hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Samuel praat weer met die volk

1. Samuel het weer met die hele Israel gepraat en gesê: “Ek het gedoen wat julle gevra het en vir julle ’n koning gegee.

2. Van nou af sal hierdie koning julle lei. Ek het oud en grys geword en my seuns is by julle. Ek het julle van jongs af tot nou toe gelei.

3. Sê nou hier voor die Here en sy gesalfde: By wie het ek ’n os of ’n donkie gevat? Het ek enigeen van julle ooit bedrieg? Vir wie het ek verdruk? Van wie het ek ooit omkoopgeld ontvang? Sê my, en ek sal wat ek ook al verkeerd gedoen het, vergoed.”

4. “Nee!” antwoord hulle. “U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie. U het ook nooit omkoopgeld aanvaar nie.”

5. “Die Here en sy gesalfde is my getuie dat ek niks verkeerds teen julle gedoen het nie,” sê Samuel.“Ja, Hy is getuie,” antwoord hulle.

6. Verder sê Samuel: “Dit is die Here wat Moses en Aäron aangestel het en ons voorouers uit Egipte gebring het.

7. Staan nou hier voor die Here terwyl ek julle herinner aan al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorvaders gedoen het.

8. “Toe Jakob in Egipte tot die Here geroep het, het Hy Moses en Aäron gestuur om hulle uit Egipte na hierdie land te bring.

9. Maar die volk het spoedig die Here hulle God vergeet. Daarom het Hy toegelaat dat Sisera, die bevelvoerder van Hasor se leër, die Filistyne en die koning van Moab julle onderwerp.

10. “Toe het hulle weer tot die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig deur weg te draai van die Here af en die beelde van Baäl en Astarte te vereer. Maar red ons tog nou van ons vyande, en ons sal U dien.’

11. Daarop stuur die Here vir Gideon, Barak, Jefta en Simson om julle te bevry sodat julle in veiligheid kon lewe.

12. “Maar toe julle vir Nagas, koning van Ammon, bang was, het julle na my toe gekom en gesê julle wil ’n koning hê om oor julle te heers alhoewel die Here julle God reeds julle koning was.

13. Nou goed, hier is die koning wat julle gekies het. Kyk, julle het vir hom gevra, en die Here het julle versoek toegestaan.

14. “As julle nou die Here dien, aanbid en na Hom luister; en as julle nie teen die Here se voorskrifte in opstand kom nie; as julle en julle koning die Here julle God navolg, dan sal alles met julle goed gaan.

15. Maar as julle teen die bevele van die Here in opstand kom en weier om Hom gehoorsaam te wees, dan sal die Here teen julle draai soos destyds met julle voorouers.

16. “Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die Here gaan laat gebeur.

17. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die Here vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die Here ’n koning te vra!”

18. Toe roep Samuel die Here aan en die Here het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die Here en vir Samuel.

19. “Bid tog tot die Here u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.”

20. “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die Here met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie.

21. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos!

22. Ter wille van sy grote Naam sal die Here nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.

23. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is.

24. Maar dien die Here in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het.

25. Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”