel het in Rama ’n altaar vir die Here gebou.